Sunday, 5 May 2019

Ek en Noag stoei baie met mekaar die afgelope tyd, Here ...

Wanneer ek so deur my werk stap, dan wonder ek oor Noag. 

 Sy storm het effens anders gelyk as die storms wat ek elke dag sien. Sy storm was wind en reën en vloede. Sy storm het gedreig om almal te verdrink. Almal kon sy storm sien.

Die storms wat ek elke dag sien lyk anders, Here. Dit kruip weg in mense se harte en huise, waar amper niemand dit kan sien nie. Dit is 'n mamma wat huil oor haar kind. 'n Huwelik wat net nie meer wil werk nie. Oë wat donker geword het, want depressie het al U Lig gesteel. Dit is bangwees vir finansies wat nie meer wil klop nie. Dit is kwaadwees vir hulle wat ons seergemaak het. Die storms wat ons elke dag ervaar, lyk anders as Noag s'n Here. Sy storm het gereën en gehael en gewaai. Ons storms kruip diep binne-in ons weg. Dit maak dat ons nie meer deel voel van die lewe om ons nie. Dit maak ons alleen. Dit maak dat ons oë nie meer saam met ons mond wil glimlag nie. Dit maak dat ons party dae sukkel om aan te gaan. 

Ons storm is anders as Noag s'n. Maar U is nog dieselfde, né Here? U liefde is die Ark waarnatoe ons kan hardloop as die reën begin val. U liefde hou ons veilig wanneer dit voel asof alles om en in ons uitmekaar val.

U liefde sê: "Kom na My toe, as jou storm te groot raak. Kom na My toe as die alleenwees en hartseer jou wil oorweldig. Ek is die Ark wat jou veilig hou. Ek is die Ark wat jou toevou en dra teen die stormwinde wat jou wil omwaai. Kom kruip weg hier by my . . . hier in My. Ek wil jou rus gee."

Ek sukkel om soos Noag te glo, Here. Ek sukkel partydae om U Ark raak te sien en daarin weg te kruip. U weet dit, né Here? U weet van my alleen-baklei teen dit wat my bangmaak. U weet van al die kere wat U so ver voel. Dankie dat U my op daardie dae kom haal, my optel en dra na U Ark toe. Dankie dat U my op daardie dae, wanneer ek koud en natgereën is, bring na die warmte van U liefde. 

Dankie vir die deernis waarmee U my versorg en sterk maak. 

 Dankie ...