Wednesday, 31 December 2025

2026-seënwense

# Ek seën jou met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
# Ek seën jou met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
# Ek seën jou met goddelike vriendskappe, mense wat jou sal aanmoedig, en jou droom met jou sal deel.
# Ek seën jou met 'n sagte hart, 'n hart vol liefde.
# Ek seën jou met God se wysheid in elke besluit van jou lewe.
# Ek seën jou met God se leiding, Sy guns en Sy genade oor jou.
# Ek seën jou talente, jou gawes en jou verhoudings.
# Ek seën jou finansies, jou besigheid en jou denke.
# Ek seën jou gees, jou siel en jou liggaam.
# Ek seën jou lewenstaak met vreugde, harmonie en liefde.
# Ek seën jou gesin, familie en jou drome.
# Ek seën jou om jou ware identiteit te vind in Christus.
# Ek seën jou met die wete dat jy 'n Vader het wat jou innig lief het, dat niks wat jy kan doen Hom liewer kan maak vir jou nie, ook nie minder nie.
# Ek seën jou om daagliks Sy voorsiening te beleef, Sy totale beskerming en Sy doel vir jou lewe.
# Ek seën jou met die wete dat niks in jou lewe, verlede of toekoms jou kan skei van die liefde van God nie.

"Die Here sal jou seën en jou behoed;
Die Here sal Sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees;
Die Here sal Sy aangesig oor
jou verhef en aan jou vrede gee"

Geseënd is jy, geliefde van God! Geseënde 2026!
Ontvang die seën in die Naam van Jesus Christus!

[Ek deel graag hierdie seënwense van Ella Goosen met almal wat hierdie blog besoek!]

Mossiestilte 2 Joh. 5:11-12

En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en die lewe is in sy Seun.
Hy wat die Seun het, het die lewe: Hy wat die Seun van God nie het nie, het nie die ewige lewe nie.

Dit is Jesus wat die wêreld ter wille van jou oorwin het. (vers 5)
En dit is die Gees wat getuig, want die Gees is die waarheid. (vers 6)
As jy glo dat Jesus die Christus (Messias) is, is jy uit God gebore, en as jy die Vader liefhet, het jy die een lief wat uit Hom gebore is. 
Hieraan weet jy dat jy die kinders van God liefhet: Wanneer jy God liefhet en sy gebooie bewaar. (verse 1en 2)

Here, ek weet dat ek in U bly en U in my is, dat U my van u Gees gegee het. (1 Joh 4:13) Ek bely dat Jesus die Seun van God is - daarom bly U in my, en ek in U (1 Joh. 4:15). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 30 December 2025

Mandjie Hoop: Praktiese wenke om positief te bly

* Begin jou dag met ‘n positiewe gedagte.
* Omring jouself met positiewe mense.
* Oefen gereeld om jou gemoedstoestand te verbeter.
* Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal.
* Vermy negatiewe selfpraat.


Monday, 29 December 2025

Gebed: Maak my niks ...

Dankie, Here, vir al U liefde en omgee. 
U verstaan almal se lewe en omstandighede. 
Dankie vir U onbeskryflike liefde en genade vir ons.
Here, ek is maar 'n een-snaar viool,
maar U kan my gebruik in U diens ...
Ek wil dit wat ek het tot U diens gebruik ...
maak my niks sodat U alles in my lewe kan word.

Sunday, 28 December 2025

Mossieboodskap: "Voordat hulle roep"

 
In die lente van 1875 het Hudson Taylor, die geliefde stigter van die "China Inland Mission" na Londen teruggekeer, nadat hy 'n reeks dienste op Brighton bygewoon het. Terwyl hy vir sy trein op die stasie wag, het 'n Russiese edelman wat ook dieselfde dienste bygewoon het, hom genader. Toe hy verneem dat mnr. Taylor Londen toe gaan, het hy voorgestel dat hulle saamreis in dieselfde kompartement.
"Maar ek reis derdeklas," het die sendeling gesê.
"My kaartjie laat my ook toe om derdeklas te ry," het die edelman beleefd geantwoord.

Toe die trein aankom, het hulle hul sitplekke ingeneem en saam verder gereis. Na 'n rukkie het Graaf Bobrinsky sy sakboek uitgehaal met die woorde: "Laat my toe om jou 'n klein bedraggie te skenk tot ondersteuning van jou werk in China."

Mnr. Taylor het na die banknoot gekyk wat aan hom oorhandig is, en gevoel dat daar seker 'n fout moet wees - dit was nie minder as eenhonderd pond nie! (Dit was baie geld in daardie dae. Seker minstens tien keer die waarde van vandag se geld.)

"Het u bedoel om my tien pond te gee?" het Mnr. Taylor dadelik gevra, en toe bygevoeg: "U het seker 'n fout gemaak. Hierdie noot is eenhonderd pond. Neem dit asseblief terug."

