Tuesday, 11 April 2023

'n Paaskuier by Sally Aucamp

 








... vandag is nie 'n plig nie, maar 'n voorreg;
dit is nie 'n uitdaging nie, maar 'n geleentheid vol hoop;
die dag is nie 'n resies nie, maar 'n genade-geskenk ...
Paasfees ... Vreugde, vrede en genade van weer saamwees.

En dit is hierdie saamwees wat die tydjie so heerlik gemaak het. Gesellig saamkuier en die uitdeel van heerlike warm slaapsokkies en mussies, saam met paaseiers, het hierdie naweek net 'n hupstootjies in die vreugderigting gegee. Dankie aan elkeen wat saamgewerk het om die boodskap van Paasfees tasbaar uit te dra. 

Dankie tannie Etna, tannie Daphné, tannie Rina, Natalie en Natashia wat die diens gehou het. 

Friday, 7 April 2023

Geseënde Paaswense vir die Sally Aucamp-inwoners



Paasfees wil ons troosvol herinner dat ons die opgestane Jesus sal ontdek op plekke waar ons Hom nie verwag nie en sal ervaar dat die lewende Here in die midde van ons ontredderde situasies steeds verskyn as die een wat ons groet: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende’; en saam met Paulus onthou dat dieselfde kragtige werking wat Christus uit die dood opgewek het, werk in die harte van ons wat glo.

Seën vir julle en mag hierdie dag en naweek ook baie spesiaal wees. Geniet die uitreik! 

Rina Groenewald

Saturday, 1 April 2023

Dis mos GEK!


Op 1 April is daar net twee soorte mense: dié wat gek is na Aprilgrappe en dié wat dink Aprilgrappe is gek. 

Die linkerhandbielie
In 1988 het Burger King 'n volbladsyadvertensie in USA Today laat plaas om die linkerhandbielie, wat spesiaal vir die 32 miljoen linkshandige Amerikaners gemaak word, aan die publiek bekend te stel. Die linkerhandbielie bevat dieselfde bestanddele as die bekende, oorspronklike Whopper (blaarslaai, tamaties, hamburgerfrikkadel), maar al die geurmiddels word vir die gerief van die linkshandige eters 180 grade gedraai, is gesê. Duisende linkshandiges het dié Aprilgrap geglo en sulke hamburgers bestel.

Tieners met getatoeëerde ore
Op 1 April 1994 word op die radioprogram, All things conidered, aangekondig dat maatskappye soos Pepsi die tatoeëering van tieners se ore met die logo van deelnemende maatskappye gaan begin borg, mits dit twee sentimeter groot is. Tieners wat getatoeëerde logo's op hul ore vertoon, sou lewenslank 'n afslag van 10% op die produkte van die betrokke maatskappy ontvang. Honderde tieners het met groot entoesiasme op die aanbod gereageer.

Rekord-spaghetti-oes
Op Maandag 1 April 1957 is daar oor die BBC-nuusprogram Panorama berig dat die landbougemeenskap van Switzerland danksy 'n matige winter en die sukses wat met die bestryding van die gevreesde spaghetti-kalander behaal is, 'n rekord-spaghetti-oes in die oesjaar verwag. Beeldmateriaal van plaaswerkers wat stringe spaghetti uit die bome ryg, is aan die kykers vertoon. Baie mense het dit onwrikbaar geglo en ingeskakel om navraag te doen oor die kweek van spaghettibome, waarop hulle die volgende antwoord van die BBC ontvang het: "Plaas 'n spaghetti-takkie in 'n blik tamatiesous en hoop vir die beste." Vir 1 jaar sou spaghetti volop wees!!! 

[Verwerk uit Vrouekeur, 1 April 2005]

Sunday, 5 March 2023

Verhoring van gebede

Die begin

Brunettes Realtors Amazing Race ten bate van Droogtehulp met Burre Burger en Sally Aucamp.
Staan die kans om hierdie merkwaardige prys te wen!
Meer besonderhede op Droogtehulp se Facebook-bladsy, asook Brunettes Realtors se Facebook-bladsy Kaartjies kos R150

Die kuier by Sally Aucamp voor die trekking



Friday, 17 February 2023

'n Vrolike Valentynsdag by Sally Aucamp

Terug na HOME PAGE

Die Valentynsbesoekie en 'n kuieroggend het die inwoners se Valentynsdag ekstra spesiaal gemaak en gesorg vir ‘n glimlag op elkeen se gesig. 'n Boodskap uit die Bybel met die Vader se liefde as die tema, is deur Natashia gebring, terwyl Rina Groenewald en Tashia Natalie vir 'n soetigheidjie gesorg het. Dit was voorwaar ‘n verrykende oggend vir elkeen wat betrokke was.






























