Wednesday, 30 April 2025

Mossiestilte: Deut. 32:47

Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe;

Gee vanoggend ag op hierdie woorde wat God met jou spreek en waarmee God jou waarsku; leer jou kinders om dit te hou (vergelyk vers 46)
Slegs God se woord sal behoue bly.
Sy Woord skep, herskep en onderhou.
Staan op die Woord/Rots dan sal jy lewe.

Here my God, U is my Skepper, van U sal ek my voorsiening kry. U gee my, my daaglikse brood. U is my krag en geregtigheid. Deur U genade bereik ek my doelwitte. Deur u genade staan ek elke dag op. U het gesê u genade is vir my genoeg. U genade spreek met my en ek moet luister. 2 Kron. 20:14. Ek eet u woord Jer. 15:16. U Woord het lewendig geword en by my kom woon. Joh 1:11. Here, ek sal U woord bewaar Joh. 14:23 -24. Ek glo dat U in die Vader is en die woorde wat U spreek kom vanuit U Vader wat in U bly en Hy doen die werke. Joh. 14:12. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 29 April 2025

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: God is naby jou

Mag jy vandag rustig raak,
dankbaar en tevrede.
Veilig in Sy arms.
Naby Sy hart.
Mag jy net weet dat jy weet:
God is by jou.
Sy liefde maak heel.
Sy liefde gee krag.
Sy liefde motiveer.
Mag Sy genade jou uitlig en oplig uit alle stres,
sodat jy Sy visie oor jou duidelik sal raaksien.

Monday, 28 April 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed van St Franciscus van Assisi

God - maak van my `n instrument van U Vrede
Waar daar haat is, laat my Liefde saai
Waar daar seermaak is - Vergifnis
Waar daar vertwyfeling is - Geloof
Waar daar wanhoop is - Hoop
Waar daar donkerte is - Lig
En waar daar hartseer is - Vreugde

O Heilige God - gee dat ek nie soveel streef
Na vertroosting as om te Vertroos nie
Om verstaan te word as om self te probeer verstaan
Om vir liefde te vra as om Liefde te gee
Want dit is deur te gee wat ons ontvang
Dit is deur te vergewe wat ons vergewe word
En dit is in ons sterfte wat ons gebore word tot U ewige Lewe ...
Amen

[Vrye vertaling]

Sunday, 27 April 2025

Omkring 24 Mei op jou almanak

Piet Smit maak met elkeen van julle 'n afspraak, Saterdag, 24 Mei - 18h00 vir 18h30. 

Moenie hierdie spesiale geleentheid deur jou vingers laat glip nie. Kontak die kerkkantoor vir kaartjies - daar is slegs 'n beperkte aantal kaartjies.

Sondag 08:15 vir 08h30 Nagmaal-erediens word deur Piet Smit aangebied.

Kontak kerkantoor vir enige verdere inligting: 053 842 1100

Basaar: Bestanddelelys

Basaarinspirasie


Klik HIER vir idees vir die basaar!!

Gebed op Vryheidsdag

In die woorde van Vonkk 272:

Heer, ons bid as reënboognasie:
Op u almag vas vertrouend
wil ons saam ‘n toekoms bou.
In geloof ons land en mense
in u hande toevertrou.

Mossiestilte: Ps.31:16

My tye is in u hande; red my uit die hande van my vyande en my vervolgers.

God se tyd is nie my tyd nie; Hy is altyd op tyd, al is dit 4 dae na jou tyd; Jesus het vir Lasarus 4 dae na sy dood opgewek, toe hy al gestink het.
God wil jou vyande weglei en jou vrymaak.
Die wat jou vervolg sal beskaamd staan want hulle kan niks regkry nie.
Die Here wil vir jou vrede gee en jou blydskap in Hom herstel.

Dankie Here, en my Leermeester, u Heilige Gees leer en lei my. Ek het U wysheid en U krag. U is nie 'n aannemer van die persoon nie en U gee aan wie U wil, nie volgens my goeie dade nie, maar volgens u liefde en genade. 'n Gunsgenoot is ek, om U te vertrou en ek belei: U is my God die ewige Vader en Alomteenwoordig God wat my nooit verlaat of begewe nie. Amen.

