Monday, 5 January 2026

Wat is op my beplanningslysie vir 2026

Ja, die rustyd, die saamkuier met jou dierbares, familie, vriende, ooreet, ure langs die strand stap of sommer in 'n skaduhoekie in jou tuin sit en boeklees, ens. is verby en die nuwe jaar het met spoed begin.

Wat gaan ek en jy in die nuwe jaar doen? 
Gaan ons betrokke raak in ons gemeente of gemeenskap? (Leer, leef en dien). 
Gaan ons 'n verskil maak in ons gemeenskap? (Leer, leef en dien). 
Die belangrikste is egter of ek genoeg tyd aan my geliefdes gaan afstaan, sodat ek 'n verskil aan hulle lewens kan maak. 

Hierdie is vrae - wat net ek en jy vir onsself kan antwoord.

Ons uitgangspunt vir hierdie jaar behoort te wees: leer, leef en dien met liefde.

'n Mooi 2026 vir elkeen.

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie

(’n Ou Fransiskaanse seën)

Sunday, 4 January 2026

Mossiestilte: Joh. 11:25 & 26

Jesus antwoord vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Jesus het vir jou sondes gesterwe en vir jou die ewige lewe gegee.
Jy sal nooit sterwe as jy in Christus Jesus glo nie.
As jy glo, is Christus jou opstanding en lewe, al het jy ook gesterwe.
Hierdie lewe op aarde is waarvoor God jou geskape het, om sy wil te volbring en Hom te verheerlik.

Dankie, Here, ek is verseker van die ewige lewe omdat U vir my met u bloed betaal het. Ek luister na U stem en volg U, want ek is deel van u kudde deur u genade (vergelyk Joh. 10:27). Ek en die Vader is een, (Joh. 10:30). Dit getuig van U, my Vader, se liefde vir my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 3 January 2026

Kerkgenotjies: Koos aan die woord

Koos is op besoek aan Engeland. Teen die laaste dag is hy heeltemal platsak, misreken hom met die tyd en verpas sy vliegtuig.

Moedeloos gebruik hy sy laaste geld om met die moltrein terug te ry Londen toe. Terwyl hy na slaapplek soek, reën hy boonop heeltemal nat. Niemand wil hom gratis verblyf gee nie. Hy besluit dat as hy nie slaapplek kry nie, moet hy darem probeer om 'n stukkie kos in sy maag te kry.

Hy klop aan die agterdeur van 'n kroeg met die naam The George and Dragon. 'n Vrou maak die deur oop en vra wat hy wil hê. 
"Net 'n stukkie om te eet, mevrou."
"Nee," gil sy en slaan die deur in sy gesig toe.
Hy klop weer en hierdie keer verskree sy hom dat sy ore tuit.
Hy waag dit om 'n derde keer te klop. Die vrou kan haar oë nie glo dat hy dit waag nie en voor sy kan lostrek, vra hy bedees: "Kan ek dalk 'n paar woorde met George praat?"

oooOOooo

Koos is baie lief vir sy vrou, maar sy raak so dominerend dat hy dit nie meer kan uithou nie.
Uiteindelik kry hy haar so ver om 'n sielkundige te gaan spreek.
Hy wag buitekant en 'n uur later kom sy uit.
"Hoekom het jy so lank gevat?" vra hy.
"Dis daardie man," antwoord sy vies.
"Dit het my byna 'n uur gekos om hom te oortuig dat sy lessenaar op die verkeerde plek staan."

Friday, 2 January 2026

Gedagte uit 'n koevert: Kommer

Die begin van kommer, 
is die einde van geloof; 
en die begin van geloof, 
is die einde van kommer.

[George Müller]

Thursday, 1 January 2026

'n Geseënde 2026 vir elkeen van ons getroue lesers

Dink hieroor: Wat kies jy?

Daar is twee maniere om jou lewe te leef:

* asof daar geen wonderwerke is nie!