"Ek kan dit nie terugneem nie," het die edelman geantwoord, net so verbaas soos die ander. "Ek wou jou tien pond gee, maar God het seker bedoel dat jy eenhonderd pond moes kry. Ek kan dit nie terugneem nie."

Diep beïndruk deur die voorval, het Mnr. Taylor sy bestemming bereik. Toe hy by sy hoofkwatiere in Londen aankom, was daar 'n biduur aan die gang. 'n Sekere som geld moes onverwyld na China toe gestuur word, en daar was nege en negentig pond en tien sjielings kort op die benodigde bedrag. Dit het diegene wat daarvan geweet het na hul knieë gedryf om hulle behoefte in gebed aan God bekend te maak. Nege en negentig pond en tien sjielings is in geloof aangevra en daar op die kantoortafel het Mnr. Taylor sy kosbare banknoot ter waarde van eenhonderd pond neergesit - die antwoord op hulle gebed. 

Lees gerus meer oor Hudson Taylor HIER en HIER!

[Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Mossiestilte: Heb. 13:5&6

Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?
Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het: Want Hy hy gesê: Ek sal julle nooit begewe nie en jou nooit verlaat nie.

Vandag het Jesus reeds vir jou die gawe van lewe gegee om vooruit te loop, maar sy oog sal jou beskerm.
Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het geen voordeel gehad het nie. (vers 9)

Here, maak my hart sterk en onwankelbaar vanoggend, en nie vatbaar vir allerhande ander leringe as wat U my leer nie. Laat ek gedurig aan U 'n lofoffer bring, dit is die vrug van my lippe wat U Naam bely (vers 15). 
Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 27 December 2025

Kerkgenotjies: Ons vriend, Koos

Hierdie staaltjie het baie baie jare terug by die Kaapse stasie afgespeel. In die dae van ponde, sjielings en pennies ...

Koos stap oudergewoonte deur die Kaapstadse stasie, toe hy 'n nuwe masjien sien wat jou weeg en met jou praat. (KI was nog nie eens 'n gedagte nie.)

Hy klim op die skaal en sit sy sjieling in. Die masjien sê toe: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, 'n snor, jy dra 'n grys pak, werk by Sanlam en haal elke middag die 5:15 na Plumstead.

Koos kon sy ore nie glo nie. Hy gooi weer 'n sjieling in en kry presies dieselfde antwoord.

Hy sien die haarkapper op die stasie is nog oop, spring gou by die deur in en laat sy hare knip en sy snor sommer heeltemal afsny. Hy het soos die toeval dit wil hê, ook daardie middag 'n nuwe pak klere vir die werk gekoop. Hy gaan kleedkamer toe en trek dit aan.

Hy gaan klim vol verwagting weer op die skaal, waarop die masjien antwoord: "Jou naam is Koos van der Merwe, jy weeg 160 pond, jy het bruin hare, dra 'n bruin pak, werk by Sanlam en terwyl jy hier rondgespeel het, het jy die 5:15 na Plumstead verpas.

Friday, 26 December 2025

‘n Mooi Kersfeesverhaal

Verlede jaar, besluit Gert en Lien dat aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Gert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

'n Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

"Nou waar was julle toe?" wou ek nuuskierig weet.

"Noord-Kaap" sê Gert.

"Ek het nie geweet julle het familie daar nie?" vis ek verder uit.

"Nie gehad nie, maar nou het ons."

"Nou maar hoe werk dit?" hou ek vol.

"Jy't ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het," sê Gert.

"Maar jy weet mos. Ek dood oor 'n storie."

"Nou maar fyn. Sit terug en luister."

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van 'n storie.

"Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie 'n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

"'Nou maar dan moet jy woestyn toe,' sê sy toe half oprukkerig. 'Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees', en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.'

"Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

"'Ek weet' kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

"'Nou waar sal ons dan heengaan?' wou sy weet.

"Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

"Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis 'n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

"Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op 'n grondpad. Die grondpad word toe wel later 'n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe 'n koedoe of twee, drie en selfs 'n troppie gemsbokke. Deur plase en seker 'n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

"Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na 'n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar 'n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

"'Dis lekker hier', sê sy toe. 'Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.' Sy giggel avontuurlik.

"Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. 'Kyk hoe mooi is die sonsondergang' sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons 'n vreemde geluid hoor. So 'n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar 'n donkiekarretjie om die draai.

"'Ek sê vir die vrou ek moet loop kyk. Ek dink ek hoor iets,' sê die oompie op die bankie toe die karretjie langs ons tot stilstand kom.

"Ek draai om en kyk na die oompie. Rateltaai en voos gebrand deur die son sit hy daar.

"'Kom, meneer-hulle kan nie hier in die vlak slaap nie. Die vrou het al klaar julle kamer reggemaak.' Dis duidelik dat die oom nie nee vir 'n antwoord gaan vat nie.

"'Sal Oom omgee as ek saam met Oom ry? Ek het nog nooit op 'n donkiekarretjie gery nie,' vra Lien toe opgewonde.