Saturday, 26 April 2025

Verjaardagwense

Jannie, om nog 'n kers uit te blaas, beteken dat jy nog 'n jaar van vreugde en seëninge beleef het. Maak seker dat elke dag van jou lewe, en elke kers tel. Geniet 'n wonderlike geseënde dag!

Friday, 25 April 2025

Mark Batterson: "Your prayer for your children are the greatest legacy you can leave."

Jy sal nooit die perfekte ouer wees nie, maar jy kan 'n biddende ouer wees, selfs al weet jou kinders dit nie.

GEBED
Here, ek bid vir wysheid vir my kinders. Dat U vir hulle die onderskeidingsvermoë sal gee om die kaf van die koring te skei. 
Ek bid dat my kinders se liefde vir U sal toeneem en dat hulle daagliks in 'n persoonlike verhouding met U sal leef.
Ek bid dat hulle saam met U die storms van die lewe sal aandurf en dat U hulle sal dra deur moeilike tye. Dankie, Heer. 
Amen

"Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie." Spreuke 22:6 NLV

Thursday, 24 April 2025

Wednesday, 23 April 2025

Mossiestilte: Ps. 16:5

Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.

Jy is nou deelgenoot aan die erfenis wat God aan jou gee, vandag en elke dag tot in ewigheid. Hy vul jou beker op met sy goedheid en guns en jou beker is nooit leeg nie. Die barmhartigheid van God is jou lot en God onderhou jou daagliks met sy voorsiening in genade. 

Dankie Here, dat U my deel gemaak het aan die erfenis saam met Jesus Christus; dit is my deel, u bloed het my duur gekoop en ek hoef niks te betaal vir my skuld nie. Ek is vry gekoop van sonde en ek kry my daaglikse voorsiening; U vul my beker en hou dit vol met goedheid en guns al verdien ek niks. My hart juig en ek bring aan U al die eer, my Verlosser en Voorsiener. U vul my hart met vrede deur u Gees wat in my woon en u genade verfris my weer vanoggend. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 22 April 2025

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Stap in sy liefde

Mag jy vandag God se grootheid raaksien
in die komplekse probleme van die dag.
Mag jy in Sy liefde stap,
stewig geanker in Sy hoop.
Mag jy Sy krag vandag ervaar,
Sy beskerming voel.
En mag jy deur Sy motivering op jou voete bly,
stewig staan in Sy teenwoordigheid -
vars, energiek en jubelend,
met 'n vaste vertroue op ons Hemelse Vader.

Monday, 21 April 2025

Gebed: Lied 284

Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
waar haat is, laat ek daar u liefde bring:
Laat ek in pyn en smart vertroostend wees
en krag gee deur geloof in U, o Heer.

O Heer, help my om altyd so te leef -
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself -
en ook eerder te gee as te verwag.

Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
en laat ek hoop gee waar daar twyfel is.
Ek wil u lig in duisternis laat skyn.
Laat ware vreugde altyd uit my straal.

O Heer, help my om altyd so te leef -
om ander hoër as myself te ag,
ja, om lief te hê – ander bo myself -
en ook eerder te gee as te verwag.

Laat, Heer, u vrede deur my vloei...
leer my om ook soos U te kan vergeef.
Maak my bereid om aan myself te sterf,
dat ander U al meer in my kan sien.

Verjaardagwense

Ada, op hierdie spesiale dag bid ons dat die Here Jesus jou lewe sal seën met baie voorspoed, vreugde en gesondheid! Gelukkige verjaardag! 

Sunday, 20 April 2025

Mossiestilte: Rom. 6:4

Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel.

Die doop is ons teken dat ons saam met Christus gesterf het en in 'n nuwe lewe opgewek is saam met Christus. 
Net soos Christus dan deur die Vader se heerlikheid opgewek is uit die dood, is ons ook opgewek in die heerlikheid van die Vader, dit is net genade. 

Dankie Vader, vir u Seun wat U vir my opgeoffer het. U het Hom ook opgewek en Hy is verhef om aan u regterhand te sit, op sy troon in ewigheid. Ek is nou ook deur u genadige barmhartigheid opgewek, om saam met Christus in ewigheid u koninkryk te kan betree. Aan U kom toe al die eer en heerlikheid, tot in ewigheid. Amen.

Paasboodskap: God se hande

Hier oor die Paastyd kry mens baie boodskappe wat die betekenis van die kruisgebeure uitdruk. Van Krip tot Kruis ...