* asof alles 'n wonderwerk is!

Januarie-verjaardae

Seën vir 2026 met al die gepaardgaande uitdagings

Die begin van elke nuwe jaar is dit tyd om te reflekteer oor die afgelope jaar en planne te maak vir die nuwe jaar en die onbekende toekoms. 2026 beskik oor die magiese onbekende, maar ook oor die belofte van nuwe geleenthede en die moontlikheid om ons lewens te verbeter, om dit waarvoor ons op aarde geplaas us, voluit aan te pak en geen steen onaangeroer laat nie. 

Mag jy oor die vermoë beskik om die 2026-uitdagings in 2026-hoogtepunte te omskep. Voorspoed en baie seën vir die pad vorentoe.

Wednesday, 31 December 2025

2026-seënwense

# Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
# Ek seën jou met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
# Ek seën jou met goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig, en jou droom met jou sal deel.
# Ek seën jou met 'n sagte hart, 'n hart vol liefde.
# Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.
# Ek seën jou met God se leiding, Sy guns en Sy genade oor jou.
# Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
# Ek seën jou finansies, jou besigheid en jou denke.
# Ek seën jou gees, jou siel en jou liggaam.
# Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie en liefde.
# Ek seën jou gesin, familie en jou drome.
# Ek seën jou om jou ware identiteit te vind in Christus.
# Ek seën jou met die wete dat jy 'n Vader het wat jou innig lief het, dat niks wat jy kan doen Hom liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
# Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef, Sy totale beskerming en Sy doel vir jou lewe.
# Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God nie.

"Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal Sy aangesig oor
jou verhef en aan jou vrede gee"

Geseënd is jy, geliefde van God! Geseënde 2026!
Ontvang die seën in die Naam van Jesus Christus!

[Ek deel graag hierdie seënwense van Ella Goosen met almal wat hierdie blog besoek!]

Mossiestilte 2 Joh. 5:11-12

En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en die lewe is in sy Seun.
Hy wat die Seun het, het die lewe: Hy wat die Seun van God nie het nie, het nie die ewige lewe nie.

Dit is Jesus wat die wêreld ter wille van jou oorwin het. (vers 5)
En dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. (vers 6)
As jy glo dat Jesus die Christus (Messias) is, is jy uit God gebore, en as jy die Vader liefhet, het jy die een lief wat uit Hom gebore is. 
Hieraan weet jy dat jy die kinders van God liefhet: Wanneer jy God liefhet en sy gebooie bewaar. (verse 1en 2)

Here, ek weet dat ek in U bly en U in my is, dat U my van u Gees gegee het. (1 Joh 4:13) Ek bely dat Jesus die Seun van God is - daarom bly U in my, en ek in U (1 Joh. 4:15). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 30 December 2025

Mandjie Hoop: Praktiese wenke om positief te bly

* Begin jou dag met ‘n positiewe gedagte.
* Omring jouself met positiewe mense.
* Oefen gereeld om jou gemoedstoestand te verbeter.
* Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal.
* Vermy negatiewe selfpraat.


Monday, 29 December 2025

Gebed: Maak my niks ...

Dankie, Here, vir al U liefde en omgee. 
U verstaan almal se lewe en omstandighede. 
Dankie vir U onbeskryflike liefde en genade vir ons.
Here, ek is maar 'n een-snaar viool,
maar U kan my gebruik in U diens ...
Ek wil dit wat ek het tot U diens gebruik ...
maak my niks sodat U alles in my lewe kan word.

Sunday, 28 December 2025

Mossieboodskap: "Voordat hulle roep"

 
In die lente van 1875 het Hudson Taylor, die geliefde stigter van die "China Inland Mission" na Londen teruggekeer, nadat hy 'n reeks dienste op Brighton bygewoon het. Terwyl hy vir sy trein op die stasie wag, het 'n Russiese edelman wat ook dieselfde dienste bygewoon het, hom genader. Toe hy verneem dat mnr. Taylor Londen toe gaan, het hy voorgestel dat hulle saamreis in dieselfde kompartement.
"Maar ek reis derdeklas," het die sendeling gesê.
"My kaartjie laat my ook toe om derdeklas te ry," het die edelman beleefd geantwoord.

