Wednesday, 16 April 2025

Mossiestilte: 2 Sam. 24:10

Maar Dawid se gewete het hom gekwel nadat hy die volk getel het, en Dawid het aan die Here gesê: Ek het swaar gesondig deur wat ek gedoen het; Here, vergeef dan nou tog die skuld van u kneg, want ek het baie dwaas gehandel.

Hoeveel keer het jy al dwaas gehandel? Seker vele kere. In vandag se lewe hoor ek gereeld ouers of opvoeders sê: Dit maak nie saak hoeveel keer jy verkeerd doen nie, solank jy net daaruit leer.
Dawid het onmiddellik na God gegaan en sy sonde gaan bely. Elke besluit wat ons neem het egter 'n verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan, en dit kan ook 'n straf insluit. 
Dawid is tesame met sy volk gestraf, maar daarna weer geseën.
Bely jou sondes vandag en kom tot inkeer/bekering. Vat jou straf, maar weet omdat jy na God gegaan het, sal sy straf kom maar ook sy genade vir jou.

Here, ek bely die doelbewuste sondes wat ek as u kind doen of gedoen het. Ek weet U het vir my sondes gesterf en sal my weer optel en U sal my steeds nie verlaat nie. Ek wil altyd by U bly en by U skuil. Daar is ek veilig en U sal my red om vir ewig in u koninkryk by die Vader te bly. U weet alles Here en ek kan niks wegsteek nie. Ek loof U goeie en grote Naam. Amen.