Hy het gedroom van vrede. Hy het gedroom dat mense weer sal besef dat hulle één groot familie is, ongeag geslag, ras, klas, taal, seksualiteit, ouderdom of geloofsoortuigings.
’n Wêreld wat vrede, liefde en harmonie ken. Dieselfde droom wat ons hier in Afrika ken as Ubuntu (ek is omdat jy is).
Is dit ’n onrealistiese of naïewe droom? Baie sal sê ja, maar is dit nie juis die onmoontlike drome wat deur die eeue die mensdom se verbeelding aangegryp en geïnspireer het tot groot onselfsugtige dade nie?
Is dit nie die dromers wat mense gehelp het om verby hul beperkte idees en vrese te beweeg nie? Is dit nie die droom wat aan die hart van menslike grootsheid lê nie?
Is dit regtig so onmoontlik dat ons as mense in vrede kan saamleef? Dat ons mekaar en ander lewe op dié een planeet met respek kan hanteer … is dit idealisties?
Hoekom voel dit dan nie laf nie? Dit is vir seker ’n groot droom – eintlik dié groot droom!
Kom ons hou aan droom oor vrede en verdryf met dié droom alle haat, selfsug en wanhoop wat ons in ons dra. Kom ons word die dromers wat die droom weer lewend maak in ’n tyd waar dit so nodig geword het.
Steek ’n kers aan as teken dat die droom in jou hart leef. ’n Simbool van lig wat binne ons aangaan.
Dalk is dit vir nou net een kersie, maar soos ons tog weet, een kers se vlammetjie kan ’n ander kers aansteek en ’n ander en ’n ander.
En voor ons oë word die donker verdryf en die wêreld verlig.
Is dit nie die eintlike betekenis van dié tyd nie?
’n Feestyd waar ons die koms van vrede vir almal vier nie? ’n Verligtingsfees ... ’n Liefdesfees ... ’n Vredesfees.
[Hierdie stukkie van dr. A Pienaar is nog net so relevant soos 23-12-2012 toe dit in die Beeld verskyn het.)