Toe die trein aankom, het hulle hul sitplekke ingeneem en saam verder gereis. Na 'n rukkie het Graaf Bobrinsky sy sakboek uitgehaal met die woorde: "Laat my toe om jou 'n klein bedraggie te skenk tot ondersteuning van jou werk in China."

Mnr. Taylor het na die banknoot gekyk wat aan hom oorhandig is, en gevoel dat daar seker 'n fout moet wees - dit was nie minder as eenhonderd pond nie! (Dit was baie geld in daardie dae. Seker minstens tien keer die waarde van vandag se geld.)

"Het u bedoel om my tien pond te gee?" het Mnr. Taylor dadelik gevra, en toe bygevoeg: "U het seker 'n fout gemaak. Hierdie noot is eenhonderd pond. Neem dit asseblief terug."

"Ek kan dit nie terugneem nie," het die edelman geantwoord, net so verbaas soos die ander. "Ek wou jou tien pond gee, maar God het seker bedoel dat jy eenhonderd pond moes kry. Ek kan dit nie terugneem nie."

Diep beïndruk deur die voorval, het Mnr. Taylor sy bestemming bereik. Toe hy by sy hoofkwatiere in Londen aankom, was daar 'n biduur aan die gang. 'n Sekere som geld moes onverwyld na China toe gestuur word, en daar was nege en negentig pond en tien sjielings kort op die benodigde bedrag. Dit het diegene wat daarvan geweet het na hul knieë gedryf om hulle behoefte in gebed aan God bekend te maak. Nege en negentig pond en tien sjielings is in geloof aangevra en daar op die kantoortafel het Mnr. Taylor sy kosbare banknoot ter waarde van eenhonderd pond neergesit - die antwoord op hulle gebed. 

Lees gerus meer oor Hudson Taylor HIER en HIER!

[Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Mossiestilte: Heb. 13:5&6

Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?
Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het: Want Hy hy gesê: Ek sal julle nooit begewe nie en jou nooit verlaat nie.

Vandag het Jesus reeds vir jou die gawe van lewe gegee om vooruit te loop, maar sy oog sal jou beskerm.
Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het geen voordeel gehad het nie. (vers 9)

Here, maak my hart sterk en onwankelbaar vanoggend, en nie vatbaar vir allerhande ander leringe as wat U my leer nie. Laat ek gedurig aan U 'n lofoffer bring, dit is die vrug van my lippe wat U Naam bely (vers 15). 
Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 27 December 2025

Kerkgenotjies: Ons vriend, Koos

Hierdie staaltjie het baie baie jare terug by die Kaapse stasie afgespeel. In die dae van ponde, sjielings en pennies ...

Koos stap oudergewoonte deur die Kaapstadse stasie, toe hy 'n nuwe masjien sien wat jou weeg en met jou praat. (KI was nog nie eens 'n gedagte nie.)

Hy klim op die skaal en sit sy sjieling in. Die masjien sê toe: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, 'n snor, jy dra 'n grys pak, werk by Sanlam en haal elke middag die 5:15 na Plumstead.

Koos kon sy ore nie glo nie. Hy gooi weer 'n sjieling in en kry presies dieselfde antwoord.

Hy sien die haarkapper op die stasie is nog oop, spring gou by die deur in en laat sy hare knip en sy snor sommer heeltemal afsny. Hy het soos die toeval dit wil hê, ook daardie middag 'n nuwe pak klere vir die werk gekoop. Hy gaan kleedkamer toe en trek dit aan.

