Sunday, 28 December 2025

Mossieboodskap: "Voordat hulle roep"

 
In die lente van 1875 het Hudson Taylor, die geliefde stigter van die "China Inland Mission" na Londen teruggekeer, nadat hy 'n reeks dienste op Brighton bygewoon het. Terwyl hy vir sy trein op die stasie wag, het 'n Russiese edelman wat ook dieselfde dienste bygewoon het, hom genader. Toe hy verneem dat mnr. Taylor Londen toe gaan, het hy voorgestel dat hulle saamreis in dieselfde kompartement.
"Maar ek reis derdeklas," het die sendeling gesê.
"My kaartjie laat my ook toe om derdeklas te ry," het die edelman beleefd geantwoord.

Toe die trein aankom, het hulle hul sitplekke ingeneem en saam verder gereis. Na 'n rukkie het Graaf Bobrinsky sy sakboek uitgehaal met die woorde: "Laat my toe om jou 'n klein bedraggie te skenk tot ondersteuning van jou werk in China."

Mnr. Taylor het na die banknoot gekyk wat aan hom oorhandig is, en gevoel dat daar seker 'n fout moet wees - dit was nie minder as eenhonderd pond nie! (Dit was baie geld in daardie dae. Seker minstens tien keer die waarde van vandag se geld.)

"Het u bedoel om my tien pond te gee?" het Mnr. Taylor dadelik gevra, en toe bygevoeg: "U het seker 'n fout gemaak. Hierdie noot is eenhonderd pond. Neem dit asseblief terug."

"Ek kan dit nie terugneem nie," het die edelman geantwoord, net so verbaas soos die ander. "Ek wou jou tien pond gee, maar God het seker bedoel dat jy eenhonderd pond moes kry. Ek kan dit nie terugneem nie."

Diep beïndruk deur die voorval, het Mnr. Taylor sy bestemming bereik. Toe hy by sy hoofkwatiere in Londen aankom, was daar 'n biduur aan die gang. 'n Sekere som geld moes onverwyld na China toe gestuur word, en daar was nege en negentig pond en tien sjielings kort op die benodigde bedrag. Dit het diegene wat daarvan geweet het na hul knieë gedryf om hulle behoefte in gebed aan God bekend te maak. Nege en negentig pond en tien sjielings is in geloof aangevra en daar op die kantoortafel het Mnr. Taylor sy kosbare banknoot ter waarde van eenhonderd pond neergesit - die antwoord op hulle gebed. 

Lees gerus meer oor Hudson Taylor HIER en HIER!

[Die Spoorwegbode, Februarie 1986]