Monday, 8 December 2025

Gebed: Dankie dat ons erfgename mag wees

Here, God van liefde, ons kom na U in die Naam van Jesus van Nasaret ons Verlosser en Saligmaker. Dankie dat U die Koning van die Konings is wat tot in ewigheid regeer. Dankie dat ons U erfgename mag wees. Ja, Here, Prinse en Prinsesse van U koninkryk.
Here, ons moet bely dat ons nie altyd so na aan U is as wat U ons wil hê nie. Ons laat toe dat dinge skeiding tussen U en ons bring en vergeet om dit vir U te gee en by U te los.
Leer ons om stil en kalm te wees, om U te vertrou. U woord leer ons in Eksodus 14 v 14 dat ons moet stil wees en kalm bly, want U veg self vir ons.
Here, vergewe ons wanneer ons te midde van ‘n chaotiese wêreld sommer net pad vat sonder om U te raadpleeg.
Skryf U Woord op ons harte en lê dit in ons gedagtes vas. Laat ons in U voetspore volg, en laat ons nooit vergeet dat U die Een is wat vir ons paaie gelyk maak en brons poorte oopbreek nie. Amen