Tuesday, 16 December 2025

Bybelskool raak kinderharte

Kinders van Dutoitspan-gemeente en van oral oor Kimberley het vanaf 1 tot 5 Desember aktief deelgeneem aan die Bybelskool wat deur Dutoitspan aangebied is. Aan stuur van sake was ds. Ensie en sy vrou, Annatjie, wat nie net 'n passie vir God se Woord het nie, maar ook vir kinders. 

'n Entoesiastiese groep van 64 kinders is gedurende die week geleer hoe om die Evangelie aan ander te vertel met behulp van die kleure van die SA vlag.

Die groepleiers was hoërskooltieners en 4 volwassenes (betrokke by 'n nasorgsentrum en 'n kinderhuis) en ds. Enslin het die speletjies aangebied. Die kinders het 'n vol program gehad, en hulle het met oorgawe deelgeneem. 

Elke dag is een van die kleure van die vlag behandel en het al die aktiwiteite van die dag gedraai om die spesifieke kleur, insluitend die Bybelverhaal, die Bybelteksvers, liedjie, skriftelike werk soos blokraaisels en woordsoek, die verskillende speletjies, handwerkaktiwiteit en selfs die verversings!

1.  Goud/geel laat dink ons aan n kroon van ‘n koning. God is ons Koning, Skepper en Onderhouer. Hy is Heilig en baie lief vir ons, daarom wil Hy graag hê dat almal van ons saam met Hom in die hemel sal wees. (Ons verversings was geel kaaskrulle.)

2.  Swart/donker kleur laat dink ons aan die sondeval en die feit dat ons, as gevolg van ons sonde, nie in die hemel kan kom nie.


3.  Rooi – NET die bloed van Jesus kan ons skoonmaak van die sonde, sodat ons saam met God in die hemel kan wees.


4.  Wit – deur Jesus se sterwe aan die kruis is ons heeltemaal skoon gewas en God stuur die Heilige Gees om ons te help


5. Groen – wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar het, moet ons soos ‘n lewende plant bly groei deur: Geloof, gebed en Bybel lees; Gemeenskap met die heiliges (kerk toe gaan); Gee, Gaan, Getuig.

Met behulp van verskeie Kimberley-inwoners, is meer as 600 blare gedroog en gepars vir hierdie aktiwiteit!

6. Blou – Jesus het opgevaar hemel toe en sal weer daarvandaan terugkom om ons te kom haal

Ons moet gereed wees as Hy weer kom. 

Ons maak bottels van “orbeez” van al 6 kleure en gaan hierdie bottels gebruik om vir ander te vertel.

Dit is ons gebed dat elke kind wat die Bybelskool bygewoon het, die Goeie Nuus van Jesus wat hulle gehoor het, sal deel met hulle maats wat nie die geleentheid gehad het om die Bybelskool by te woon nie. 

Dat hulle soos Koning Salomo in 1 Konings 8:23 sal sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ’n God soos U nie.”

Maats, geniet julle vakansie, mag julle Kersfees geseënd wees en onthou die ware rede wat agter al die Kersfeesliggies, vrolikheid en geskenke is.   

Mag 2026 vir elkeen van julle 'n vlag-jaar wees!