Wednesday, 9 April 2025

Mossiestilte: Maak my rug sterker ...

"My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewing oor julle kom, want, soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard."
(Jak. 1:2-3)

Niemand spring swaarkrydae vry nie. Dat daar nog baie dae van beproewing vir ons voorlê, weet ons ...

Gelukkig weet ons ook dat God ons sal versterk in tye van teenspoed. Tog kom daar dae wanneer ons bid dat God 'n stuk swaarkry van ons moet wegneem. En as dit dan nie gebeur nie, verstaan ons nie waarom Hy nie ons gebede verhoor nie.

Thomas Fuller het in tye van teenspoed gebid: "Here, die pak op my skouer is so swaar - neem dit asseblief weg. En as dit nie U wil is nie, maak dan my rug sterker." Soms is ons so besig om te bid dat die Here die swaar drag op ons skouers moet wegneem, dat ons nie eens agterkom dat Hy in die tussentyd ons rug sterker gemaak het nie - dat ons, met sy krag, die pak met gemak verder kan dra nie.

God beloof in sy Woord dat Hy jou nie bo jou kragte sal beproef of meer van jou sal verwag as wat jy kan verduur nie. Hieroor skryf Paulus in 1 Kor 10:13.  

God verander daarom nie altyd jou omstandighede nie, maar Hy rus jou toe om met die omstandighede te kan saamleef. Hy genees dalk nie jou siek man nie, maar Hy gee jou dag na dag die krag om hom te kan versorg. Jy kan moontlik geen verskil in jou opstandige tiener se lewe sien nie, maar op onverklaarbare wyse ontdek jy dat jy ongekende geduld het om hom te kan hanteer. Jou man of kind kry dalk nie dadelik die werk waarvoor jy so onvermoeid bid nie, maar dag na dag ondervind jy dat die Here sorg.

En aan die einde van die dag ontdek jy met verbasing dat jou rug sterker is, dat die stuk swaarkry waarteen jy so baklei het, jou net nader aan God gebring het.

Dankie dat ek met u hulp sterker en beter anderkant kan uitkom. Amen.