Monday, 31 March 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: Kalahari se Onse Vader

Onse Vader wat innie jimmel in sit,
ons wil nou vandag hier vir U kom bid:
Lat U se naam tog by ons geprysig raak,
lat U se Kapteinskap hier staningse maak,
en lat U se wil gebeure tissen die sterre rond,
net so sos hier oender by ons oppie grond.
Gee vir ons vandag onse koppietjie meel.
Vergewe ons onse gevloek en onse gesteel,
want sos ons nou yt die Woord yt weet:
ons moet dies wat ons vloek ok vergeet.
Lat ons onse rigte gee virrie versoekinge,
en maak los die rieme vannie Dywel se dinge.
Niemand sal nou U se Kapteinskap kan wen,
of U se kragte of nou U se heerlikheid,
van hier tot doer oorkant innie ewigheid.
Nou dan sê ons dan maar eers weer:
Amén

[Bron: Klik HIER

Sunday, 30 March 2025

Mossiestilte: Pred. 3:11

Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind. 

God het die wêreld op sy tyd geskape en daarmee tesame ook vir jou.
God het jou nie soos 'n masjien geskape nie, maar met 'n eie wil, dit is met begeertes en ambisie van jou eie.
Die woord "wêreld" kon hier vertaal word "ewigheid". "The Expositor's Bible" van Jimmy Swaggart, King James Version, 2013 .
God het ook ons verstand beperk om nie alles te verstaan wat Hy gedoen het nie, maar slegs op Hom te vertrou.

Here, vanoggend is ek gefokus op U. U is my krag, sterkte, verstand en wysheid. Op U vertrou ek, want ek verstaan nie, maar ek vertrou u wil, al is dit vir my onverklaarbaar. Vanoggend loof ek U weereens vir u genade wat U aan my bewys het; U het oor my gewaak deur die nag en my wakker gemaak, om my doel te gaan bereik in Jesus Naam. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 29 March 2025

Kerkgenotjies: Ou Koos kom kuier weer

* Koos stap die kroeg binne met 'n kat op sy skouer.
"En dit?" vra die kroegman.
"My papegaai is dood," sê Koos.  

* Koos se buurman kom maak vroeg een Saterdag by Koos 'n draai.
"Koos, ek sien daar sit 'n man hier onder op die hoek van die straat. Hy verkoop die landsvlag. Alle groottes. Dis seker vir rugbywedstryd later vandag. Ek is nou op pad soontoe. Wil jy ook een hê?" 
"Watter kleur?" vra Koos.
"Die gewone landsvlag: rooi en swart en groen en ..."
"Bring vir my 'n groene."

* Koos se buurman het 'n swembad laat bou. Een Saterdagoggend klop die buurman se dogter aan Koos se deur. Sy sê haar pa vra of hy Koos se swembadskoonmaker kan leen. Koos s'n is heel agter bo-op 'n rak in sy garage. Met baie moeite haal hy die boks af, sit dit aanmekaar, gee dit vir die dogter en sê: "Sê vir jou pa hy sal sy eie een moet koop."
"O, maar hy het al," sê die dogter, "hy het dit nog net nie uit die boks gepak nie."

Friday, 28 March 2025

O Lord, my God, when I in awesome wonder

O Lord, my God, when I in awesome wonder
Consider all the worlds Thy Hands have made;
I see the stars, I hear the rolling thunder,
Thy power throughout the universe displayed

Then sings my soul, My Saviour God, to Thee,
How great Thou art, how great Thou art.
Then sings my soul, My Saviour God, to Thee,
How great Thou art, how great Thou art!
And when I think of God, His Son not sparing;
Sent Him to die, I scarce can take it in;
That on the Cross, my burden gladly bearing,
He bled and died to take away my sin.

When Christ shall come with shout of acclamation
And lead me home, what joy shall fill my heart!
Then I shall bow with humble adoration,
And then proclaim, "My God, how great Thou art!"

Then sings my soul, My Saviour God, to Thee,
How great Thou art, how great Thou art.
Then sings my soul, My Saviour God, to Thee,
How great Thou art, how great THOU ...