Valentynsvieringe gaan nie net oor romantiese liefde nie, maar eerder oor liefde vir mekaar, vir jou medemens en vir jou gemeenskap. Volgens Rina gaan liefde vir haar oor gee en uitreik, soos in Korinthiërs 13 geskryf staan en is Sally Aucamp deur die Here op haar hart gelê. Kontak haar gerus as jy betrokke wil raak. [082 447 3332]

Saturday, 28 January 2023

Liefde ...


Liefde is nie wat jy kan kry nie, maar wat jy kan gee.
Liefde is nie wat ander vir jou kan doen nie, maar wat jy vir ander kan doen.
Liefde is 'n glimlag, nie 'n frons nie.
Liefde is 'n drukkie, nie 'n klap in die gesig nie.
Liefde is omgee, nie misbruik nie.
Liefde is om die smabreel vir iemand in die storm te wees en die reënboog na die storm.
Liefde is om iemand se trane af te vee, nie dit te veroorsaak nie.
Liefde is om boek te hou van goeie tye nie die slegte tye nie.
Liefde vergewe nog voor iemand jou seergemaak het.
Liefde maak van jou 'n ligtoring wat ander die rigting in die donker wys.
Liefde maak van jou 'n boom  wat koelte gee vir die wat rus nodig het.
Liefde word nie gespreek nie, maar gewys.
Liefde kan genees, vertroos, versterk al het jy niks om iemand te bied nie,
maar jy het liefde wat geld nie kan koop nie.

Tuesday, 24 January 2023

Drie woorde en hulle spesiale effek

+ LAAT MY HELP: Goeie mense en vriende doen dit wanneer hulle ’n naaste sien wat seer het, hulle spring in en help.

+ EK VERSTAAN JOU: ’n kragtige hulpmiddel om enige verhouding te genees en nader aan mekaar te kom.

+ EK RESPEKTEER JOU: ’n ander manier om liefde te betoon in alle interpersoonlike verhoudings.

+ EK MIS JOU:  hierdie kragtige bevestiging vertel aan die ander persoon dat hulle belangrik is, dat jy hul nodig het en dat dit lekker is om saam met hulle te wees.

+ JY IS REG: die beste om enige argument te ontlont.

+ VERGEWE MY ASB.: heel en herstel gebroke verhoudings.

+ EK DANK JOU: dankbaarheid is ’n uitsonderlike vorm van beleefdheid.

+ REKEN OP MY: lojaliteit is ’n belangrike bestanddeel in enige verhouding.

+ EK IS DAAR: ’n groot geskenk om te gee vir ’n verhouding waarvan liefde en vriendskap hernuwe moet word.

+ DOEN DIT NET: die beste manier om die ander persoon te ondersteun en motiveer om hulle drome en ideale te bereik.

EN DIE BONUS

+ LIEF VIR JOU: die belangrikste drie woordjies wat al bogenoemde omsluit.

Sunday, 22 January 2023

Ons verantwoordelikheid ...

Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help – Spreuke 14:21

Om die armes en diegene wat minder bevoorreg is as ons te help, is nie net ’n mooi ding om te doen nie, maar is, volgens die Bybel, ons verantwoordelikheid. God gee opreg om vir die armes en die behoeftiges, en dit wil voorkom asof Hy ’n spesiale plek in sy hart het vir die weduwees en weeskinders. Hulle is immers alleen en nie in staat om hulself te help nie. God gee ons ’n hart van medelye, maar ons moet meer as ’n barmhartige hart hê – ons moet ons oë oopmaak om te sien wie behoeftig is en ons hande oopmaak om die armes te help.

Die Bybel sê wanneer ons aan die armes gee, leen ons iets vir die Here. God sal enigiets wat ons gee om mense te help, oor en oor vir ons teruggee. Hy sal nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar ons vreugde sal toeneem omdat ons met liefde gegee het. Ek spoor jou aan om wat jy het te deel met diegene wat minder bevoorreg is as jy.

Kraggedagte vir vandag: Ek is altyd genadig en vrygewig teenoor die armes.

[Hierdie is ’n uittreksel uit Kragtige denke vir elke dag deur Joyce Meyer.]

