Die storie begin so.
Daar is 'n monument vir die gogga "Boll weevil" (Anthonomus grandis) opgerig wat oorspronklik van Mexiko is, maar in die 1890’s sy eerste verskyning in Amerika
gemaak het. Teen 1910 het dit begin om die katoenlande van Alabama te besmet en die kaktoenoeste is deur die gogga afgevreet. Die pes het in enkele jare so 'n afmeting aangeneem dat dit onmoontlik was om langer met katoen te boer.
Daar
was ook ‘n wêreldwye ressessie en die Eerste Wêreldoorlog het nadergekruip. Die
katoenboere van Alabama was op hul knieë. Waarheen nou? Iemand het toe begin om
grondboontjies te plant. Dit het gewerk. Meer boere het dit geplant en dit het
gewerk. In enkele jare het grondboontjies die katoenlande ingeneem. Die mooi
van die storie is dat die grondboontjies 'n baie groter winsgrens ingebring het
as die katoen. In so ‘n mate dat mense begin ryk word het uit grondboontjies en grondboontjie-baronne
geword het. Oud-president Jimmy Carter, is ‘n voorbeeld van ‘n grondboontjieboer.
Die hele Alabama se aangesig het verander. Van ‘n arm staat het Alabama
verander in 'n welgestelde staat in die
VSA.
En dit het alles begin met 'n gogga! Die mense van Alabama
was so dankbaar vir die klein pes van ‘n gogga, dat hulle vir hom 'n monument
opgerig het in die dorp Enterprise in Alabahama in 1919. Die gogga word deur ‘n
vrou in die lug gehou as teken van die welvaart wat die klein pes gebring het.
Dit het inderdaad ekonomiese vryheid gebring het vir tienduisende mense. Die
onderskrif op die monument is as volg:
“In profound appreciation of the Boll Weevil and what it has
done as the herald of prosperity this monument was erected by the citizens of
Enterprise, Coffee County, Alabama.”[2]
In ons elkeen se lewe is daar ook “goggas”, klein peste wat
ons lewensvreugde steel en ons lewensin bedreig. Teenspoed tref ons elkeen op
‘n manier en dit lyk of ons hele lewe in duie stort. Soms word ons getroef met
lewensbedreigende situasies. Die Heidelbergse Kategismus, wat bekend is in die
Gereformeerde kerklike tradisie bely egter so pragtig in Sondag 2, dat God
alles, maar alles – die goeie en die slegte – laat meewerk tot ons beswil. Ja,
dat God die kwade verander in die goeie. Die slegste wat my kan oorkom, kan God
gebruik tot my uiterste beswil.
Onmiddellik dink ‘n mens aan Josef in die Bybel. Wat het die
arme man nie alles oorgekom nie? Sy broers wou hom doodmaak, het hom as 'n
slaaf verkoop, vals beskuldig deur die verleidelike vrou van Potifar en onskuldig
in die tronk. Toe vergeet sy vriend die skinker hom in die tronk en uiteindelik
eindig hy aan die regterhand van die Farao, om die destydse bekende wêreld van
‘n 7-jarige droogte te red. Sy pa en sy broers
kom soek hulp by hom en hy red die nageslag van Abraham, waaruit die
Christus gebore sou word om as die Seun van God, die wêreld van hul sonde te
red.
Hoe mooi stel Josef dit nie in Gen 49: 20: "Julle wou my
kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk
nou in die lewe gebly het."
Miskien moet ons meer dankbaar wees vir die goggas en die
peste en die teenspoed wat ons tref.
Dikwels word dit ons voorspoed ! Dit leer ons om uit ons
gemaksones te dink en nuwe moontlikhede van groei te ontdek. In moeilike tye
word ons gedwing om te besin oor ons lewe en dit dwing ons om nuwe deure vir
die toekoms oop te sluit.
(Geleen: Ds. P Odendaal, leraar van die NG Kerk Adelaide)