Hy gaan klim vol verwagting weer op die skaal, waarop die masjien antwoord: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, dra 'n bruin pak, werk by Sanlam en terwyl jy hier rondgespeel het, het jy die 5:15 na Plumstead verpas.

Friday, 26 December 2025

‘n Mooi Kersfeesverhaal

Verlede jaar, besluit Gert en Lien dat aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Gert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

'n Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

"Nou waar was julle toe?" wou ek nuuskierig weet.

"Noord-Kaap" sê Gert.

"Ek het nie geweet julle het familie daar nie?" vis ek verder uit.

"Nie gehad nie, maar nou het ons."

"Nou maar hoe werk dit?" hou ek vol.

"Jy't ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het," sê Gert.

"Maar jy weet mos. Ek dood oor 'n storie."

"Nou maar fyn. Sit terug en luister."

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van 'n storie.

"Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie 'n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

"'Nou maar dan moet jy woestyn toe,' sê sy toe half oprukkerig. 'Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees', en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.'

"Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

"'Ek weet' kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

"'Nou waar sal ons dan heengaan?' wou sy weet.

"Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

"Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis 'n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

"Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op 'n grondpad. Die grondpad word toe wel later 'n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe 'n koedoe of twee, drie en selfs 'n troppie gemsbokke. Deur plase en seker 'n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

"Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na 'n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar 'n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

"'Dis lekker hier', sê sy toe. 'Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.' Sy giggel avontuurlik.

"Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. 'Kyk hoe mooi is die sonsondergang' sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons 'n vreemde geluid hoor. So 'n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar 'n donkiekarretjie om die draai.

"'Ek sê vir die vrou ek moet loop kyk. Ek dink ek hoor iets,' sê die oompie op die bankie toe die karretjie langs ons tot stilstand kom.

"Ek draai om en kyk na die oompie. Rateltaai en voos gebrand deur die son sit hy daar.

"'Kom, meneer-hulle kan nie hier in die vlak slaap nie. Die vrou het al klaar julle kamer reggemaak.' Dis duidelik dat die oom nie nee vir 'n antwoord gaan vat nie.

"'Sal Oom omgee as ek saam met Oom ry? Ek het nog nooit op 'n donkiekarretjie gery nie,' vra Lien toe opgewonde.

"'Alte seker Mevrou. Wag ek help vir Mevrou,' sê die oom en help vir Lien tot op die bankie. Stadig kruie ons daar met die slingerpaadjie aan tot by die huisie. Lien waai vir my van die bankie af. Sy is so opgewonde soos 'n skoolkind.

"Die huisie is skoon en netjies op 'n eenvoudige manier. Die tante kom op die stoep uit toe ons stilhou.

"'Maar welkom hier by ons, Hennerik vat die meneer-hulle se goed en sit dit in die spaarkamer kom nader die ketel kook al,' sê die tante alles in een asem.

"Toe ons in die kombuis instap, ruik ek die geurig gekookte kos, en die brandende paraffienlamp op die wit geskropte tafel.

"'Kom ek wys vir Mevrou waar die badkamer is Mevrou wil seker eers bietjie hande en gesig was voor ek koffie skink.' Weer alles in een asem.

"Ek help die oompie om ons bagasie kamer toe te dra. 'Maar hoe is dit dat die tante die kamer so vinnig reggemaak het,' wil ek by die oompie weet.

'Nee, Meneer sien, die vrou maak elke jaar so 'n week voor Kersfees al die kamer reg. Maar ek sal later vir Meneer die storie vertel. Kom was eers hande en dan gaan drink ons koffie.'

"Later, toe ons aan tafel sit, merk ek dat die tante nie net vir twee gekook het nie. Dit lyk asof sy ons verwag het. 'Hoe is dit dan dat dit vir my lyk asof tante ons hier verwag het', vra ek nuuskierig.