Die volgende boodskap praat direk tot 'n mens.

'n Gholfstok in my hande beteken nie veel nie.
'n Gholf stok in Ernie Els se hande beteken 'n paar miljoen rand.
Dit hang af in wie se hande dit is ...
'n Stok in my hande kan gebruik word vir selfverdediging.
'n Stok in Moses se hande het die see geskei.
Dit hang af in wie se hande dit is ...
Twee vissies en vyf brode in my hande beteken 'n paar vistoebroodjies.
Twee vissies en vyf brode in God se hande beteken kos vir duisende.
Dit hang af in wie se hande dit is ...
Met spykers in my hande kan ek 'n kassie bou.
Spykers in Jesus se Hande beteken Oorwinning en Verlossing vir die hele wêreld.
Dit hang af in wie se hande dit is ...
So, sit jou bekommernisse, jou vrese, jou hoop, jou drome, jou familie, jou verhoudings, 
jou werk, jou toekoms, die regering - ALLES - in God se Hande.
Onthou: Dit hang af in wie se hande JY is!
Jy is in God se hande!

Friday, 18 April 2025

He chose love


He knew.
And still, He chose love.
 
He knew one would betray,
another would deny,
the rest would scatter.
But still -
He stayed.

He broke bread with them.
He washed their feet.
He called them “friends.”

He stayed when He could have walked away.
He served when He could have withdrawn.
He spoke peace in a room full of hearts that would soon falter.

Because grace,
was never about their faithfulness—
but His.

And that night,
in the quiet breaking of bread,
He showed them what mercy looked like.

In that upper room,
grace whispered louder than failure ever could.

Not in thunder.
Not in judgment.
But in staying.

[Dankie, Marguerite, vir die aanstuur. Waardeer dit opreg.]  

Thursday, 17 April 2025

Dink hieroor: God seën elke aspek van my lewe ...

Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
Ek seën jou met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
Ek seën jou met goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig, en jou droom met jou sal deel.
Ek seën jou met 'n sagte hart, 'n hart vol liefde.
Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.
Ek seën jou met God se leiding, Sy guns en Sy genade oor jou.
Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
Ek seën jou finansies, jou besigheid en jou denke.
Ek seën jou gees, jou siel en jou liggaam.
Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie en liefde.
Ek seën jou gesin, familie en jou drome.
Ek seën jou om jou identiteit te vind in Christus.
Ek seën jou met die wete dat jy 'n Vader het wat jou innig lief het, dat niks wat jy kan doen Hom liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef,
Sy totale beskerming en Sy doel vir jou lewe.
Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God nie.
Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
die Here sal Sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Geseënd is jy, geliefde van God.
Ontvang die seën in die Naam van Jesus!
Wees veilig en tasbaar bewus van God se teenwoordigheid, liefde en seën vandag in jou lewe.

[Dankie, Anoniem, vir die aanstuur van die seënbede.]

Wednesday, 16 April 2025

Mossiestilte: 2 Sam. 24:10

Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die Here gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; Here, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.

Hoeveel keer het jy al dwaas gehandel? Seker vele kere. In vandag se lewe hoor ek gereeld ouers of opvoeders sê: Dit maak nie saak hoeveel keer jy verkeerd doen nie, solank jy net daaruit leer.
Dawid het onmiddellik na God gegaan en sy sonde gaan bely. Elke besluit wat ons neem het egter 'n verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan, en dit kan ook 'n straf insluit. 
Dawid is tesame met sy volk gestraf, maar daarna weer geseën.
Bely jou sondes vandag en kom tot inkeer/bekering. Vat jou straf, maar weet omdat jy na God gegaan het, sal sy straf kom maar ook sy genade vir jou.

Here, ek bely die doelbewuste sondes wat ek as u kind doen of gedoen het. Ek weet U het vir my sondes gesterf en sal my weer optel en U sal my steeds nie verlaat nie. Ek wil altyd by U bly en by U skuil. Daar is ek veilig en U sal my red om vir ewig in u koninkryk by die Vader te bly. U weet alles Here en ek kan niks wegsteek nie. Ek loof U goeie en grote Naam. Amen. 