"'Alte seker Mevrou. Wag ek help vir Mevrou,' sê die oom en help vir Lien tot op die bankie. Stadig kruie ons daar met die slingerpaadjie aan tot by die huisie. Lien waai vir my van die bankie af. Sy is so opgewonde soos 'n skoolkind.

"Die huisie is skoon en netjies op 'n eenvoudige manier. Die tante kom op die stoep uit toe ons stilhou.

"'Maar welkom hier by ons, Hennerik vat die meneer-hulle se goed en sit dit in die spaarkamer kom nader die ketel kook al,' sê die tante alles in een asem.

"Toe ons in die kombuis instap, ruik ek die geurig gekookte kos, en die brandende paraffienlamp op die wit geskropte tafel.

"'Kom ek wys vir Mevrou waar die badkamer is Mevrou wil seker eers bietjie hande en gesig was voor ek koffie skink.' Weer alles in een asem.

"Ek help die oompie om ons bagasie kamer toe te dra. 'Maar hoe is dit dat die tante die kamer so vinnig reggemaak het,' wil ek by die oompie weet.

'Nee, Meneer sien, die vrou maak elke jaar so 'n week voor Kersfees al die kamer reg. Maar ek sal later vir Meneer die storie vertel. Kom was eers hande en dan gaan drink ons koffie.'

"Later, toe ons aan tafel sit, merk ek dat die tante nie net vir twee gekook het nie. Dit lyk asof sy ons verwag het. 'Hoe is dit dan dat dit vir my lyk asof tante ons hier verwag het', vra ek nuuskierig.

"'Maar natuurlik het ek mense verwag die Liewe Heer stuur elke jaar vir ons mense vir Kersfees Hy het nog nie een jaar oorgeslaan vandat die kinders hier weg is stad toe nie ek het Hom so gevra en Hy het so gedoen.' Punte en kommas bestaan nie vir die tante nie. "'Hoe dan so, tante?' wil ek weet.

"'Nee meneer sien ons is eintlik afstammelinge van die Griekwas wat vroeër jare hier deurgetrek het en onse kinders het nooit die liefde vir die wêreld gehad soos ons dit het nie en jare terug het hulle besluit hulle is moeg vir die wêreld met sy hitte en droogtes en goed en op 'n dag het hulle net besluit om weg te trek en tot nou toe het ons nog nie weer 'n woord van hulle gehoor nie dis vanjaar al vyftien jaar dat hulle weg is.

'"Die tante skep asem. Die oom vat oor. 'Net voor die eerste Kersfees nadat die kinders hier weg is, sê ek vir die vrou, ek sê Ma, ek kan nie hierdie jaar Kersfees hou nie. Die kinders is weg en dis net ons twee en my hart is seer en sal net seerder word hier oor die Groot Dae. Wat gaan ons maak?'

"'Sy sê toe, Hennerik, moet nou nie daaroor wakker lê nie ek het reeds vir onse Hemelse Vader gevra om vir ons mense te stuur vir Kersfees more gaan ek die spaarkamer begin regmaak en jy moet kom hjelp.'

"'Dit was 'n week voor Kersfees. Die volgende dag het die stof gestaan soos die vrou alles begin regmaak het, en ek het angstig gehoop dat die Vader vir haar gehoor het en dat sy nie teleurgestel sal wees nie.'

"Die tante val in. 'Daardie eerste jaar het die mense gekom ook op Oukersdag net soos meneer-hulle ook geverdwaal ek het kant en klaar gekook gehad toe hulle hier aanland daar was 'n kleintjie ook by ek was so bly Hennerik het gesê die Here het ons nie alleen gelos nie.'

"Die eenvoud, geloof, vertroue en die opregtheid van die mense het my aangegryp," vertel Gert.

"Nadat ons geëet het, het die oompie die dankgebed gedoen en toe strammerig opgestaan. 'Sit julle net so. Ek gaan net die Bybel haal.'

"Toe die oom terug kom, gee hy vir my die Bybel aan.

"'Sal Meneer asseblief vir ons lees. Nie ek of die vrou het enige gelerendheid nie en al wanneer ons die Bybel uithaal is wanneer hier mense kom wat dan vir ons lees. Verder sê ek maar die stukkiekies op wat so met die jare saam in my kop vasgesteek het, of wat ek nog in die Sondagskool uit my kop moes geleer het. My pa-hulle het ons nie skool toe kon stuur nie, maar ons moes elke Sondag kerk toe gaan en daarna was dit Sondagskool.'

"Ek maak die Bybel oop. 'Wat moet ek vir oom-hulle lees?'

"'Lees vir ons asseblief die geboorteverhaal. Soos wat dit in Lukas staan.'

"'Ja, asseblief,' kom dit van die tante, 'dis baie mooier daar as in die ander boeke van die Bybel.'