Thursday, 27 March 2025

Dink hieroor: Kwaliteite van 'n ware vriend

Mag jy 'n ware vriend ontmoet wat ...
* vrylik praat
* regverdig adviseur 
* geredelik onderskraag
* onverskrokke onderneem
* dapper verdedig
* geduldig is en
* nie verander nie

Wednesday, 26 March 2025

Handevatprojek - !XUN ALFA-gemeente (vordering)


Die werk aan !XUN ALFA-gemeente se kerkvloer vorder en dit is vir ons aangenaam om te kan sê dat teen gistermiddag 5 blokke van die vloer reeds voltooi is. Dankie aan elkeen wat op welke wyse hierdie handevatprojek moontlik maak.

Foto: Coen Visser

[Klik HIER om na die beginfoto's wat op 11 Maart geplaas is, te kyk.]

Verjaardagwense

Anna, vandag gee ons met liefde vir jou 'n bossie rooi rose en 'n heerlike koppie tee om op jou verjaardag te drink. Mag Jesus jou oorvloedig seën. 

Mossiestilte: Gal 6:1-2

BROEDERS, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie.
Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.


Ons is so gou om ander te oordeel vir verkeerde dade wat hulle gedoen het. As ons egter dieselfde dinge doen is dit nie 'n probleem nie, "want jy moet my omstandighede verstaan".....??? As dit verkeerd is, is dit verkeerd
As jy geestelik sterk is, moenie ander veroordeel nie, maar help hulle met 'n gees van sagmoedigheid.
Ons wil almal deel hê aan God se genade en sagmoedigheid, maar ons byt mekaar.
Vergewe mekaar en dra ander se laste, so vervul jy dan die wet van Christus, wat jou las gedra het en sagmoedigheid aan jou bewys het deur sy genade.

Here, ek verdien niks nie en sonder U is ek niks, maar met U is ek meer as oorwinnaar, dit is deur Jesus Christus wat my die krag gee. Heilige Gees, maak my oë oop om ander te help met hulle laste wat hulle moet dra. Help my om met sagmoedigheid en genadiglik, ander te help om oorwinning te behaal oor die vlees se begeerlikhede, terwyl ek let op my eie sondes en onvermoëns, wat genadiglik vergewe word. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 25 March 2025

Mandjie Hoop:

Waardeer jou lewe,
Waardeer jou gesondheid,
Waardeer jou geliefdes,
Waardeer jou vriende,
want al hierdie dinge wat
geld nie kan koop nie,
wys jou waar jou ware
rykdom is.
[Dankie,Ena]  

Afkondiging: Selgroep

Monday, 24 March 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: God het my tyd afgemeet om tot sy eer te gebruik

Here my God, ek het tyd.
Oorgenoeg tyd.
Al sê ek so dikwels:
"Jammer, maar ek kan eenvoudig nie dit ook nog inpas nie!"
Ek het al die tyd
Wat U aan my gegee het:
Die dae van my jare
Die ure van my dae
Dit alles het ek tot my
Beskikking om te vul.
Here, ek bring my tyd na U toe.
Ure en dae wat ek vir U kan werk -
Die vrouevereniging, die katkasasie,
die dankfees, gemeenskapdiens ...
Maak asseblief uit die brak en smaaklose
water van my gejaagde ure - geurige, vol, ryk wyn - soos daardie dag in Kana -
Sodat ek daagliks ander se dors daarmee kan les.
Amen  

Sunday, 23 March 2025

Afkondiging: Muntleggingterugvoer

Mossiestilte: 2 Kor. 6:2

Want Hy sê: In die tyd van welbehae het ek jou verhoor, en in die tyd van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is die dag van heil.

2000 jaar terug het God al vir jou genade gegee, nog voor jy 'n idee vir die mens was.
God het jou reeds verhoor, want Hy het 'n welbehae in jou, ja in jou!
Die Here is nou jou hulp in hierdie tyd van heil.
Mag God se genade nie tevergeefs vir jou wees nie ... vgl. vers 1.

Dankie, Here God Almagtig, U het vir die herders op die oop veld gesê dat U 'n welbehae in die mens het. Dankie vir u guns en genade deur u welbehae vir my. 