Tuesday, 15 April 2025

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Jy is Syne - altyd

Mag jy vandag en die dae wat kom weer besef dat jy vir meer gemaak is wat hierdie wêreld jou offer. God roep jou op jou naam vanuit die gewone lewe na 'n voluit lewe. Mag jy ervaar hoe Hy jou hand vat en sê: " kom nader na My toe, Ek wil jou verder vat. Mag jou volle wese op Hom vertrou en jou krag in Hom vind. Laat toe dat Sy liefde elke dimensie van jou menswees genees. Mag jy kragtig in geloof wandel, met volle vertroue op Die Outeur van jou lewe. Jy is Syne - altyd.

Monday, 14 April 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: Gebed vir roeping

Vader, ek dank U vir hierdie Paulusgebed: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou.”

Daarom bid ek vir ons gesin se roeping, Here. Ek bid dat ons sal besef hoe U ons gemaak het, en hoeveel hoop daar in u roeping vir ons is. Vader, plaas asseblief u droom in ons hart en gee ons die deursettingsvermoë om dit doelgerig na te streef.

Beskerm ons daarvan dat ons van ons roeping sal afwyk wanneer ander mense allerlei negatiewe dinge sê. Of wanneer moedeloosheid of twyfel of vrees ons oorval. Help ons om op u tyd te wag. Hoor ons as ons U vir die regte rigting vra, en help ons om in vrede op u antwoord te wag.

Amen.

[Bron: HIER]

Sunday, 13 April 2025

Afkondiging: Muntlegging

Omkring 24 Mei op jou almanak

Piet Smit maak met elkeen van julle 'n afspraak, Saterdag, 24 Mei - 18h00 vir 18h30. Moenie hierdie spesiale geleentheid deur jou vingers laat glip nie. Kontak die kerkkantoor vir kaartjies - daar is slegs 'n beperkte aantal kaartjies.

Sondag 08:15 vir 08h30 Nagmaal-erediens word deur Piet Smit aangebied. 

Kontak kerkantoor vir enige verdere inligting: 053 842 1100

Mossiestilte: Deut. 42:12

die Here alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde God by hom nie.

Moenie links of regs afwyk van die woord en genade van God nie.
Slegs by die Almagtige God sal jy beskerm en gelei word. Slegs by Hom sal jy redding vir jou siel vind; Hy het dit reeds vir jou gegee, jou pad voorberei, met al sy guns en seëninge vir jou.
Moenie die Steenrots wat jou verwek het, veronagsaam nie; moenie die God wat jou voortgebring het vergeet nie (vers 18). 
Hierdie God wat jou tot hier gebring is die Een wat jou ook hierdeur gaan dra.

Die Naam van die Here roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! Die Rots volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; 'n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. So is die woorde van die een lied. A God of faithfulness, without injustice, righteous and upright is He (vers 3-4). Dis mos die eienskappe van die God wat ons dien. Al is ons woordeskat te gering om God lof toe te sing, bly Hy getrou en sal Hy ons lei, van geslag tot geslag deur al die eeue heen. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 12 April 2025

Koesterende genade vir die Le Roux-gesin met die afsterwe van 'n geliefde eggenoot, pa en oupa


Piet le Roux saam met sy kleindogter Lisa.
Wanneer dit tyd word om te groet,
kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is
en dat sy tydsberekening volmaak is.

Friday, 11 April 2025

'n Kers vir Piet le Roux

Hier aan die einde van my lewenspad
Het die son vir my finaal gesak,
Maar moenie huil en treur oor my 
O nee, wees bly: My siel is vry.

Mis my 'n rukkie - maar nie vir lank
met kop omhoog en geen hartseer klank.
Onthou hoe het herinneringe ons lewenspad gebaan
Mis my - maar laat my gaan.

Hierdie pad moet ons alleen stap en alleen
moet ons elke die tog aanpak.
Dit is alles deel van God se Meesterplan op pad
na waar die ewige die tydelike vervang.

So wanneer julle eensaam en hartseer voel,
laat vriende en familie se liefde en troos hul oorspoel.
In goed doen aan ander kan g'n droefheid bly staan 
Mis my - maar laat my gaan.

Dit is met harseer dat ons die gemeente inlig van Piet le Roux se afsterwe gisteraand. Ons sal hom onthou as die medic van die gemeente, wat op die kerkraad gedien het en ook betrokke was by die gesinsbedieningsgroep. 

Ons bid vir Bets, Gerhard en Johan troos toe in hierdie hartseertyd.

