Friday, 3 April 2020

Noag

Noag was nog altyd een van my gunsteling Bybelkarakters.

‘n Rare wese. Onverskrokke in sy geloof. ‘n WIL van staal. ‘n Man wat ook maar teen sy eie spoke oorlog gevoer, en dikwels nie gewen het nie, maar altyd teruggedraai het na die Vader. Ek is daarvan oortuig dat sy vrou en kinders aanvanklik glad nie beindruk was met hierdie ark-storie nie. Self nie eers seker dat hulle teen die heel einde geglo het dat die groot vloed sou kom nie.

Maar hulle het saamgebou. En waarskynlik binnesmonds gegrom en gemompel. Dit was fisies harde werk en ek is seker dat die meeste van daardie diere glad nie maklik was om te hanteer nie. Maar dit moes die eenvoudige deel van arkbou gewees het. Dit moes waarskynlik die mense se kommentaar gewees het wat vir Noag en sy gesin amper gebreek het. Wat hul geloof getoets het. Wat die potensiaal gehad het om die projek te kelder. Tog het Noag deurgedruk. Vir baie dae en nagte gebou.

En toe hy daardie ark se deur agter hom toetrek moes hy tog sekerlik in sy hart vir ‘n oomblik gewonder het of hy soos die dorp se nar na ‘n paar dae die deur sou moes oopmaak en uitklim. Maar die reen het gekom soos die Here aan Noag belowe het. En Noag moes magteloos toekyk hoe al die ander mense in sy dorp magteloos skree om hulp, hom smeek om die deur vir hulle oop te maak. Dit kon nie ‘n gemaklike lewe in die ark gewees het nie. Noag en sy gesin moes vasgedruk gevoel het daarbinne, later moeg vir mekaar en moeg vir diere se reuke en geluide.

Corona is so ‘n bietjie soos daardie vloed. As jy ‘n Noag is, is jy nou toegesluit in jou ark. Die eerste druppels het al geval en jy is veilig daarbinne. Vir jou gaan dit later ook glad nie meer maklik wees nie. Jy gaan veg teen jou eie spoke, jou eie hartsmense. Jy gaan ook elke dag wag vir die reen om op te hou, vir die watervlak om te begin sak, vir die infeksiesyfers om te stabiliseer en dan te daal.
Het jy genoeg geloof en vertroue om vir die hele vloedtyd in jou ark te kan bly? Ek is seker ons sal ook later, soos Noag die duif gestuur het, seine stuur en vra of dit veilig is om die deur oop te maak, om uit te klim en op gras te loop. Ons duif is die media, die eindelose berigte oor die impak van hierdie virus op die wereld. Ons barometer is mense om ons se gemoedstoestand, die trant van die boodskappe wat jy vandag op Whatsapp kry.

Ons arktyd begin dalk nou maar eers. Noag se duif het ook ‘n paar keer bloot net teruggekom. Sonder die goeie nuus waarvoor hy gewag het. En Noag en sy mense moes aanhou wag. Net soos ek en jy moet wag.

En toe kom die dag waarop die duif ‘n olyftakkie bring, en Noag die reenboog sien.
Ons Corona olyftakkie kom. Ons sal saam met geliefdes en vriende buite kan staan en kyk na die reenboog van die Here se genade.

Hou die watervlak dop. Stuur die duif. Maar, vir nou, bly geanker in jou geloof. Bly veilig in jou ark.

Wees dankbaar vir die voorreg om ‘n Noag te kan wees. Onwrikbaar. Onverskrokke. Onkantelbaar in jou geloof.

(Dankie, Christelle, dat jy hierdie met ons deel.)