Sunday 11 November 2018

Psalm 121: 'n gebed

Ek is nie die outeur van die aangrypende beskrywing van Ps. 121 nie! Ek het dit net so outeurloos ontvang. Ek wil dit net graag deel met almal wat berge in hulle lewe moet oorkom. Liefde.

Psalm 121: 'n Gebed

Ek kyk op na die berge in my pad. Berge wat die lewe sommer self voor my kom inrol het. Wie gaan my hand vat en my help om 'n ompad te kry, Here? Mense kan nie berge wegrol nie, al wil hulle ook. Mense kan nie die berg van verlang wat so swaar in 'n mens se hart kom lê, wegvat nie. Verlang na 'n geliefde wat weg is. 'n Pa, 'n ma, 'n kind ...

Ek kyk op na die berge in my pad ... Berge van bangwees en alleenwees en onseker wees. Berge van skaamwees. Wie gaan my help om 'n ompad te kry, Here?
Mense is partykeer bang vir berge. Mens praat mos so effentjies om dit. Partykeer vat jy klippies en pak 'n groot glimlag op jou berg ... en dan is almal bly, want jou berg is nie meer so "scary" nie.
Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? Ek kan nie my berg optel en na U toe bring nie. Dit is te swaar. As ek by U voete kom sit om te bid, kry ek nie die regte woorde om hierdie berg vir U te beskryf nie. Partykeer voel dit asof ek aan hierdie kant van my berg sit, en U sit aan die anderkant.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom?
My hulp kom van Hom wat die hemel en die aarde gemaak het. My hulp kom van Hom wat die mossie se veertjies getel het, van Hom wat vir die swaeltjie krag gee om ver te trek, van Hom wat seker maak dat die Klipspringertjie se voete stewig op die klippe balanseer. Hy wat elke dag 'n streep op die sand trek, en vir die branders sê julle mag tot hier kom. Hy wat vir die son sê wanneer om te gaan slaap, en vir die maan wanneer om wakker te word.

Dit is Hy wat terugstap op Sy pad om my te kom soek as ek agter die berg wegraak. Dit is Hy wat stil langs my kom sit en na my hart luister, as my woorde nie meer kan praat nie. Dit is Hy wat elke dag 'n mandjie genade langs my neersit, genade net genoeg vir elke dag se klim. Dit is Hy wat my hand vat en my ophelp en tree vir tree saam met my klim. Hy dra my wanneer my voete gly. Hy laat my rus wanneer ek moeg word.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om 'n verbypad te kry?

My hulp is van die Here wat my oppas. Elke dag ... En dit is genoeg.