Friday, 5 December 2025

Wie van ons ken nie 'n persoon wat van kla en kerm hou nie?

DALK IS JY SELF EEN ...

* OM NEGATIEF IN DIE LEWE TE WEES OOR ALLES IS 'N KEUSE WAT JY SELF MAAK.
Ek is seker elkeen van ons het al iemand vermy wat elke dag net kla oor alles, omdat dit vir jou voel dat dit maak nie saak wat jy doen of sê nie, hulle verkies om in alles die NEGATIEWE te sien.

* DIE PROBLEEM MET 'N NEGATIEWE GESINDHEID IS ...
Jy trek mense AF na jou NEGATIEWE vlak toe, en POSITIEWE mense hou NIE daarvan om afgetrek te word NIE - hulle vermy jou liewer.
Mense wat NEGATIEF is en oor ALLES kla, doen GEEN MOEITE om iets in hulleself en hulle lewens te VERANDER NIE. Dit verg te veel energie en dis makliker om op die ou trant aan te gaan.

* NEGATIEWE MENSE LEEF NIE DANKBAAR NIE ...
Jy sien nie die mooi om jou raak nie.
Indien jy wel dankbaar is, gaan dit altyd gepaard met 'n MAAR ... 

ONTHOU:
👍 As JY 'n persoon is wat voortdurend kla en met alles foutvind, moet jy weet dat jy GEEN GELOWIGE se LIEFDE kan uitstraal na ander toe NIE.

👍 Ons Skepper het vir jou 'n BREIN, ENERGIE en KREATIWITEIT gegee, GEBRUIK dit.

👍 As JY TYD het om te KLA en KERM, dan het JY TYD om iets daaraan te DOEN. Raak stil en kom in aanraking met jou Skepper - Hy leef immers binne jou.
 
👍 Laat ons weer BEGIN om ons KLAENDE vriende opnuut AAN TE MOEDIG om saam met ONS 'n VERSKIL te MAAK.

👍 Ons kan slegs 'n VERSKIL maak, as ons met nuwe oë na die wêreld om ons kyk en die mooi raaksien.

👍 Leef dankbaar!!

Afkondiging: Welkom by die erediens

Thursday, 4 December 2025

Kersfunksie: Resthaven


Foto's: Rina Groenewald

Dink hieroor: Wat beplan jy vir Desember?

Wat is op jou agenda vir die feestyd
'n Vakansie by die see, 
kuier tot jy lê, 
duur geskenke vir mekaar?

Wat van vergifnis, omgee en liefde? 
Is dit nie tyd om jou ouers of kinders te vergewe nie?
Dalk 'n oproep om te sê: "Mamma, ek is lief vir jou, no matter what!"
Kom ons begrawe die verlede, 
dit kan in elk geval nie verander word nie.
Kyk vorentoe en maak 'n hartsverskil.

Die lewe is bitter kort, 
daar's nie tyd om kwaad te bly, 
en kwaad te lewe nie ... 
Môre is dalk te laat!

Ons kan nie verwag om die Hemel ons ewige tuiste te maak,
as ons nie kan vergewe nie ...
as ons die  wrok in ons hart vertroetel en lewend hou.
Neem JY die eerste tree en wees die minste.

As God kan vergewe, 
hoekom kan ons nie?
As 'n kind van die Here, 
weet ons wat reg is.
Onthou, tyd staan nie stil nie ...

[Aangestuur]

Wednesday, 3 December 2025

Bybelskool: 1-5 Desember 2025

Ongeveer 60 kinders het vir hierdie wonderlike geleentheid geregistreer - evangelisasie deur kleure.  

Foto's: Ds. Ensie Enslin

Mossiestilte: Fil. 4:8

Verder broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is - watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.

Dink vandag aan alles wat mooi en goed in jou lewe is.
Dink aan alles wat jy van God ontvang het en besef hoe dat God jou goedgunstiglik geseën het.
Bedink hierdie dinge en kom tot diepe insig oor God se groot genade en liefde oor jou en vir jou en dan ... doen dit.

Here, ek is nie vandag besorg nie, maar ek maak my begeertes in alles deur gebed en smekinge met danksegging bekend by U my God. Ek tel my seëninge een vir een, en weet dat die vrede wat my verstand te bowe gaan, bewaar my sinne in Christus Jesus. Mag ek u Naam groot maak deur so te lewe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Dutoitspan sê dankie aan elke adverteerder op die kerkalmanak


Ondersteun asb. hierdie lojale borge!
(Vlg Woensdag word die ander borge geplaas - hou die spasie dop.)