Gemeentelede presteer op verskillende terreine


Dutoitspan-gemeente deel in die vreugde van Addies en die Grové-gesin. Dit is altyd spesiaal as skole hul leerders vereer wat uitblink.

Enrique Grové het 'n eerste plek behaal in die nasionale finaal van Radikale Redenaars in Engels en word daarom ook vereer met Adamantia se Prestige-witbaadjie vir sy uitsonderlike prestasie. Willem, Dalene en Enrique, baie geluk met hierdie besondere prestasie. Ons deel in julle trots. Enrique, mag jy net van krag tot krag gaan! [Klik HIER vir Addies se FB]

Saam met hulle is mnr Van Rooyen, skoolhoof van Adamantia.


Kyllin van der Westhuizen en Wildré Roberts ontvang die Springbok-toekenning vir Landsdiens. Saam met hierdie toekenning ontvang hulle ook erekleure. Dutoitspan is saam met die Roberts-gesin trots op Wildré se mooi prestasie. 

Ada Rheeder (2e van links) is ook 'n aktiewe Dutoitspanner en oudonderwyser wat nog steeds baie nou betrokke by die landsdiens is. Sy is die voorsitter van die Noord-Kaapse Landsdiens en bevind haar dikwels agter die stuur op pad iewers heen - Êrens of is dit nêrens Noord-Kaap? Haar passie, toewyding en bydrae maak 'n groot verskil, nie net by die Landsdiens nie, maar ook by die lede en kinders wie se lewens sy aanraak.

Lillian Brummage, die kaptein van die noodhulpspan, ontvang namens die skool erkenning vir hulle onbaatsugtige hulp en ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens.
Baie geluk en baie voorspoed vir julle pad vorentoe!!

Hallo, Jesus, dit is Jim

Elke dag om 12 uur het 'n man by die kerk se voordeure ingestap, stadig tot voor die kansel, 'n paar minute daar vertoef en dan weer uitgestap.
 
Die predikant het hierdie daaglikse ritueel gade geslaan en besluit op 'n dag om meer van die man te wete te kom. Hy stap na hom toe en sê: "Goeiedag, Meneer, ek sien jou elke dag by die kerk instap en dan weer na 'n paar minute uitstap, is daar dalk iets waarmee ek kan help?"

Die man kyk na die predikant en glimlag: "U sien, dominee, ek kan nie baie goed en lank bid nie, nou stap ek maar elke dag gedurende my etensuur om 12 uur hier by die kerkgebou in en dan stap ek tot daar voor die preekstoel en dan sê ek: 'Hallo, Jesus, dis Jim hier,' en dan stap ek maar weer uit."

En so het die tyd verbygegaan, en eendag het een van die gemeentelede vir die predikant kom sê dat Jim in die hospitaal opgeneem is, en dat dit nie goed gaan met hom nie. Die predikant gaan toe hospitaal toe en vra die saalsuster hoe dit met Jim gaan. Sy sê toe dat sy die man so jammer kry - hy is so siek, en kry geen besoekers nie.

Die predikant gaan toe na Jim se bed, en vra: "Jim, hoe gaan dit met jou?"
 
Jim se hele gesig kry 'n uitdrukking van blydskap toe hy antwoord: "Dit gaan baie goed met my, ek het nou net besoek ontvang."
 
Die predikant was baie verbaas, want die saalsuster het nou net gesê dat Jim geen besoekers kry nie. Hy vra toe: "Wie was jou besoeker, Jim?"
 
Jim vertel opgewonde dat elke dag om 12 uur dan stap Hy hier in en dan sê Hy vir my: "Hallo, Jim, dis Jesus," en dan stap Hy weer uit.

Soms dink ons dat ons geleerde woorde moet besig om met die Vader te praat. Maar Hy is ons Vader, en Hy hoor nog voordat ons gevra het. Ons kan met ons Hemelse Vader praat oor enige iets net soos ons met ons aardse vaders kan praat. 

En Hy is altyd daar om te luister, en te antwoord. Al sê ons net Hallo, Jesus, dis maar net alweer ek - ek het nie baie woorde nie, maar lees asseblief vandag my hart.