"Terwyl ek rondblaai, kry ek die reuk van mottegif. Hier en daar is 'n foto'tjie tussen die blaaie gebêre. 
Ek begin lees.

"Die kombuis het amper 'n heilige plek geword. 'n Katedraal. Ek lees van Maria en die Kind. Van die stal en die krip. Van die herders en die wyse manne. Die stil toe ek die Boek toemaak.

"Die oom sit met sy hande in eerbied gevou. Deur die kombuisvenster het die volmaan groot en wit oor die kameeldorings gelê. Saggies begin die tante Stille Nag te sing. Haar oumensstem is krakerig, maar vir ons het dit die klank van 'n nagtegaal gehad. Dis asof van iewers af die engele saamgesing het. Die oom het met sy dreunstem ingeval en Lien kort na hom.

Ek het probeer, maar die knop in my keel was te groot. Ek kon net fluister. Ek het daar lief geword vir hierdie twee eenvoudige, maar opregte mense.

"'Ek wens daar was iets wat ons vir die twee oues kon doen,' sê ek later vir Lien toe ons in die bed lê.

"'Hulle het alles wat hulle nodig het,' sê Lien. 'Wêreldsgoed beteken vir hulle niks nie. As ons iets wil doen, moet ons bid en vra dat die Here hulle kinders sal laat terugkom.'
"Daar langs die bed het ons toe gekniel en vir die Here gevra om tog ook aan die oumense se hartseer te dink en hulle kinders te laat terugkom. Met 'n tevrede gemoed het ons die kers doodgeblaas en aan die slaap geraak.

"Die oumense was baie bly toe ons vra of ons 'n paar dae langer kan bly. Ons kon eenvoudig nie genoeg van hulle gasvryheid kry nie. Ons het saam met hulle lang ente met die donkiekarretjie in die veld gery, en dit was veral vir Lien baie lekker. Dit het my laat besef hoe leeg ons lewens regtig geword het. As ons kuiermense kry, dan vat ons hulle na een of ander Mall of 'n ding toe, maar hier is 'n rit op 'n donkiekar in die veld 'n sielelafenis.

"Oujaarsdag middag, toe ons terugkom van die veld af, sien ons die vreemde kar onder die kameeldoring staan.

"'Haai kyk pa ons het nog mense gekry is dit nou nie vir jou wonderlik nie?'

"Dis toe die figuur om die hoek van die huis kom dat die oom die teuels styf pluk. Die donkies het nog nie eers behoorlik stilgestaan nie, of die oom spring af en storm vooruit.

"'Hennerik! Hennerikkie my seun!' Die oom huil.

"'Pa!' roep die man van die hoek af. 'Pa!' Toe is hulle in mekaar se arms. Die pa en sy seun.

"Die tante kom ook by. 'Hennerik . . . Hennerikkiekie, is dit regtig jy, my kjind?' Die tante se vreugde ken geen perke nie. Hulle omhels mekaar.

"'Wag Ma, Pa, hier is nog mense.' Toe sien ons die ander mense wat om die hoek kom.

"'Freek!' roep die oom. 'Freek, ag my seun. Ek is so bly. Die Here is vir ons goed. En die ander? Wie is hulle?'

"'Pa, Ma, ontmoet ons vrouens en julle kleinkinders.'

"Toe het daar voor ons oë 'n ding gebeur wat in my geheue ingegraveer is en wat ek sal onthou tot die dag van my dood," sê Gert.

"Die oom sak daar op die warm kalaharisand op sy knieë neer en bid 'n dank- en lofgebed waarvan ek die gelyke nog nie gehoor het nie. Soos 'n Abraham van ouds. Op sy knieë met sy hande na bo uitgestrek.

"Ek en Lien het na mekaar gekyk. Trane het in Lien se oë geblink. Ons het op heilige grond gestaan. Ons gebed is verhoor. Die Here het vir ons gegee presiés wat ons van Hom gevra het."

(Bron: Internet - skrywer onbekend)

Afkondiging: Welkom by die erediens

Thursday, 25 December 2025

A Christmas Letter from Jesus

When you look for me at Christmas, 
you won’t need a special star.
I’m no longer just in Bethlehem, 
I’m right here where you are.
You may not be aware of me 
amid the celebrations.
You’ll have to look beyond the stores 
and all the decorations.
But if you take a moment 
from your list of things to do,
To close your eyes and say a prayer, 
I’m waiting here for you.
You’re the one I want to be with. 
You’re the reason that I came!
And you’ll find me in the stillness
Where I’m whispering your name.

[Thank you, Rina, for sharing]

Kerswense vir 2025

Mag jy altyd in die wonder van Kersfees glo ...

Mag jou mooi hart in hierdie Feestyd iemand anders se hart aanraak en ‘n afdruk van Jesus se liefde, vrede en vreugde daar los. 
Mag jou Christusfees een wees van vrede en die dag die mooiste herinneringe sal laat vir jou skatkis van die lewe, want ‘n Koning en Verlosser is vir ons gebore, en Sy naam is Jesus. en mag jy in hierdie Feesseisoen besef dat God se planne vir jou, soveel groter is as jou drome vir jouself.