Lees gerus tot by vers 10 en verstaan die grote genade van Christus wat in jou, sy tempel leef. Baie insiggewend.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Maart

Saturday, 22 March 2025

Kerkgenotjies: Goeie ou dae

* Twee bejaardes stap ná die rolprentvertoning huis toe. "Dit was nogal 'n goeie fliek, dink jy nie ook so nie?" sê John aan sy maat.
"Ja," beaam Jan. "Ek moet egter sê dat ek soms na die ou stil rolprente verlang."
"Hoekom?"
"Ag, dis tog te lekker om te sien hoe 'n vrou haar mond beweeg sonder dat daar 'n geluid uitkom."
  
* Baie vroeg neem Karel 'n lantern uit die kombuis en saal sy perd op.
"En waarheen gaan jy?" vra sy pa.
"'n Bietjie by die bure gaan opsit, Pa."
"Gmf, toe ek so oud soos jy was, het ek nie 'n lantern nodig gehad om op te sit nie."
"Ja," sug Karel, "en kyk net wat het Pa gekry."

Friday, 21 March 2025

Ontmoet ons personeel: Maans van Wyk

Maans is 'n mens wat nie wegskram van werk af nie. Vriendelik, met 'n glimlag op sy gesig, doen hy sy werk, ongeag seisoenuiterstes - die Noord-Kaap se koue winters wat jou hare laat regop staan word gebalanseer deur die ongelooflike stil hitte wat jou hare nat teen jou kop vasplak.

Goeie weer, slegte weer of siekte, Maans is altyd op sy pos.

'n Raakvatter wat kan vasvat. Vandag gaan ons die man 'n bietjie van nader leer ken. Wat laat sy hart klop?

Hier is n paar algemene vrae om die mens agter die motorwag beter te leer ken:

Vraag: Waar is jy gebore?
Maans: Ek is 'n Kimberliet in murg en been. Hier gebore en getoë.

Vraag: Wat was jou lekkerste vak op skool en hoekom het jy daarvan gehou?
Maans: Wiskunde was my gunstelingvak en my punte het die stelling beaam.

Vraag: Het jy enige sport gedoen? Watter sportsoorte pryk bo-aan jou lysie?
Maans: Ek het baie van sport gehou. Rugby, toutrek, langafstande (het 7 keer my Griekwa-kleure vir hierdie sport verwerf). Na skool het ek my energie in boks gekanaliseer.

Vraag: Die hoeveelste kind is jy?
Maans: Ons is ses kinders en ek is die tweede jongste. My suster is die enigste roos tussen ons vyf seuns. 

Vraag: Hou jy van tuinmaak? Hoekom?
Maans: Ek is mal oor tuinmaak en as ek die tuin skoonmaak, maak ek in dieselfde asem sommer my kop ook skoon. Ek hou van 'n netjiese tuin. Mense wat sê dat tuinmaak terapeuties is, slaan die spyker op sy kop.

Vraag: Waar het jy jou vrou ontmoet?
Maans: Ek het vir Anna in Port Elizabeth ontmoet - die stad wat bekend is vir sy vriendelike mense.

Vraag: Wat dink jy is die slegste eienskap van die mens?
Maans: Ek hou nie van mense wat skinder nie. 'n Mens wat skinder sal selde daardie selfde storie voor die persoon onder bespreking herhaal. Om mense af te kraak, val vir my in dieselfde katagorie as skinder. Ons wil goeie gesindhede bou en uitreik na ander mense, dan mag skinder en afkraak nie deel van ons woordeskat wees nie.

Vraag: Jy het al dwarsdeur die nag basaargoed opgepas, veral as die basaar oorkant die Game-winkelsentrum gehou word. Hoe het jy dit ervaar? Was dit gevaarlik? Sal jy dit weer doen en hoekom?
Maans: Ek geniet dit om só betrokke te wees by die basaar en deurnag oppaswerk te doen. Ek doen dit al vir 24 jaar. Ek geniet dit om met die mense geselsies aan te knoop en ook te help waar my hulp benodig word. Nie een keer het ek bedreigd gevoel terwyl ek deurnag waggehou het nie. 

'n Mens besef die waarde van 'n motorwag as jy met 'n geruste hart in die kerk wil sit of inkopies wil doen. 'n Motorwag is in vandag se lewe 'n belangrike aspek vir jou veiligheid. Dit is seker een van die ondankbaarste werke en met al die afjakke wat hulle moet aanhoor, moet hulle 'n dik genoeg vel hê om dit te kan absorbeer.  

