Ek wil my ma bel.
Ek moet eenvoudig met haar praat.
Al is
dit net vir drie minute.
Ek wil haar stem hoor ... ek wil hoor hoe sy vir my sê:
‘My wêreld, is dit jy? En hoe gaan dit ...?"
Maar ek kan nie my ma bel nie.
Want die Hemel het nie ‘n
nommer nie.
Nie onder die "H’s" in die telefoongids nie;
nie eers in die Geel
Bladsye nie – dis verstommend:
in hierdie tegnologiese eeu, met knoppies en
rekenaars en satelliete,
is daar gee direkte lyn Hemel toe nie.
In desperaatheid droom ek een nag, dat ek deurkom Hemel toe.
"Kan ek asseblief met my ma praat?" vra ek. "Sy is Hettie
Ellis – net vir drie minute, asseblief?"
"By watter afdeling is sy?" vra ‘n sagte stem.
"Afdeling? ... Sy ... sy is seker by die hekel- en breiafdeling?"
Haar hande was nooit stil as sy televisie gekyk het nie, altyd hekel- of breipenne wat saggies, gerusstellend, klik-klik-klik.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n hekel- of breiafdeling
nie. Ons is omgewe van die lig ... ons word omvou deur Sy warmte ...” Hulle dra dus
nie klere nie. Hulle brei nie.
"Probeer asseblief die bak-afdeling."
Natuurlik, sy sal
daar wees.
Na haar dood het ek naarstiglik die laaste stukkies beskuit uit die
blik gaan haal en dit gevries.
Ek sou dit nie kon eet nie ... ek moes dit hou –
sommer net om na te kyk.
Maar die stem sê: "Ons het nie ‘n bak-afdeling nie.
Ons lewe van die vrugte van die Gees"
Ek bly ‘n rukkie stil. "Probeer asseblief die tuinafdeling."
Sy was so lief vir die grond, so deel van die aarde ... maar die stem antwoord: "Ons saai nie en ons plant nie. Ons besit reeds die Ewige Saad"
Ek raak desperaat en ek vra:
"Nou watter afdelings is daar dan?"
Die stem is sag en geduldig. "Ons het kore ..."
"Kore?" vra ek, "Ek weet darem nie ... sy was nooit juis ‘n
voorsanger nie ... wat is daar nog?"
Die stem raak nie ongeduldig nie. "Daar is ook hulle wat sit
by die voete van die Een wat onderrig."
"Sit hulle net?" vra ek nuuskierig. "Ek weet darem nie. Ek
het my ma nooit juis sien sit nie."
"Hulle sit en luister na die Stem."
"O, ja! Sy sal dáár wees!” jubel ek. Ja, ek moes dit mos
geweet het!
My ma was ‘n simpatieke, en intense luisteraar. Haar oë,
haar gesig, haar hele lyf het altyd saam geluister. "Kan ek met haar praat?" vra ek opgewonde. "Ek is seker sy sal daar wees!"
"Hulle wat luister, word nie onderbreek nie," sê die stem
baie sag. "Maar as jy wil, kan jy kom saamluister."
Die droom is verby.
Maar in die môre, toe ek my stiltetyd
hou, onthou ek dit weer.
En toe ek kniel, bid ek nie.
Ek luister.
En ek hoor ‘n
stilte vol vrede ... en in die vrede is daar troos.
En in die troos is daar Sy
arms wat my vashou.
En Sy vashou voel soos my ma se lyf ... nog beter: volkome.
Ek word bewus van die direkte lyn Hemel toe.
Die lyn wat
daar was, van die heel begin af.
Nog voordat almal so slim geword het.
Die lyn
wat nooit onderbreek word nie, nooit beset is nie.
Die lyn wat verniet is, en
waarvoor jy nie eers ‘n rekening hoef te betaal nie.
Jy hoef selfs nie eers ‘n
nommer te onthou nie.
Want die Hemel is net ‘n stiltetyd, dis net ‘n gebed ver.