Saturday 19 March 2022

150 genadejare: Dutoitspan vanaf 1974 tot 2016 in 'n neutedop (Deel 2)


Na die vertrek van ds. De Wet in 1985 het ds. Van Wyk van Blackingstraat 55 na die pastorie in Connollyplek 13 getrek. In ds. Nico se eie woorde: "Dutoitspan was werklik 'n wonderlike gemeente om ons bediening te kon begin."

Intussen het 'n ander weermagkapelaan, prop. Coreejes, in die gemeente uitgehelp. Na ds. Van Wyk die beroep as medeleraar na die gemeente Hoogland in Port Elizabeth gekry en aanvaar het, is prop. LM Coreejes na Dutoitspan-gemeente beroep. Hy is in Desember 1987 met handoplegging bevestig.

Die veranderings aan die kerkgebou en-saal (soos dit vandag daar uitsien), was deel van ds. Coreejes se handewerk. Die kerkraad het besluit om die huis oorkant die kerk te koop. Dit was waar "Ons Huis", die tehuis vir bejaardes, begin het ... oorkant die kerk. 'n Baie goeie ligging vir die inwoners wat binne stapafstand van die kerk, winkel, poskantoor en biblioteek gebly het. Hulle skuif na Ariadnesingel was nodig, omdat die behoefte na huisvesting vir ouer mense al groter geword het. Op daardie stadium was die groot huis 'n losieshuis - verwaarloos en 'n seeroog reg oorkant die kerk. Hierdie huis met sy baie vertrekke, het dit maklik gemaak om dit as Sondagskoollokale in te rig. Daar is besluit om 'n galery aan die sykant van die kerk aan te bring in 'n poging om meer sitplek in die kerk te kry. Die kerk was stampvol tydens die eredienste en die enigste uitbreidingsmoontlikheid was opwaarts.

Die nuwe galery is gebou en met ysterbalke versterk wat die kerk aangekoop het van 'n ou sportpawiljoen wat afgebreek is. Die nuwe galery is spoedig gevolg deur 'n tweede sygalery.

Bywoningsgetalle het later getaan. Vir 'n standhoudende finansiële inspuiting, het ds. Coreejes en die kerkraad besluit om die kategeselokale te sloop en liewer vier meenthuise op te rig en die kategeselokale terug te skuif saal toe. Nuwe lokale is aan die agterkant van die saal ingerig.

In die verlede is alle geestelike sake in die pastorie se studeerkamer gedoen. Daar is besluit om kantore vir die predikante en die skriba/kassier by die saal in te rig. Die saal se aantrekkamers en 'n deel van die stoep is in kantore omskep. 'n Sinvolle en welkome skuif.

Daardie jare is die kerkraadsafsluiting by ouderling Jan Jacobs se plaas, op die Boshof-pad, gehou - gesellige afsluitings.   

Proponent André Lötter is op Sondag 17 Desember 1988 met handoplegging bevestig.

Dit was sy missie om die woord van God duidelik aan die gemeente te bring. 'n Beroep na Reddersburg wat hy aanvaar het, het 'n einde aan sy werksaamhede gebring. Hy was 'n Dutoitspanner tot September 1992.

Ds. Coreejes het weer alleen gewerk totdat prop. SJ van der Walt kom uithelp het. Dit was ongeveer November 1992. In November 1995 het ds. Coreejes die beroep na Vryburg aanvaar en die kerkraad beroep toe vir prop. Van der Walt wat vanaf 21 Januarie 1996 as volwaardige predikant met sy werksaamhede begin het.

Ds. Van der Walt het van tuinmaak gehou en hy het graag in sy groentetuin aan die agterkant van die pastorie gewerk. Gemeentelede het in die vars organiese groente gedeel wat mildelik hulle weg na kombuise gekry het.

Hy was ook 'n kranige fietsryer en het gereeld geoefen. Een dag tydens 'n oefensessie op die Barkly-Wes-pad, is hy deur twee mans aangeval en beroof op sy pad terug Kimberley toe. Uiteraard was hy baie benoud en al wat hy kon doen was bid. Die Here het vir hom Ps. 31 vers 15 gegee, wat hy dan ook daardie Sondag as teksvers in sy preek gebruik het. Toe hy 'n beroep na Port Shepstone toe gekry het, was sy teksvers vir sy preekbeurt ook Ps. 31:15, waar hy getuig het van die wonderwerk. Hy is in April 1999 in Port Shepstone bevestig.

[Word vervolg]

Lees deel 1 HIER