Met misdaad wat hoogty vier, is dit so belangrik dat 'n mens iemand het wat na jou kar kan kyk, wat vir jou kan help as jy 'n pap motorband het of te veel pakkies. Hierdie mense werk in moeilike omstandighede, dikwels met moeilike klante wat hulle saam met die slegte weer moet trotseer. Karwagte is en was nog altyd bedagsaam maak nie saak of hul skroei in die son of natreën nie. Ons moet gerus karwagte se werk meer respekteer. 

In kort is hierdie 'n kykie in die man se lewe wat jy elke Sondag met 'n glimlag voor die kerk aantref.

Thursday, 20 March 2025

Dink hieroor: 1 Korinthiërs 13 se liefde

Daar is 'n soort gom
wat alles kan heg en heelmaak -
gesinne, verhoudings, harte,
minderwaardigheidskomplekse,
skandale ... enigiets.

Die liefde ...
"bedek alles,
glo alles
hoop alles
verdra alles."

1 Korintiërs 13:7

Wednesday, 19 March 2025

Mossiestilte: Ps. 91:11

want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

Wat 'n wonderlike vooruitsig, my God het voorsorg getref vir jou op jou pad.
Hoekom moet engele gestuur word om jou te bewaar? Op jou pad is daar valleie en berge, oral sal satan jou aanval en probeer om jou te laat opgee of ingee. 
Dis dan wanneer God jou sal help om deur jou probleme te kom. God neem amper nooit die probleem weg nie, maar help jou en ondersteun jou om deur te druk en aan te hou, totdat jy die wenstreep bereik.

Dankie Here, U laat my wen en al my probleme oorkom deur u magtige hand. U is die Baasvegter en niemand kan my uit u hand ruk nie. Ek weet ek verdien niks nie, maar u liefde en trou hou my op my weg deur U berei, onder u beskerming. Alle eer aan U my God en Here. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 18 March 2025

Ons sê 216 000 keer dankie!

Lief en leed: Ons groet vir Antoinette van Sally Aucamp

Deel van Sally Aucamp se Nuwejaarswense in 2023
Wat ek is, is net genade,
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus
Lei my, Heer, vanaand daarheen.

[Gebed van Koos du Plessis]

’n Geliefde inwoner van Sally Aucamp, Antoinette, is Vrydagmiddag oorlede.

Die troosdiens word môre, 19 Maart, deur ds. Ensie gelei. Innige meegevoel aan haar naasbestaandes.

Rus in vrede, liewe Antoinette.

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Pak vandag met geloof aan

Pak vandag aan met ...
God se krag wat jou rig,
God se mag wat jou vashou,
God se hand wat jou bewaar
en met God se wysheid
wat jou lei!
[Dankie, Ena]

Monday, 17 March 2025

Gebed: My lymwerk is swak en my laswerk skeef

My eie waterbak het al male sonder tal stukkend geval, Here.
Dan het ek dit sélf probeer regmaak.
Ek het die stukke probeer optel en dit probeer lym en las.
Maar so 'n kruik lek, Here.
My lymwerk is swak en my laswerk skeef.
Die water loop vinnig weg en dié wat daaruit moet drink, bly dors.
Daarom wil ek vandag kom vra dat Ú my sal heelmaak, Here.
Ek weet dat ek altyd broos sal bly, en dit is ook reg so.
Maak my egter só heel dat ek vir 'n dors wêreld die lewende water kan aanbied. Maak my heel én vol.
Maak my vriendelik en geduldig, eerlik en regverdig, liefdevol en sensitief.
O, Bron van lewende water, vul my met Uself.
Gee my moed en deursettingsvermoë.
Gee my geloof en hoop.
Maak my hardwerkend en help my om my plig goed te doen.
Maak my werklik U beelddraer,
'n héél mens wat ander sal inspireer,
nié met my woorde nie, maar met wie ek is in Jesus Christus.
Amen!!!

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Sunday, 16 March 2025

Afkondiging: Kerkruikers

Afkondiging: Kantoorure

Afkondiging: Muntleggingterugvoer

Dagboek: 16 Maart 2025

Eerste kwartaalprogram: Maart

Mossiestilte: Gen. 16:13-14

Toe noem Sy die naam van die Here wat met haar gespreek het: U is 'n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my gesien het.
Daarom noem hulle die put Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en Bered.