[Skrywer - Onbekend]

Thursday, 10 April 2025

Dink hieroor: U is steeds lief vir my

Ek weet ek is nie perfek nie.
Ek vergeet soms om dankbaar te wees.
Ek verloor soms my humeur.
Ek is nie altyd in staat om
my medemens te help nie.
   Maar ek weet:
U is altyd daar vir my,
   ek weet
U is altyd in my huis.
   Ek weet met al my foute
is U steeds lief vir my ...
Dankie vir elke dag
wat U vir my gee
om oor te begin.

[Dankie, Elmari]

Wednesday, 9 April 2025

Mossiestilte: Maak my rug sterker ...

"My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewing oor julle kom, want, soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard."
(Jak. 1:2-3)

Niemand spring swaarkrydae vry nie. Dat daar nog baie dae van beproewing vir ons voorlê, weet ons ...

Gelukkig weet ons ook dat God ons sal versterk in tye van teenspoed. Tog kom daar dae wanneer ons bid dat God 'n stuk swaarkry van ons moet wegneem. En as dit dan nie gebeur nie, verstaan ons nie waarom Hy nie ons gebede verhoor nie.

Thomas Fuller het in tye van teenspoed gebid: "Here, die pak op my skouer is so swaar - neem dit asseblief weg. En as dit nie U wil is nie, maak dan my rug sterker." Soms is ons so besig om te bid dat die Here die swaar drag op ons skouers moet wegneem, dat ons nie eens agterkom dat Hy in die tussentyd ons rug sterker gemaak het nie - dat ons, met sy krag, die pak met gemak verder kan dra nie.

God beloof in sy Woord dat Hy jou nie bo jou kragte sal beproef of meer van jou sal verwag as wat jy kan verduur nie. Hieroor skryf Paulus in 1 Kor 10:13.  

God verander daarom nie altyd jou omstandighede nie, maar Hy rus jou toe om met die omstandighede te kan saamleef. Hy genees dalk nie jou siek man nie, maar Hy gee jou dag na dag die krag om hom te kan versorg. Jy kan moontlik geen verskil in jou opstandige tiener se lewe sien nie, maar op onverklaarbare wyse ontdek jy dat jy ongekende geduld het om hom te kan hanteer. Jou man of kind kry dalk nie dadelik die werk waarvoor jy so onvermoeid bid nie, maar dag na dag ondervind jy dat die Here sorg.

En aan die einde van die dag ontdek jy met verbasing dat jou rug sterker is, dat die stuk swaarkry waarteen jy so baklei het, jou net nader aan God gebring het.

Dankie dat ek met u hulp sterker en beter anderkant kan uitkom. Amen.

Tuesday, 8 April 2025

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Wense vir jou lewenspad

Mag jy altyd ...
* Gemaklik stapskoene vir jou lewensreis aanhê.
* Presies weet waar jou motorsleutels en selfoon is.
* Betyds vir 'n werksonderhoud wees.
* Presies weet waarheen jy op pad is.
* Jou sambreel onthou - al skyn die son as jy die huis verlaat.
* Die vulstasie haal voordat jou brandstof op is.
* Betyds die melk uit die mikrogolfoond haal.
* Geluk in jou lewe ervaar.
* Oor die nodige innerlike krag beskik om moeilikhede die hoof te bied. 

Monday, 7 April 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: Die Boesman se Onse Vader

Onse Vader wat doer êrns vêr bo in die bloulug is,
diese warm dag wil ikke op myse
kniege tot U kom bid:
Lat U se koningskap tog by ons kom,
en lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre,
en lat U se wil
gebeure doer bo by U rond,
net so gebeure hier by ons Boesm’land se grond.
Gee ons vandag onse tjai-impie kos
en vergewe ons, onse sondige gemors,
sos ons die ander minse sin vergeef.
Here lat die kwaad doen goerterse wye draaie
om ons loop en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie.
Die minse doen sulke lelike goerters teen my,
maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie,
dan sal U mos ok nie myne raak sien nie. U is vir altyd en vir altyd.
Amene my groot Kroon.

[Die Boesman se Onse Vader soos geskryf deur P.J. van den Heever]

Sunday, 6 April 2025

Kerkraadnuus: Saterdagaandkuier


'n Spesiale dankie aan Jannie en Ansie vir hulle gasvryheid. Dit was 'n aand propvol lag, gesels en lekker eet. Ons beplan spoedig weer so 'n lekker kuieraand. Kerkraadslede, staan reg met die pen om die datum te omkring.

