Dit was die aanhef van 'n roubrief wat deur 'n Engelse
predikant aan sy gemeente gestuur is. Hy het baie gebid voordat hy die brief
gepos het. Ds. Fox was bekend as 'n persoon wat ernstig was en wat vir jare
onvermoeid in sy gemeente die Woord van God gebring het. Hy het met sy gemeente
gepraat oor hulle geestelike agteruitgang en hulle geroep tot bekering. Sy
gebed en begeerte was dat hulle waarlik die beeld van Jesus sou uitdra aan 'n
verlore wêreld.
Gedurende huisbesoek het hy elke lid van die gemeente
aangespreek en die Woord aan hulle verkondig, waarna hy 'n gebed gedoen het.
Dit het egter alles niks gehelp nie. Ds. Fox se gemeente was maar net lidmate
van die kerk omdat dit tradisie was. Hulle het dit as 'n prestasie beskou wanneer
die kerk half of driekwart vol was. Daar was 'n koue atmosfeer in die kerk.
Sekere gemeentelede het net sommige mense gegroet in die kerk en die res vermy. Party was belangriker as ander.
Op 'n sekere môre, nadat hy weer vir sy gemeente gebid het,
het daar plotseling 'n vonkel in die oë van ds. Fox gekom. Hy het by sy
skryftafel gaan sit, sy vulpen uitgehaal en die volgende roubrief aan sy
gemeente met die bostaande opskrif geskrywe.
"Pas oorlede. Die gemeente is pas oorlede nadat
sy haar lyding en smart kalm gedra het. Die roudiens word aanstaande
Saterdagmiddag in die kerk gehou, waar daar nog geleentheid sal wees om die
oorledene vir oulaas te sien."
Dit was veral die laaste sinsnede wat gemaak het dat die
kerk volgestroom het van mense. Baie het hulself afgevra wat die
dominee voor oë het. Die mense was gewoond dat hy nie ligsinnige dinge doen
nie, dus moes daar iets ernstig agter geskuil het. Sal die kerk afgebreek word?
Word die gemeente ontbind?
Onder, reg voor die preekstoel het daar 'n doodskis gestaan.
Ds. Fox het die kansel bestyg en 'n kort boodskap gebring. In sombere woorde
het hy die nagedagtenis van die oorlede gemeente herdenk. Sy het aan 'n
langdurige en gevaarlike siekte gely en daarom gesterwe. Gelukkig het sy nie
veel pyn verduur nie, maar is oorlede aan 'n langdurige lusteloosheid en swaarmoedigheid.
Die feit dat daar geen pyn was nie, het juis die vroeë einde verhaas. Omdat sy
gedink het dat sy niks makeer nie, het sy alle inspuitings geweier wat verseker
nuwe lewe kon gebring het. So sag en rustig as wat sy die afgelope aantal jare
was, so het sy gesterf. Die enigste wat van haar oorgebly het, is haar siel wat
ons nou aan "die barmhartigheid van die almagtige God toevertrou."
Hierna het hy gesê dat daar geleentheid is om plek langs die kis in te neem vir
die laaste afskeidsgroet.
Skaam en vraend het die gemeente aanvanklik in hulle plekke
bly sit, maar ds. Fox wat in alle erns langs die kis kom staan het, het die
kerkraad gewink om ook hulle plekke daar te kom inneem.
Die broers het stadig na vore gekom en een vir een het 'n
laaste blik in die kis gegee, waar, volgens die predikant, die oorskot van die
oorlede gemeente lê. Baie min van die gemeente het onbeweeg gebly na hierdie
gesig. Sommige het blykbaar geskrik terwyl ander se gesigte bleek geword het.
Ander het weer vraend 'n verontwaardigde blik op die predikant gewerp, wat doodstil gestaan het, sonder om 'n woord te sê. Daar was slegs 'n groot liefde
op sy gelaat vir die gemeente.
Langsaam volg die gemeente die voorbeeld van die kerkraad.
In diepe eerbied soos met enige begrafnis, gaan hulle een vir een by die
kerkdeur uit. Iemand het weer teruggegaan in die bank en die gesig met 'n sakdoek
bedek. 'n Vrou het begin om gedemp te snik. In die kis het 'n groot spieël gelê.
Wie hom oor die dooie gemeente buig, het homself in die spieël gesien.
Teen die aand staan daar 'n ouderling en sewe gemeentelede
by ds. Fox op die stoep, daaronder was daar twee vroue en twee jongmense. Die
ouderling wat die woord moes doen, het nie te op sy gemak gevoel nie. Hy sê:
"Dominee, ons het almal begryp ... ons wil egter nie meer dood wees nie;
ons wil 'n lewende gemeente van ons Here Jesus wees. Sal u ons help om dit te
wees? En ... e... e... buite staan die res van die gemeente wat ons gestuur het
om te kom praat."
[Bron: Die Pelgrim, Maart 1988, p. 20]