Lagai-Roï - Die God wat sien. God sien alles en Hagar het die God wat sien gesien.
Die Here sien jou swaarkry en jou probleme en die Here gee aan jou die uitkomste.
Die Here is jou put waar jy verfris en verkwik kan word.
Die Here wil vir krag gee deur sy genade vandag om jou hindernisse te oorkom en die aanvalle van die bose af te weer.

Dankie Here, U mis nie een van die aanvalle van die bose op my nie. Here U is Lagai-Roï, "die God wat kan sien". U sien alles raak en sal my nie alleen laat nie maar U gee vir my die lewende water by die put van U lewende water. U verkwik en versterk my. U gee my krag deur u genade. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 15 March 2025

Kerkgenotjies: Die rede ...!

* "Hoe ver," vra die landdros, "was die beskuldigde van jou toe hy die twee skote op jou gevuur het?"
"Die eerste of die tweede skoot, edelagbare?"
"Is daar dan 'n verskil?"
"A-ja-a. Sowat 'n halwe kilometer."

* 'n Vurige afskaffer is aan die woord. Om sy punt aan die gehoor te verduidelik, gebuik hy die volgende voorbeeld.
"Veronderstel, ek maak een emmer vol water en die ander emmer vol wyn en ek sit albei voor 'n donkie neer. Uit watter emmer sal hy drink?"
"Uit die emmer met water," sê 'n besope stem van agter in die saal.
"Korrek! En hoekom?"
"Omdat." antwoord die stem, "hy 'n donkie is!"

[Dankie, Vollie, van Oudtshoorn]

Friday, 14 March 2025

'n Dutoitspan-welkom


'n Hartlike Dutoitspan-welkom aan Adriaan wat vanaf 1 April die geestelike pad saam met die gemeente vir die volgende ses maande gaan stap. 

Adriaan Broodryk is 'n gebore Vrystater - in Welkom gebore en in Odendaalsrus grootgeword. As Goudvelder het hy in Kroonstad skool gegaan, maar in Welkom gematrikuleer. Hy verruil die Vrystaat vir die goeie Noord-Kaap - 'n onontdekte juweel.  

Seënwense vir die werk wat jy in die gemeente gaan doen, word jou toegebid.

Foto: Elsa Minne

Kerkraadslede: ouderlinge

 
Adriaan en Marina, baie geluk en mag die werk wat julle in sy wingerd verrig, geseënd wees en vrugte dra. 

Thursday, 13 March 2025

Ons waardeer elke getroue e-besoeker!

Dink hieroor: Die skeidsregter

Dit staan soos 'n paal bo water - met hom redekawel of verskil jy nie: 'n strafskop of 'n strafdrie is jou voorland. Speel jy egter volgens die reëls, is hy die vriendelikheid self. Dis nou man wat die fluitjie hanteer wanneer 30 moeë manne vir tagtig minute agter een val aanhardloop - die skeidsregter.

Al lyk hy klein tussen manne van gemiddeld 110 kg, het hy groot gesag. Met vragte kennis en hope ondervinding straf en beloon hy. Tog word sy oordeel dikwels in twyfel getrek - deur leunstoelkenners, wat elkeen 'n reëlboek ingesluk het! En elke span wat verloor, maak hom die skuldige. Met oë agter sy kop, moet hy regverdig oordeel oor wat in 'n breukdeel van 'n sekonde gebeur. Tog is hy net 'n mens wat sy sport geniet - fluitjie in die mond! Hoe dit ookal sy, 'n skeidsregter is baie spesiaal.

Elkeen van ons is 'n skeidsregter. Ons besluit, neem standpunt in en pas lewensreëls toe. Maar mag ons nooit vergeet dat die Skeidsregter van ons lewe in beheer is nie. Wie is Hy? Jeremia 11:20 sê: "die Here, almagtige regverdige Regter ..." 

Hy regeer tot in ewigheid. Hy oordeel regverdig. Hy verwag gehoorsaamheid. Hy pas dissipline toe. Hy is genadig. Hy toets ons. Hy vergewe ons oortredings.

