Agtergrond van die gemeente

Terug na HOME PAGE


Die NG gemeente Dutoitspan is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Kimberley, hoewel die gemeente wat die latere stad se naam dra en vroeër Vooruitzicht geheet het, NG gemeente Kimberley, eerste 'n eie leraar beroep en bevestig het. Die twee gemeentes is kort na mekaar in 1872 gestig.

As gevolg van die proklamasie van sir Henry Barkly in 1871 het die diamantvelde binne 'n grondgebied geval wat nie deur die NG Kerk van die Kaap of Vrystaat gedek is nie. Die Vrye Gemeentes van Dutoitspan en Vooruitzicht kon dus nie deur een of ander Ring van die genoemde Kerke "afgestig" word, soos die gebruik was, nie.

Die Kaapse Sinode het egter tydens sy sitting in 1870, met dr. Philip Eduard Faure van die NG gemeente Wynberg as moderator, die noodsaaklikheid van die geestelike bearbeiding van die delwers besef en besluit om 'n afgevaardigde na die diamantveld te stuur. Die keuse het geval op ds. G.W. Stegmann sr. en op 16 Februarie 1871 vertrek hy na Dutoitspan.

In Julie 1871 het 'n vergadering van die lidmate van die NG Kerk op Dutoitspan byeengekom om die eerste kerktent-komitee te kies. Op 10 April 1872 is 'n versoek voor die Ring n Fauresmith gelê om te vra dat die gemeentes van Dutoitspan en New Rush (Kimberley) gestig moet word.

Dutoitspan was die eerste werkkring van die NG Kerk hier en is die oudste gemeente van die Kerk op die diamantveld. Die plaaslike ring het lank die naam Dutoitspan gedra, waarna Kimberley 'n afsonderlike ring geword het, net om eindelik met Dutoitspan saam te smelt onder die naam Ring van Kimberley toe daar te min gemeentes oorgebly het om twee ringe te regverdig. Dit was nadat die gemeentes Kimberley-Noord, -Suid en -Militêr in 1999 as Kimberley-Harmonie saamgesmelt het.

[Lees verder op Wikipedia oor die kerk se geskiedenis]


[Nog interessante inligting: http://www.noordkaapland.co.za/dutoitspan/]