Tuesday, 2 December 2025

Mandjie Hoop: Deel uit en gee weg

Van die dinge wat jy kan hou selfs nadat jy dit weggegee het,
is 'n dankbare hart 
en 'n glimlag ...

Monday, 1 December 2025

Afsluiting van die dagbestuur se werksaamhede vir 2025

Foto's: Elsa Minne
Voorsitter: Henry Weideman
O/voorsitter: Ds. Ensie Enslin

Desember-verjaardae


13 - Eddie (Sally Aucamp)

19 - Henry Weideman

20 - Vincent (Sally Aucamp)

Gebed: My Here en my God

U wat altyd met my is,
U wat my ophef,
U in wie se ewige arms van liefde en krag ek veilig rus -
aan U sing my hart hierdie lied van lof en dank.

Met vreugde wy ek my aan U werk en diens.

Met dankbaarheid ontvang en gee ek U seëninge wat oor my uitgestort word.

Met toewyding laat ek U lig en liefde en krag
in en deur my straal
om alles en almal in my wêreld 
en U wêreld 
te lei en te rig volgens U volmaakte 
plan. 

Sunday, 30 November 2025

Kerssangdiens 2025

Foto's: Elsa Minne

Kerslied: Somerkersfees

1. Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beierin eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

3. Voel jy ook nou Sy warm liefde
As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het –
Ons grootste Kersgeskenk.

KOOR
Kersfees kom, Kersfees kom -
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

* Die eerste twee verse is deur Koos du Plessis (1945-1984)) geskryf in 1971 en die derde deur Jannie du Toit in 2001.

[Klik HIER om na 'n video te kyk. Bron: HIER ]

Uitnodiging: Kom woon vanaand se Kerssangdiens by!

KOM DEEL IN DIE VREUGDE
VAN DIE KERSSANGDIENS!
WANNEER: 30 November 2025
TYD: 17:30 vir 18:00
WAAR: By NG Kerk Dutoitspan
Kom vroeg en bring die bure, vriende en familie saam!!
Heerlike vrugteslaai en roomys na die diens!

Mossieboodskap: Hy sorg vir julle ...

Terwyl 'n werker besig was om die sierbome langs die straat van 'n sekere stad te snoei, het hy 'n mossienes gesien in een van die takke wat verwyder moes word. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die nessie vol kleintjies was. Dit sou noodlottig vir die kleintjies wees as hy die tak moes verwyder. Hy het dus toestemming gekry om die boom later te snoei.

'n Paar weke later was die nessie leeg; en toe hy dit bekyk, sien hy tot sy groot verbasing 'n Sondagskool-tekskaartjie tussen die grassies en stokkies ingevleg, met die woorde daarop: "Hy sorg vir julle." (1 Pet.5:7)

Sal die God wat getrou is aan Sy Woord selfs teenoor die mossies, dan nie ook vir sy kinders sorg nie?

[Die Spoorwegbode: Februarie 1986]

Mossiestilte: Kol. 2:9&10

Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 
en julle het die volheid in Hom wat die hoof is van alle owerheid en mag;

God het jou saam met Hom opgewek uit die dood deur die geloof in die werking van God, sien (vers 12b).
Jy is dus saam met Christus opgewek; soek dan nou dinge wat daarbo is waar Christus aan die regterhand van God sit. (Kol. 3:1)
Wanneer Christus, wat jou lewe is, geopenbaar word, dan sal jy ook saam met Hom in heerlikheid openbaar word. (Kol. 3:4)
Beklee jou nou met die nuwe mens wat  vernuwe word tot die kennis na die beeld van jou Skepper. (Kol. 3:10)

Dankie, Here, vir u genade, wat my vernuwe het en 'n nuwe kleed gegee het in Christus na die beeld van my Skepper; dit is die Woord van God. Ek het nou saam met U opgewek uit die dood in die nuwe lewe. U het het my met u volheid gevul tot eer van u Naam. Aan U al die eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: November

Saturday, 29 November 2025

Kerkgenotjies: Spoed

* Wat doen 'n skilpad op die N1?
So 300 meter per uur. 

* Wat is die definisie van 'n Tiger Moth?
'n Versameling onderdele in 'n formasievlug.

