Thursday, 2 April 2026

Dink hieroor: Hoe weet jy iemand het vir God gekies?

Daar is die welbekende verhaal van 'n baie berugte rower wat niks en niemand ontsien het nie. Sy landgenote se grootste vrees was dat hulle paaie met syne sou kruis. 
  
Eendag het die berugte rower sleg tweede in 'n skermutseling gekom en is vir dood langs die pad gelos. Iemand het dié man met ernstige beserings na 'n nabygeleë sendinghospitaal geneem. Na weke van uitstekende behandeling en liefdevolle sorg, het die rower van sy beserings herstel en is hy ontslaan.  

Die rower het besef dat Christene sy lewe gered het en hom met liefde versorg het, ten spyte van sy lewenswyse. Hy onderneem om nooit weer ’n Christen te beroof nie. Dit is sy manier om sy dankbaarheid teenoor hulle te bewys. Die woord het egter vinnig versprei en elke keer as hy iemand wou beroof, het die persoon dadelik gesê: “Ek is ’n Christen!” 

Sy dankbaarheidsgebaar word baie vinnig 'n hindernis in sy beroep en hy besef dat hy 'n manier moet kry om Christene en nie-Christene van mekaar te onderskei. 

Die rower gaan toe terug na die sendinghospitaal en vra vir een van die verpleegsters hoe 'n mens vinnig kan toets of iemand ’n Christen is.

Die verpleegster se raad: "Christene behoort die 10 gebooie en die Onse Vader te ken."  

Hierdie toets het soos musiek in sy ore geklink. Uiteindelik 'n manier om die skape van die bokke te skei. Van toe af het hy sy potensiële slagoffers gevra om die 10 gebooie en die Onse Vader-gebed op te sê! As hulle dit nie kon regkry nie, het hy hulle beroof. Sy probleem voorlopig opgelos.

Die rowertoets: As die rower jou vandag iewers sou raakloop, sou hy jou laat gaan het of sou hy jou beroof het? 

Onthou: Die rowertoets is nie 'n toets of iemand vir God gekies het nie. 'n Gelowige herken jy aan sy leefwyse! Hy leef dankbaar, al gaan dit nie goed nie.

[1 Tessalonisense 5:18, Job 2:10]

Wednesday, 1 April 2026

Afkondiging: Besoek Sally Aucamp

Mossiestilte: I Johannes 4:16

*53 En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.
OOK
*83 En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Geluk is om opregte geloof in GOD te hê.
Geluk is ook om te weet dat GOD ons onvoorwaardelik lief het.
Geluk is om opregte diens aan ons medemens te gee.
Geluk is om SY liefde te kan deel met ander wat GOD se liefde so nodig het.

Vader, dankie vir seën en liefde uit U wonderkrag. Seën asseblief hulle wat U aanroep in hierdie onbekende dag met U liefde, krag en genade. Dankie dat U ons nooit verlaat nie, maar tog met U liefdeshand só sorgvuldig vertroetel en beskerm. Amen

[* Bybelvertaling]