Sunday 29 May 2022

Gebed van 'n vrou

BYBELSTUDIEGROEP
deur Nina Smit

 "Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig: dit gee insig aan dié wat nog onervare is." (Ps. 119-130)

Hemelse Vader,  

Hoe waar is dit nie van ons Bybelstudiegroep nie.
Vyf jaar kom ons al elke week saam in u Naam
rondom u Woord.
En ons weet met helder sekerheid
U is saam met ons,
U liefde omvou ons,
u Gees laat u Woord vir ons oopgaan -
en ons kry insig in die dinge van u koninkryk.
Dankie dat ons mekaar kan liefhê,
omdat ons u liefde in ons harte het.
Dat ons vriendinne in Christus kan wees
en mekaar se probleme op die hart kan dra.
Dat ons vir ons gemeente kan bid
as ons so saam is.
Leer ons week na week
om in ons Bybelstudiegroep
elke keer nader aan U te kom,
U steeds beter te leer ken
deur die bestudering van u Woord.
Amen.