"'Maar natuurlik het ek mense verwag die Liewe Heer stuur elke jaar vir ons mense vir Kersfees Hy het nog nie een jaar oorgeslaan vandat die kinders hier weg is stad toe nie ek het Hom so gevra en Hy het so gedoen.' Punte en kommas bestaan nie vir die tante nie. "'Hoe dan so, tante?' wil ek weet.

"'Nee meneer sien ons is eintlik afstammelinge van die Griekwas wat vroeër jare hier deurgetrek het en onse kinders het nooit die liefde vir die wêreld gehad soos ons dit het nie en jare terug het hulle besluit hulle is moeg vir die wêreld met sy hitte en droogtes en goed en op 'n dag het hulle net besluit om weg te trek en tot nou toe het ons nog nie weer 'n woord van hulle gehoor nie dis vanjaar al vyftien jaar dat hulle weg is.

'"Die tante skep asem. Die oom vat oor. 'Net voor die eerste Kersfees nadat die kinders hier weg is, sê ek vir die vrou, ek sê Ma, ek kan nie hierdie jaar Kersfees hou nie. Die kinders is weg en dis net ons twee en my hart is seer en sal net seerder word hier oor die Groot Dae. Wat gaan ons maak?'

"'Sy sê toe, Hennerik, moet nou nie daaroor wakker lê nie ek het reeds vir onse Hemelse Vader gevra om vir ons mense te stuur vir Kersfees more gaan ek die spaarkamer begin regmaak en jy moet kom hjelp.'

"'Dit was 'n week voor Kersfees. Die volgende dag het die stof gestaan soos die vrou alles begin regmaak het, en ek het angstig gehoop dat die Vader vir haar gehoor het en dat sy nie teleurgestel sal wees nie.'

"Die tante val in. 'Daardie eerste jaar het die mense gekom ook op Oukersdag net soos meneer-hulle ook geverdwaal ek het kant en klaar gekook gehad toe hulle hier aanland daar was 'n kleintjie ook by ek was so bly Hennerik het gesê die Here het ons nie alleen gelos nie.'

"Die eenvoud, geloof, vertroue en die opregtheid van die mense het my aangegryp," vertel Gert.

"Nadat ons geëet het, het die oompie die dankgebed gedoen en toe strammerig opgestaan. 'Sit julle net so. Ek gaan net die Bybel haal.'

"Toe die oom terug kom, gee hy vir my die Bybel aan.

"'Sal Meneer asseblief vir ons lees. Nie ek of die vrou het enige gelerendheid nie en al wanneer ons die Bybel uithaal is wanneer hier mense kom wat dan vir ons lees. Verder sê ek maar die stukkiekies op wat so met die jare saam in my kop vasgesteek het, of wat ek nog in die Sondagskool uit my kop moes geleer het. My pa-hulle het ons nie skool toe kon stuur nie, maar ons moes elke Sondag kerk toe gaan en daarna was dit Sondagskool.'

"Ek maak die Bybel oop. 'Wat moet ek vir oom-hulle lees?'

"'Lees vir ons asseblief die geboorteverhaal. Soos wat dit in Lukas staan.'

"'Ja, asseblief,' kom dit van die tante, 'dis baie mooier daar as in die ander boeke van die Bybel.'

"Terwyl ek rondblaai, kry ek die reuk van mottegif. Hier en daar is 'n foto'tjie tussen die blaaie gebêre. 
Ek begin lees.

"Die kombuis het amper 'n heilige plek geword. 'n Katedraal. Ek lees van Maria en die Kind. Van die stal en die krip. Van die herders en die wyse manne. Die stil toe ek die Boek toemaak.

"Die oom sit met sy hande in eerbied gevou. Deur die kombuisvenster het die volmaan groot en wit oor die kameeldorings gelê. Saggies begin die tante Stille Nag te sing. Haar oumensstem is krakerig, maar vir ons het dit die klank van 'n nagtegaal gehad. Dis asof van iewers af die engele saamgesing het. Die oom het met sy dreunstem ingeval en Lien kort na hom.