Wednesday, 24 December 2025

Sally Aucamp: Kersfeeshemde

 

Dankie, matrone Elize Cilliers en haar personeel vir die ekstra myle wat julle gedurende hierdie jaar geloop het en die baie besondere en persoonlike Kershempies vir elke inwoner. Mag julle dag baie spesiaal en geseënd wees.

Foto's: Rina Groenewald

Mossiestilte: Jesaja

Jes. 7:14 Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.
Jes. 9:5 want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors ...
Miga 5:1 En jy, Bethlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. vers 2. Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat 'n barende gebaar het ...


Op hierdie dag onthou ons daar is 'n Kind gebore, wat vir ons verlossing gebring het, wat die pad vir ons geopen het en met sy genade en geregtigheid ons weer na die Vader teruggebring het, om saam met Hom in hemelse plekke te mag sit. Kyk Hy is elke dag en altyd met ons; Hy is Immánuel.

'n Geseënde Christusfees wens ek jou toe; Joh. 1:52, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele opklim en neerdaal op die Seun van die mens.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 23 December 2025

Mandjie Hoop: Die baba van Dawidstad

Lank gelede in die Dawidstad
Was 'n nederige stal geleë,
En het 'n moeder haar nuwe baba
In 'n krip laat lê gedwee:
Maria was dié moeder fyn,
Jesus Christus haar kindjie klein.
[Cecil Frances Alexander]

Monday, 22 December 2025

Gebed: Die koms van die Liefde

Here Jesus,
Dankie dat U wat die lig van die wêreld is,
bereid was om die hemel prys te gee
en as ‘n mensekind gebore te word
sodat ook ék God se kind kon word.
Dankie dat U vandag nog
kom lig maak in my donkerte,
dat U vir my vrede gee wanneer my hart onrustig is
en dat u liefde die selfsug uit
my hart en lewe verdryf.
Maak my nou u instrument, Here,
sodat ek nie net met Kersfees nie,
maar ook deur die hele jaar vir
moedelose mense ‘n liggie van hoop kan aansteek,
vir bekommerde mense van u vrede kan vertel,
en u liefde kwistig kan deel met
almal wat my pad kruis.
Gee dat almal wat my ken
in my lewe ‘n kykie sal kry
van dié dag toe lig, vrede en liefde
na die wêreld gekom het
om vir altyd voort te leef in die lewe
van u kinders.
Amen

Uit Nina Smit Versameling : In God se Omhelsing

Sunday, 21 December 2025

Dis die laaste naweek voor Kersfees en my se wense vir jou is ...

Mag die wind slegs jou hare deurmekaar woel, 
maar nie jou gees omkrap nie.
Mag die son jou nie skroei nie, 
maar slegs warmte skenk, ook in jou hart.
As die reën op jou val, voel geseënd
As jy guns en gawes ontvang, 
neem dit met dankbaarheid en nederigheid.
As jy vriendskap ervaar, 
koester dit.
As jy liefde ervaar, 
troetel dit.
Mag jou bekers van geloof, hoop en liefde altyd gevul bly.
Mag die geskenke en lesse wat jy van die lewe ontvang, 
groter wees as dié wat met geld gekoop kan word.
Mag jy altyd bewus wees van die kosbaarheid
en kortstondigheid van tyd.
Mag jy veilig loop en ry op die paaie waar jy gaan.
Mag jou opdraandes nie te steil wees nie, 
en mag jou 'bagasie' nie te swaar word nie.
Mag die lewe jou met n sagte hand aanraak.
Mag jy altyd 'n bewustheid, empatie en begrip hê
vir en van die omstandighede van ander.
Mag jy vroegdag opstaan en saans gaan slaap
met 'n hart vol dankbaarheid.
Mag jy die ware Christus-vrede ervaar.

[Dankie, Wilna, dat jy dit met ons lesers deel.]

Mossiestilte: Jes. 7:14

Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.

Soek jy 'n teken van die Here, wil jy jouself regverdig? Miskien wil jy darem die Here nie versoek nie.
Tog het die Here aan die mens 'n teken gegee, 'n maagd wat swanger geword het.
Sonder wellus van die mens, het sy swanger geword, wat self 'n wonderwerk was.
Sy het hom Immánuel genoem: God met ons; "met jou."
Nog 'n teken sou gebeur voor die seuntjie gebore word: Die twee koninkryke wat hulle in Jesaja se tyd gevrees het, se lande sal verlate wees, en tog het Israel en Juda nog bly bestaan.
Die tekens van die tye leer jou om met vertroue en insig, die Enigste Immánuel te aanbid.