* Dit is Koos se eerste vlug as kaptein en hy wil graag die passasiers en bemanning imponeer. Toe hy taamlik na aan die lughawe vir die landing is, besluit hy om die Boeing reg aan die kant van die aanloopbaan neer te sit sodat hy die eerste afrit na die terminaalgebou kan neem.

Hy bring die reuse vliegtuig stadig en sekuur in, land presies waar hy beplan  het, gooi die motors in trurat, die vlerkklappe lig blitsvinnig op en hy lê op die remme.

Maar ten spyte van alles trek die Boeing reg oor die teerstrook en kom 'n hele ent aan die anderkant in 'n geweldige wolk stof en gras tot stilstand.

Koos is onthuts, want hy kan nie verstaan waarom hy nie die vliegtuig betyds kon stop nie. "Sjoe," sê hy, "dit is die kortste aanloopbaan waarop ek ooit geland het. Maar ek sê jou, dit is wragtie die breedste!"  

[Bron: Finansies & Tegniek, 5 April 1996]

Friday, 28 November 2025

Gedig

"U wat lang afstande te voet afgelê het
in die bloedige somerson
oor stowwerige en gevaarlike paaie
van 'n dor en arm land;

U wat heeldag geskaaf en gesaag het
aan jukke vir osse
en planke vir tafels vir klante
wat soms ook vitterige was, dorpstimmerman;

U wat die houtkruis van skande gedra het
nadat hulle U met stokke geslaan het
en met die vuis en die gesel,
en U die ganse nag nooit kon rus nie;

kyk, Here, ek kom na U met my las
omdat ek moeg is van mense en
die vrees dat ek mag misluk,
en moeg is van wonder oor wat die moeite werd is,
en moeg is om alleen te dra - Help my! "

Uit: Die goeie sal lewe - I.L. de Villiers

Thursday, 27 November 2025

Dink hieroor: Waar begin my Kersfeesvoorbereidings?

Almal is besig met voorbereiding vir Kersfees. Die winkels se rakke is swaar gelaai met al die Kersfeesartikels. Jingle Bells gaan nog 'n paar 100 keer die publiek oor die winkelluidsprekers aanmoedig om te koop, want Kersfees is oor 4 weke en verlede jaar se verkope moet verbeter word.

Hoe lyk my voorbereidings vir Kersfees?? Begin ek by die ...
* Kersboom?
* koop van geskenke vir vriende en familie?
* bak van kleinkoekies of 'n groot vrugtekoek?
* regmaak vir die groot uittog see toe of om die kamptoerusting reg te kry?
* skoonmaak en regpak van kaste voordat die kuiermense kom?
* hartsake wat agterweë gebly het gedurende 2025?

Kersfees verkondig juis die boodskap van liefde - en om eerlik en met my hele hart uit te reik en die boodskap van liefde aan ander te verkondig, moet ek my hart skoonmaak en regpak van al die slegte dinge wat in 2025 in my hart opgehoop het. Die woede, teleurstellings, vermakerigheid, ongeduld, jaloesie, onvergewensgesindheid, belangrikheid, al die dinge wat tussen my en 'n geseënde Kersfees staan. God het ons in sy groot genade al ons skuld deur Christus vergewe. Gaan ek nie dieselfde vir my medemens doen nie?

Laat ons hierdie Kersfees voor die Krip staan met 'n voorbereide hart, een wat reggepak en skoongemaak is. 

Wednesday, 26 November 2025

Mossiestilte: Kol. 3:3

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Paulus sê ook ek leef nie meer nie, maar Christus in my.
Ons is saam met Christus begrawe in die doop. (Kol 2:12)
Ons vlees is begrawe en die Gees van God bly nou in ons, want ons is die tempel van die Here.
Maak dood dan julle lede wat op die aarde is ... vers 5

Dankie, Here, dat U met U dood, vir die wêreld lewe gebring het. Saam met Christus het ek gesterwe en die begeertes van die liggaam afgesterf. Ek het die liggaam van die sondige vlees afgelê in die besnydenis van Christus wat nie met hande verrig is nie. (Kol 2:11). Dankie, Here, vir die genade van vryheid in u Heilige Naam. Nou is my lewe saam met Christus verberg in God. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 25 November 2025

Mandjie Hoop: Tydelik vs Ewig

Skryf al jou drome en 
omstandighede in potlood ...
want dit is tydelik ...
Skryf die HERE se genade
en liefde in ink
Want dit is vir Ewig!

Afkondiging: Selgroep