Ek het probeer, maar die knop in my keel was te groot. Ek kon net fluister. Ek het daar lief geword vir hierdie twee eenvoudige, maar opregte mense.

"'Ek wens daar was iets wat ons vir die twee oues kon doen,' sê ek later vir Lien toe ons in die bed lê.

"'Hulle het alles wat hulle nodig het,' sê Lien. 'Wêreldsgoed beteken vir hulle niks nie. As ons iets wil doen, moet ons bid en vra dat die Here hulle kinders sal laat terugkom.'
"Daar langs die bed het ons toe gekniel en vir die Here gevra om tog ook aan die oumense se hartseer te dink en hulle kinders te laat terugkom. Met 'n tevrede gemoed het ons die kers doodgeblaas en aan die slaap geraak.

"Die oumense was baie bly toe ons vra of ons 'n paar dae langer kan bly. Ons kon eenvoudig nie genoeg van hulle gasvryheid kry nie. Ons het saam met hulle lang ente met die donkiekarretjie in die veld gery, en dit was veral vir Lien baie lekker. Dit het my laat besef hoe leeg ons lewens regtig geword het. As ons kuiermense kry, dan vat ons hulle na een of ander Mall of 'n ding toe, maar hier is 'n rit op 'n donkiekar in die veld 'n sielelafenis.

"Oujaarsdag middag, toe ons terugkom van die veld af, sien ons die vreemde kar onder die kameeldoring staan.

"'Haai kyk pa ons het nog mense gekry is dit nou nie vir jou wonderlik nie?'

"Dis toe die figuur om die hoek van die huis kom dat die oom die teuels styf pluk. Die donkies het nog nie eers behoorlik stilgestaan nie, of die oom spring af en storm vooruit.

"'Hennerik! Hennerikkie my seun!' Die oom huil.

"'Pa!' roep die man van die hoek af. 'Pa!' Toe is hulle in mekaar se arms. Die pa en sy seun.

"Die tante kom ook by. 'Hennerik . . . Hennerikkiekie, is dit regtig jy, my kjind?' Die tante se vreugde ken geen perke nie. Hulle omhels mekaar.

"'Wag Ma, Pa, hier is nog mense.' Toe sien ons die ander mense wat om die hoek kom.

"'Freek!' roep die oom. 'Freek, ag my seun. Ek is so bly. Die Here is vir ons goed. En die ander? Wie is hulle?'

"'Pa, Ma, ontmoet ons vrouens en julle kleinkinders.'

"Toe het daar voor ons oë 'n ding gebeur wat in my geheue ingegraveer is en wat ek sal onthou tot die dag van my dood," sê Gert.

"Die oom sak daar op die warm kalaharisand op sy knieë neer en bid 'n dank- en lofgebed waarvan ek die gelyke nog nie gehoor het nie. Soos 'n Abraham van ouds. Op sy knieë met sy hande na bo uitgestrek.

"Ek en Lien het na mekaar gekyk. Trane het in Lien se oë geblink. Ons het op heilige grond gestaan. Ons gebed is verhoor. Die Here het vir ons gegee presiés wat ons van Hom gevra het."

(Bron: Internet - skrywer onbekend)

Afkondiging: Welkom by die erediens

Thursday, 25 December 2025

A Christmas Letter from Jesus

When you look for me at Christmas, 
you won’t need a special star.
I’m no longer just in Bethlehem, 
I’m right here where you are.
You may not be aware of me 
amid the celebrations.
You’ll have to look beyond the stores 
and all the decorations.
But if you take a moment 
from your list of things to do,
To close your eyes and say a prayer, 
I’m waiting here for you.
You’re the one I want to be with. 
You’re the reason that I came!
And you’ll find me in the stillness
Where I’m whispering your name.

[Thank you, Rina, for sharing]

Kerswense vir 2025