Here, hoe kla ons en vrees ons dinge wat binnekort geen krag meer sal hê nie. Hoe soek en begeer ons dinge wat binnekort nie meer sal bestaan nie. U sal sorg dat vlees vergaan, totdat die mens net na U sal verlang en net U sal begeer. Die wêreld sal vergaan, maar die Woord van God sal vir ewig bly staan. U is God by ons: Immánuel. U tekens van die die tye is sigbaar Here. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Desember

Saturday, 20 December 2025

Kerkgenotjies: Egskeiding voor Kersfees


Bron: HIER

* Die ou man in die Kaap bel sy seun in Windhoek die dag voor Oukersaand en sê: “Ek haat dit om jou dag te bederf, maar ek moet jou vertel ek en jou ma gaan na 45 jaar skei.”
“Pa! Waarvan praat jy?” skree die seun.
“Ja,” sê die pa. “Ons het niks meer vir mekaar te sê nie en ons kan mekaar net nie meer langer verduur nie. Ek is moeg om hieroor te praat, so sal jy asseblief jou boetie en sus bel en hulle vertel”

Die ontstelde seun haas hom om die slegte nuus oor te dra ... By die aanhoor ontplof sy sus: “Dit sal die dag wees,” skree sy “Laat dit in my hande!”

Sy bel haar pa in die Kaap en skree: “Julle gaan NIE skei NIE! Moet niks doen voordat ek nie daar is nie. Ek gaan my broers bel en ons sal almal môre daar wees. Moet NIKS voor die tyd doen nie. HOOR PA MY?” en sy sit neer.

Die ou man skakel sy selfoon af, draai na sy vrou en sê: “Opgelos! Hulle almal kom vir Kersfees huis toe en hulle betaal hul eie petrolgeld.

Verjaardagwense

Baie, baie geluk met jou verjaardag, Vincent. Ons is dankbaar dat die Here jou nog 'n jaar gespaar het. Vreugde vir hierdie spesiale dag.
 

Friday, 19 December 2025

Gedig: Kruise langs mekaar

Elke huis het sy kruis,
’n las wat net die draer ken.
Ek dra myne, jy dra joune - nie omdat ons wil nie,
maar omdat dit ons s'n is.

Jy sou myne optel as jy kon,
ek sou joune dra as ek mag.
Maar ’n kruis pas net op een skouer,
en tog, loop ons langs mekaar,
tree vir tree,
jou sug is my gebed,
my las is jou fluistering in die nag.

Dis ligter so - nie omdat die kruis krimp nie,
maar omdat ons weet,
ons is nie alleen nie.

Jy bid vir my, ek bid vir jou,
want dis altyd makliker
om die hemel te storm
vir iemand anders se seer
as vir jou eie stukkend.

Maar miskien,
net miskien,
is dit presies waaroor vriendskap gaan -
nie om die kruis weg te vat nie,
maar om dit te sien,
te erken,
en saam te loop,
langs mekaar,
deur die stof,
tot by lig.

[Skrywer onbekend]

Afkondiging: Welkom by die erediens

 

Verjaardagwense

Henry, ons wense vir jou is 'n jaar gevul met liefde, vreugde, vrede en goeie gesondheid. Hoop jou dag is baie spesiaal en mag jy elke dag net geluk ervaar. Vreugde!

Thursday, 18 December 2025

Gedagte vir die dag

Net Een Lewe ... dis gou verby; 
Slegs wat ons vir Jesus doen,
sal ewig bly

Jy moet 'n fyn oog en oor ontwikkel vir ander se lag en huil sodat jy saam in hulle skoene kan gaan staan en die pad saam met hulle stap.

Dink hieroor: 'n Teenvoeter vir ongelukkigheid

Het jy geweet? 
Om elke dag vir God dankie te sê vir alles wat ons het, 
maak ons harte vol en gelukkig. 
Volgende keer as jy ongelukkig voel, 
dink aan alles waarmee God jou seën, 
en sê dan dankie daarvoor.

Wednesday, 17 December 2025

Mossiestilte: Ps. 36:10

Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig.


Is jou gemoed swaar gedurende hierdie tyd wat ons die Koning van alle konings verheerlik?
Is die tyd so swaar dat jy ligsinnig oor hierdie tyd praat en jouself verswelg aan alkohol; sien jy nie die ster van Dawid nie, sien jy nie die Seun van die mens nie?
Leef jy nie tot eer van jou koning Jesus nie en aanbid jy Hom nie en verheerlik Hom nie oral in jou lewe nie?

Die Here wil vandag vir jou sý lig gee, om jou pad te verlig dat jy die lig vir jou voete te kan sien.
Kom drink by Hom vanuit die fontein van die lewende water sodat jy nooit weer dors kry nie.
God wil jou laat drink uit die stroom van sy genietinge; Hy wil jou verkwik aan die vettigheid van sy huis (vers 9).