Ons hoef Hom nooit in twyfel te trek nie - ons kan ons oorgee aan Hom. As ons af-en-toe 'n geelkaart kry, is dit om ons die lewenspel volgens sy Reëlboek - die Bybel te leer speel. Hy bly in beheer.

Wat 'n voorreg om in God se span te speel!

[Corrie van Wyk - Lucerna Desember 2000: Radiokansel - kommunikeerders van die Goeie Nuus]     

Wednesday, 12 March 2025

Handevatprojek: !XUN ALFA-gemeente - 'n suksesverhaal


DANKIE aan elkeen wat op die advertensie gereageer het, asook elke Sondag se afkondiging! Julle het die handevatprojek werklikheid gemaak. 

Gebed by ‘n roudiens: Vir Jan Bojé se familie

Dit skyn asof ons hom teruggee aan U O God,
wat hom vir ons gegee het.
Tog, soos U nie verloor het in u gawe nie,
so verloor ons nie deur hom terug te gee nie.
Want die lewe is vir ewig
en
liefde vergaan nie
en
die dood is net `n horison
en
`n horison is niks behalwe die limiet van ons sig …

[William Penn 1644-1718]

Mossiestilte: Ps. 18:29a

Want U laat my lamp skyn; Die Here my God laat my duisternis opklaar.

Is jou lamp dalk bietjie dof? Laat God dit vir jou herstel.
God wil nuwe olie in jou lamp ingooi; God se olie word nooit oud nie en raak nooit op nie
God se olie is vars en verskaf baie meer as net lig, dit bring vreugde en jaag die vrese vir donker uit jou gemoed en lewe uit.
Die olie van God is sy Heilige Gees, wat aan jou oorwinning sal gee vir die weg waarop jy moet stap; Sy olie is onvervangbaar en ewig, en is God se wysheid en kennis vir jou vir elke dag.

Dankie Here, u lig brand vir ewig. Duisternis vlug vir u lig; die bose kan nie voor U stand hou nie. Dankie Here, vir die lamp wat U vir my daagliks aansteek met u ewige olie; u genade bly by my en verlig my met u Heilige Gees. Lei my vanoggend deur na die allerheiligste van heiligheid skoongewas deur die bloed van die Lam in u ewige lig. Amen. 

Tuesday, 11 March 2025

Die Getuienis Diensgroep in aksie

Die Getuienis Diensgroep het laat in verlede jaar begin om Sondae-oggende na kerk uit te gaan strate toe om mense te bereik met die evangelie.

Kort daarna het die Firecamp-weekopleiding plaasgevind wat deur ds. Ensie en Coen meegemaak is. Dit was 'n volle week van intensiewe evangelisasie as voorbereiding vir die Jesus-week daarna, wat deur Christ for All Nations aangebied is. Na die Jesus-week is daar voortgegaan met straatwerk. Die Here is vir ons goed. Een spesifieke dag was daar 6 oorgawes.

Mense kry swaar en is honger vir 'n boodskap van hoop. Mettertyd het lede van ander kerkgroepe ook begin aansluit. Verlede Sondag het ons 'n kleutergroepie in Greenpoint besoek. Die diensgroep is opgewonde ... die potensiaal is só groot ...

Ons bid dat die Here arbeiders vir sy oes sal stuur ...

“Hy sê toe vir sy dissipels: 'Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes'” (Matt 9:36-37).

Straatuitreik
Straatwerk
Eerste kleuterklassie in Greenpoint

Foto's: Coen Visser

Handevatprojek - !XUN ALFA-gemeente

Hierdie week het die diensgroep begin om !Xhun Alfa Kerk se vloer te herstel.

Met die hulp van donasies uit eie geledere, NG Kerk Harmonie Kimberley en Fichardtpark in Boemfontein, gaan hulle die wa deur die drif kry met die R70 000 wat hulle tot op hede ingesamel het.

Rinus Slabbert en sy kompressor het hierdie projek met 'n knal aan die gang gekry. Ywerige !Xhun-manne doen self die ding!!!

'n GROOT dankie aan elkeen wat eenmalig of maandeliks bygedra het tot hierdie hartsprojek. Dit word opreg waardeer.


Foto's: Coen Visser & Elsa Minne