Hierdie staaltjie het baie baie jare terug by die Kaapse stasie afgespeel. In die dae van ponde, sjielings en pennies ...
Koos stap oudergewoonte deur die Kaapstadse stasie, toe hy 'n nuwe masjien sien wat jou weeg en met jou praat. (KI was nog nie eens 'n gedagte nie.)
Hy klim op die skaal en sit sy sjieling in. Die masjien sê toe: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, 'n snor, jy dra 'n grys pak, werk by Sanlam en haal elke middag die 5:15 na Plumstead.
Koos kon sy ore nie glo nie. Hy gooi weer 'n sjieling in en kry presies dieselfde antwoord.
Hy sien die haarkapper op die stasie is nog oop, spring gou by die deur in en laat sy hare knip en sy snor sommer heeltemal afsny. Hy het soos die toeval dit wil hê, ook daardie middag 'n nuwe pak klere vir die werk gekoop. Hy gaan kleedkamer toe en trek dit aan.
Hy gaan klim vol verwagting weer op die skaal, waarop die masjien antwoord: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, dra 'n bruin pak, werk by Sanlam en terwyl jy hier rondgespeel het, het jy die 5:15 na Plumstead verpas.