Vadersdag

Terug na HOME PAGE
















































Die waarde van 'n pa

Dis niks om ʼn MAN te wees nie, maar om ʼn goeie PA te wees, is nie so eenvoudig nie. In elke ontwikkelingsfase van jou kind se lewe is daar belangrike dinge wat ʼn pa moet weet en toepas om sy kind optimaal te begelei.

Daar is bitter min opleidingsgeleenthede vir mans om effektiewe pa’s te wees. Baie mans het nie eers die beste rolmodel gehad om by te leer nie! Sonder dat die gemeenskap dit weet het afwesige pa’s (en dit sluit pa’s in wat by die huis is, maar te besig is om aan hul kinders aandag te gee), die grootste probleem geword wat bydra tot disfunksionele kinders.

Kyk na die volgende statistiek (navorsing is in 21 lande wêreldwyd gedoen):

# 63% van selfmoorde kom van huise met afwesige pa’s

# 70% van jeugdiges in institusionele inrigtings wat deur die staat bestuur word, kom uit huise met afwesige pa’s.

# 85% van kinders met gedragsprobleme kom van huise met afwesige pa’s.

# 71% van kinders wat nie hul skoolloopbaan voltooi nie, kom van huise met afwesige pa’s

Hierdie skokkende feite dwing jou om jouself te vra: "Is ek die PA in die huis wat God bedoel het ek moet wees?"





















Pa’s is wonderlike goed.

Hulle moet sterk wees om al die monsters wat ons bedreig te kan afweer. Goggas wat kan byt en spoke wat snags loop en ons bang maak, moet hulle verwilder. Hulle moet antwoorde op al die lewensvrae verskaf en sommer ook die trane afdroog as die ding wat ons in ons domheid aangepak het ‘n mislukking is. Aan die anderkant moet hy ook die verwyte aanhoor as die raad wat hy gegee het nie uitwerk soos wat hy voorspel het nie. Pa’s is so vanselfsprekend daar dat mens nooit in jou wildste drome daaraan dink dat hy op ‘n dag nie meer daar sal wees om jou kastaiings uit die vuur uit te krap nie.

My pa was my held en in my oë kon hy niks verkeerd doen nie. Toe ek trou wou ek ook so graag iemand hê wat in my pa se voetspore kon trap. My man was nou nie heeltemal ‘n “carbon copy” van my pa nie. Ons het maar lekker vasgesit oor my vrese en onsekerhede. Hy was uit ‘n ander agtergrond en het nie altyd saamgestem met dit waarmee ek groot geword het nie. Maar hy was ‘n raakvatter, terwyl ek ‘n dromer was.

Vir sy kinders was hy altyd daar, miskien ‘n bietjie oorbeskermend. Hy het altyd gesê, “As hulle ‘n boom klim, moet ek daar wees om hulle te vang as hulle sou val.” die kinders kon hom dag of nag bel met hulle probleme en hy was daar om hulle te help. Al het die kinders ouer en ook pa’s van hulle eie kroos geword, was hy steeds die persoon wat hulle sou nader met ‘n probleem en vir wie hulle raad gevra het met iets wat hulle nie kon reg kry nie.

My pa is nie meer daar vir wie ek vandag ‘n spesiale dankie kan sê nie, maar in my gedagtes is hy steeds by ons.

Vir my seuns en skoonseun wat eintlik ook my seun is wil ek sê, “Kinders, ons bid julle sterkte toe en die mooiste wense vorentoe. Party van julle is ook al oupas. Ek hoop God spaar julle vir julle gesinne sodat hulle die voorreg sal hê om julle as mense te kan geniet.”

Ek hoop julle pa’s is vir julle net so besonders. Gee hulle die eer wat hulle toekom terwyl julle nog die voorreg het om hulle by julle te hê. Die leemte wat daar is wanneer julle nie meer na hulle kan gaan met julle eie spoke en gedagtes nie, kan niemand vervang nie. Maak maar vir hom daardie spesiale dis waarvan hy hou of gee hom ‘n ekstra drukkie om te wys dat jy hom waardeer.

Bowenal, geniet julle vadersdag.

****
Geen mens is net goed of net sleg nie. Ek het 'n beter mens geword, na my pa se dood.
(Anoniem)


                                                                                            ****