My Vader wat in die hemele is, ek wil jubel en juig, want ek het 'n behae in u geregtigheid en wil altyd deur sê: Groot is die Here, wat 'n welbehae in my, sy kneg het. En my tong sal u geregtigheid prys, u lof die hele dag deur. (Ps. 35:27-28). U is die lig vir my voete, sodat ek die lig kan sien. Vanoggend kom drink ek van die lewe en vruegde by U fontein. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Dutoitspan sê dankie aan elke adverteerder op die kerkalmanak


Ondersteun asb. hierdie lojale borge!

Tuesday, 16 December 2025

Bybelskool-dankies!



Kontak Annatjie by annatjieenslinkby@gmail.com as jy in die materiaal belangstel!

Bybelskool raak kinderharte

Kinders van Dutoitspan-gemeente en van oral oor Kimberley het vanaf 1 tot 5 Desember aktief deelgeneem aan die Bybelskool wat deur Dutoitspan aangebied is. Aan stuur van sake was ds. Ensie en sy vrou, Annatjie, wat nie net 'n passie vir God se Woord het nie, maar ook vir kinders. 

'n Entoesiastiese groep van 64 kinders is gedurende die week geleer hoe om die Evangelie aan ander te vertel met behulp van die kleure van die SA vlag.

Die groepleiers was hoërskooltieners en 4 volwassenes (betrokke by 'n nasorgsentrum en 'n kinderhuis) en ds. Enslin het die speletjies aangebied. Die kinders het 'n vol program gehad, en hulle het met oorgawe deelgeneem. 

Elke dag is een van die kleure van die vlag behandel en het al die aktiwiteite van die dag gedraai om die spesifieke kleur, insluitend die Bybelverhaal, die Bybelteksvers, liedjie, skriftelike werk soos blokraaisels en woordsoek, die verskillende speletjies, handwerkaktiwiteit en selfs die verversings!

1.  Goud/geel laat dink ons aan n kroon van ‘n koning. God is ons Koning, Skepper en Onderhouer. Hy is Heilig en baie lief vir ons, daarom wil Hy graag hê dat almal van ons saam met Hom in die hemel sal wees. (Ons verversings was geel kaaskrulle.)

2.  Swart/donker kleur laat dink ons aan die sondeval en die feit dat ons, as gevolg van ons sonde, nie in die hemel kan kom nie.


3.  Rooi – NET die bloed van Jesus kan ons skoonmaak van die sonde, sodat ons saam met God in die hemel kan wees.


4.  Wit – deur Jesus se sterwe aan die kruis is ons heeltemaal skoon gewas en God stuur die Heilige Gees om ons te help


5. Groen – wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanvaar het, moet ons soos ‘n lewende plant bly groei deur: Geloof, gebed en Bybel lees; Gemeenskap met die heiliges (kerk toe gaan); Gee, Gaan, Getuig.

Met behulp van verskeie Kimberley-inwoners, is meer as 600 blare gedroog en gepars vir hierdie aktiwiteit!

6. Blou – Jesus het opgevaar hemel toe en sal weer daarvandaan terugkom om ons te kom haal

Ons moet gereed wees as Hy weer kom. 

Ons maak bottels van “orbeez” van al 6 kleure en gaan hierdie bottels gebruik om vir ander te vertel.

Dit is ons gebed dat elke kind wat die Bybelskool bygewoon het, die Goeie Nuus van Jesus wat hulle gehoor het, sal deel met hulle maats wat nie die geleentheid gehad het om die Bybelskool by te woon nie. 

Dat hulle soos Koning Salomo in 1 Konings 8:23 sal sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ’n God soos U nie.”

Maats, geniet julle vakansie, mag julle Kersfees geseënd wees en onthou die ware rede wat agter al die Kersfeesliggies, vrolikheid en geskenke is.   

Mag 2026 vir elkeen van julle 'n vlag-jaar wees!

Mandjie Hoop: Heerlikheid was oral

Terwyl herders snags
Oor hulle kuddes waak,
almal sittende op die grond,
Het die engel van die
Here neergedaal,
En heerlikheid was oral rond.
[Nahum Tate]

Monday, 15 December 2025

Gebed: Here, hoor ons pleit ...

Koning Jesus, Barmhartige Here,
U het vertel van ʼn Samaritaan
wat in plaas van blindweg verder te gaan
wyn en olie gegiet het op iemand se sere.

Nederige Jesus, sorgsame Koning,
vir blindes, bedelaars, siekes en
sondaars het U ʼn kleim afgepen
in u ryk - in God se ewige woning.

Here, hoor ons pleit dat leiers deur u Gees
in hul kombuis ʼn hoendersop sal kook
ʼn doepa sal brou wat vir hulle en ook
ons chaotiese wêreld tot genesing sal wees!

Want aan U behoort die koninkryk
en die krag
en die heerlikheid 
tot in ewigheid. 
Amen

Ds. Schalk van Wyk

[Klik HIER: Gebed vir wêreldleiers]

Sunday, 14 December 2025

Mossiestilte: Ef. 2:21-22

in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, 
in wie julle ook saamgebou word tot 'n woning van God in die Gees. 