Tuesday, 17 January 2023

Besielende breiers benodig wol


Dis miskien nou warm ... baie warm, maar 'n ysige winter lê vir ons en loer ... daarom wil ons nie onkant gevang word nie.  

Mussies, kouse en serpe is hoog op die breiers se prioriteitslys om die winter vir die straatkinders meer draaglik te maak. Ons kort egter dringend wol om hierdie uitreik suksesvol te maak.

Kontak gerus vir Rina Groenewald vir enige navrae of skenkings by 082 447 3332

Saturday, 14 January 2023

Fondsinsameling: 25 Februarie 2023


Steek jou hand in jou sak vir 'n goeie doel. Kaartjies is reeds aanlyn beskikbaar en fisiese kaartjies sal van Maandag, 16 Januarie, beskikbaar wees by Barristers en MALU Pork.

Kimberley, kom ondersteun hierdie verdienstelike saak. Die fondsinsameling is vir Ons Huis Versorgingsoord. Kom ontspan en geniet 75 minute van heerlike komedie.

Enige navrae: Kontak 083 276 4878

Sien julle daar!!

Tuesday, 10 January 2023

Skoolreis vs lewensreis


Daar word dikwels deur leiers en motiveerders gesê dat die skoollewe met ‘n interessante reis vergelyk kan word. Skoolreis vs lewensreis.

Tydens jou lewensreis gebeur daar baie onvoorsiene dinge, daar is hoogtepunte en laagtepunte ... maar daar is ook geleenthede. In 'n skool is dit presies dieselfde. Laagtepunte gaan daar beslis wees, maar beskou hierdie laagtepunte as geleenthede en omskep dit in hoogtepunte. Dit hang van jou as leerder af. Indien jy hulp nodig het om struikelblokke die hoof te bied, praat met iemand. Dit is altyd goed om iemand anders se perspektief op jou probleem te hoor.  

Dit is ons as gemeente se wens dat 2023 vir julle goeie dinge sal inhou. Wees individue wat nie afhanklik is van 'n groep om besluite te neem nie. Droom groot en wees 'n leerder wat nie opgee nie.

Aan al die leerders, maar veral die nuwe graad 1's, die nuwe graad 8's en 2023 se matrikulante, baie sterkte met al die uitdagings wat op julle lewenspad en skoolpad lê. Pak die uitdagings aan en moenie ophou droom nie. 

2023 bied vir jou nuwe geleenthede. Gryp hierdie geleenthede met albei hande aan, werk met passie en geniet elke oomblik.

Maar moet nooit in al jou bedrywighede jou Skepper vergeet wat hierdie alles moontlik maak nie.

Wednesday, 4 January 2023

'n Rolmodel van hoop

Goedvoelstories moet 'n mens deesdae gaan uitvis tussen al die misdade, moord, motorongelukke en mediese probleme, maar hulle is daar ... hartklopstories ... hoendervleisstories ... genadestories.

Een so 'n wonderlike storie is die hartsgehoorsaamheid van Allan Visagie, 46 jaar oud en 'n inwoner van Sally Aucamp in Cassandra in Kimberley. Hierdie boorling van Upington het geluister toe hy 'n opdrag van Bo gekry.

Allan ry altyd oor die brug om sy benodigdhede by die winkelsentrum te kry en hierdie week was dit nie anders nie. Die enigste verskil is dat toe hy Maandag na PEP toe wou gaan, die winkel toe was. 'n Gevoel van dringendheid het hom egter vandag na PEP gedryf en daar loop hy "sy opdrag" raak. Die Here het die afspraak gereël en Allan moes net opdaag. 'n Kind wat 'n weldoener in sy lewe nodig gehad het en nie geweet het waar sy hulp vandaan sou kom nie.      

Allan het sy hand diep in sy sak gesteek en vir die outjie skoolklere en ander skoolbenodigdhede gekoop. Hy vat hom toe huis toe en daar hoor hy dat albei ouers van hierdie kind oorlede is en dat sy ouma na hom kyk.

'n Opdrag van Bo wat gehoorsaam uitgevoer is. Allan, jy is 'n ster en om Mathys Roets, die sanger, se woorde in die nuwe Bruis-tydskrif aan te haal: "Ons ouens in rolstoele is rolmodelle vir mekaar."  Maar ons wil so 'n stukkie bylas - jy is 'n rolmodel vir elke leser van hierdie blog.