Sunday 15 October 2017

Gemeentestaaltjies: Prokureur Henry van der Waal

Prokureur Henry van der Waal was 'n bekende prokureur in Kimberley. Hy en sy vrou het in Cassandra in 'n baie groot huis met die naam "Ruimte" gebly. Hy was op die kerkraad van Dutoitspan en het die gemeente met raad en daad bygestaan. Nooit het hy 'n sent vir sy regsadvies gevra nie en het dit as deel van sy gemeenskapswerk beskou. Alhoewel die term "gemeenskapswerk" nie in daardie tyd so 'n algemene term soos vandag is nie, het hy en sy vrou so in die agtergrond 'n klomp werk gedoen. Sy vrou, Trudie, was 'n maatskaplike werkster, wat orals baie bemind en geliefd was. Sy is in 'n motorongeluk dood op die pad tussen Griekwastad en Kimberley. Hy is later weer getroud en die tweede mev. Van der Waal was weer aktief betrokke by die ouetehuis, "Ons Huis", wat ook binne die grense van die gemeente val.

Hy het 'n groot rol gespeel in die aankoop van die destydse ouetehuis, wat regoor die kerk was en het die oordragkoste gedra. Vandag staan daar vier meenthuise op die grond, nadat die ouetehuis na Ariadnelaan geskuif het.

Toe die gemeente 'n tweede pastorie aangkoop het, (in Blackingstraat) het hy ook hierdie kooptransaksie en die oordragkoste hanteer.

Vandag is "Ruimte" sy nalatenskap aan Kimberley. Hy het dit geskenk met die doel dat dit omskep word in 'n tehuis vir volwasse gestremde mense. Sally Aucamp (die huidige naam) is afhanklik van skenkings en borge van die publiek.

Prokureur Henry van der Waal het diep spore in Kimberley getrap en na al die jare het die naam van is sy praktyk dieselfde gebly, al het dit van eienaar verander...