Jy en almal wat kinders van God is, is deel van die liggaam of gebou waarin God woon.
Jou liggaam is 'n tempel van God, maar ook deel van die heilige tempel van die Here.
Die hoeksteen van hierdie gebou is Christus, die hoeksteen wat deur die bouers verwerp is.
So is jy dan nie meer 'n vreemdeling of bywoner nie, maar medeburger van die heiliges en huisgenote van God (vers 19).

Dankie Here, want nou in Christus het ek wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus (vers 13). U is my vrede, U wat die skeidsmuur afgebreek het het en my nou een gemaak met hulle wat na aan U was (vers 13). U het die vyandskap tot niet gemaak, naamlik die die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; U het die vrede gebring en my 'n nuwe mens gemaak (vers 15). U het die evangelie gebring aan hulle wat ver was en die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader (verse 17 en 18). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Desember

Saturday, 13 December 2025

Kerkgenotjies: Blondines

* Twee vriendinne staan en gesels. Die brunet sê sy wil met 'n man met 'n hoë IK trou. 
"Jy bedoel een met 'n hoë intelligensie-kwosiënt?" vra die blondine.
"Nee," sê die brunet, "ek verkies een met 'n hoë inkomste-kwosiënt.

* Die heeltemal oorgewig blondine is ewig by die dokter. Hy sê later vir haar hy dink die meeste van haar probleme kan aan haar gewig toegeskryf word. Hy gee vir haar 'n wetenskaplike uitgewerkte dieet met die raad om dit getrou te volg en hom oor 'n maand weer te besoek.
Sy kyk aandagtig deur dit en sê toe: "Dokter, ek hou hiervan. Maar sê my, moet ek dit saam of tussen my maaltye geniet?"

* Dosent aan blonde student: "Dit is die tweede maal hierdie week dat u laat is vir die agtuur-klas. Onthou, dis ongesond om so laat te slaap."
Student: "Dit mag so wees, professor, maar ek is nie op universiteit vir my gesondheid nie."

[Bron: Finansies en Tegniek, 28 Junie 1996]  

Verjaardagwense

Eddie, baie geluk met jou verjaardag. Mag elke oomblik gevul wees met ons Vader se groot genade. Vreugde vir 'n heerlike dag.

Thursday, 11 December 2025

Dink hieroor: Jou denke

Ons lewenskwaliteit en suksesse wat ons in die lewe behaal, word deur ons denke oor ons omstandighede bepaal. Dit is ons DENKE wat ons motiveer of demotiveer om iets te doen, betrokke te raak of om te onttrek. 

Ons moet daagliks doelbewus daaraan werk om hierdie hierdie kritieke waarheid te kan toepas, maar belangriker nog is dat ons dit vir ons kinders moet leer.

Die manier HOE jy dink, bepaal ook HOE jy na jou omstandighede kyk en daarom is dit een van die  belangrikste opvoedingstake wat ons het. Goeie karatereienskappe is 'n groter geskenk as modeklere en moderne speelgoed. Rus jou kind toe met eienskappe wat hom of haar deur hul lewe kan dra.

Dit is dus ons DENKE oor ons omstandighede wat ons suksesse bepaal.

Sit en gesels met jou kind en stel vas hoe hulle oor sekere aspekte van die lewe voel en jy sal maklik kan vasstel watter karaktereienskappe kort 'n bietjie aandag en watter onsekerhede is reeds uit die weg geruim.

Onthou, jy lê die fondasie vir jou kinders se lewenskwaliteit. Dink daaroor hierdie Kersfees as jy met die duur onnodige speelgoed in jou hand staan. Gaan hierdie speelgoed wat ek op my kredietkaart gaan koop, bydra tot my kind se mensweessuksesse of sus ek my ouergewete?? 

Wednesday, 10 December 2025

Dutoitspan sê dankie aan elke adverteerder op die kerkalmanak


Ondersteun asb. hierdie lojale borge!
(Vlg Woensdag word die ander borge geplaas - hou die spasie dop.)
Klik HIER om verlede week se borge te sien!

Mossiestilte: Ps. 105:4-5

Vra na die Here en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.
Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond.


In jou swakhede vra na die Here en Hy sal jou sy krag gee
In jou armoede sal Hy jou rykdomme gee, selfs as jy slaap.
In jou dwaasheid sal Hy jou wysheid gee as jy Hom vrees en van Hom bid.
Wanneer jy siekte of kwale het, sal Hy jou genesing wees.

Here, my God, ek dink aan al u wonders. My lippe verheerlik U grootheid en aansien. U is hoog en verhewe en u soom vul die tempel. U het wonders aan my gedoen. Groot en ontsagwekkend is U aangesig. U is my Voorsiener en die Vredevors in my lewe. My oë bly op U gevestig my God en my Heer. U spreek en dit gebeur, u oordele hou my veilig. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]