Foto's: Elsa Minne  

Saturday, 5 April 2025

Mossiestilte: God se Genade

Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld
en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,
want Hy het die fondamente daarvan in die see gelê
en dit stewig gevestig in die waters.

Psalm 24:1-2 NAV

God het die aarde se fondasies in die see gelê, sê Dawid - volgens sy antieke verstaan van die wêreld. Met ons oneindig beter wetenskap handhaaf ons egter dieselfde waarheid: God het alles gemaak! HY het die heelal beplan en dit toe laat bestaan, laat voortkom. HY weet van elke hemelliggaam en elke krag, HY ken die misterieë van die spoed van lig, van donker energie, van die kragte wat atoomdeeltjies bymekaar hou of wat galaksies uitmekaar dryf. God is die Fisikus, die Wetenskaplike, die Projekbestuurder en ook die Eienaar - dis alles Syne! Hy ken ook elke mens, want Hy het elke mens láát ontstaan. Daarom is elke mens ook Syne: gelowig of ongelowig, gehoorsaam of nie, of hulle Jood, Christen, Moslem of Hindoe is - elke mens behoort aan Hom. Bekering is om dit te besef en na die Maker, die Kunstenaar terug te keer, om in lyn te kom met SY plan. Wie ken jou beter as HY wat jou ontwerp het?

Dankie, Hemelse Kunstenaar, dat U elkeen van u kunswerke so liefhet. Ook vir my. Amen.

Kerkgenotjies: Nog steeds Koos

* Koos se eerste kleinkind is gebore en met die doop word daar 'n hele klomp foto's van die geleentheid geneem. 'n Paar dae later sit Koos en sy vrou na die foto's en kyk. Koos tel 'n foto op van hom en sy kleinkind. 
"Ag, kyk net," sê sy vrou, "hy bly darem maar net te oulik!"
"Ja, ja," sê Koos, "maar kom ons konsentreer liewers op die baba!"

* Dis Kerstyd en Koos en sy vrou is na Stoffel se huis genooi vir middagete. Stoffel maak reg om die kalkoen op te kerf en sê: "Van watter deel van die kalkoen hou jy, Koos?"
"Die vleis."

* Koos, ek hoor jou niggie van Kaapstad kom kuier."
"Ja, en sy is nou vir jou 'n ware dame. Jy moet net sien hoe staan haar pinkie in die lug wanneer sy 'n koppie tee drink."

Friday, 4 April 2025

Goeie wense: Lewensvreugdes

Ek wens jou die vreugde van ...

* 'n Onverwagte bos blomme.
* Die reuk van reën op 'n versengende dag.
* 'n Spinnerak vol vroeë oggenddou.
* 'n Skat tussen die rommel by die vlooimark.
* 'n Heerlike lang gesels e-pos.
* Die blomparfuum van 'n yesterday today & tomorrow.
* Sonneblomlande langs die pad.    
* 'n Onverwagse aflewering van 'n verrassingspakkie.

Thursday, 3 April 2025

Platfonteinnuus: Die A-span is 'n wenspan


Ons wil graag vir Rinus Slabbert, sy energieke A-span en Coen Visser bedank vir die uitreik, die uitstekende liefdesdiens wat hulle gedoen het om die Xhun Kerk-vloerprojek te voltooi in 'n rekordtyd. Julle bereidwilligheid, toegeneentheid en goeie samewerking het nie ongesiens verby gegaan nie. Vyf Xhun-manne het hulle sweet saam met die sement in die kerkvloer ingewerk. 

Dankie klink na só 'n klein woordjie vir so 'n groot taak.

[Foto: Coen Visser]

Dink hieroor: Kinders is musiek in jou siel se kamers

Ek het jou lief, my kind -
nie net omdat ons die paar vertrekke onder hierdie dak moet deel nie. 

Ek het jou lief omdat jy altyd musiek maak in die kamers van my siel.
O, ek weet ek druk my ore laggend toe vir die hop-skop-popmusiek van jonkwees,
vir die heavy metal en die sogenaamde gospel wat vir my nog wilder as al die ander klink.

Jy maak lag-musiek en elektroniese musiek,
walsmusiek en moedhoumusiek,
omgeemusiek en treurmusiek,
jong musiek en jolige musiek ...

Jy is die lewerik in my lewensboom, my kind.
Ek wil hê jy moet weet:
ek luister so gráág na jou.

Straatuitreik: Getuienis