Tuesday, 27 January 2026

Mandjie Hoop: Soms ...

Soms … moet jy ‘n kans waag.
Soms … moet jy na jou hart luister.
Soms … moet jy na jou kop luister.
Soms … moet jy nie dink nie en net dóén.
Soms … moet jy terugstaan.
Soms … moet jy laat los.
Soms … moet jy aanvaar.
Soms … maak dit seer.
Soms … maak dit gelukkig.
Soms … moet jy jouself op die skouer klop.
Soms … moet jy besef jy’s verkeerd.
Soms … moet jy net vertrou.
Soms … moet jy net lewe.
Altyd … moet jy die beste maak met wat jy het.

Monday, 26 January 2026

Aan die veilige kant?

"Wat glo jy?" wou iemand eendag van 'n Ier weet.
"Wat die kerk glo," het hy geantwoord.
"En wat glo die kerk?" het die ondervraer voortgegaan.
"Wat ek glo," was sy antwoord,
"En wat is dit wat julle albei glo?"
"Dieselfde ding,," het hy weer ontwykend geantwoord.

Dalk is ons, net soos die Ier, besig om in een of ander kerk vir God weg te kruip. Ons is nie bereid om die werklikheid van ons ewige bestemming in die gesig te kyk en dit in 'n ernstige lig te beskou nie. Ons is nie gewillig om ons hart en lewe aan Christus oor te gee en Hom onvoorwaardelik te volg en te dien nie; maar ons het 'n lidmaat van die kerk geword en gemeen om daardeur aan die veilige kant te wees.

Maar is dit werklik veilig?

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

"En laat die lieflikheid van die HERE onse God oor ons wees,
en bevestig die werk van ons hande oor ons, 
ja, die werk van ons hande, bevestig dit!"
Ps 90:17

Sunday, 25 January 2026

Tyd vir gebed

Mense kry vandag al hoe minder tyd vir gebed.
Daar is tyd vir enige ander ding:
tyd om te eet,
tyd om te slaap,
tyd om na die radio te luister,
tyd om TV te kyk,
tyd om die koerant te lees,
tyd om op FB rond te kuier ...
maar geen tyd vir gebed nie!

Susanna Wesley*, ten spyte van die feit dat sy negentien kinders grootgemaak het, het nogtans tyd gevind om haarself elke dag vir 'n volle uur in haar kamer toe te sluit, alleen met God.

Dit is nie sodanig 'n kwessie van tyd vind nie, maar van tyd maak!
En ons kan tyd maak as ons wil.

[Oswald Smith] 

* Lees HIER oor Susanna Wesley se gebedsnalatenskap en die invloed wat haar man en twee bekende seuns, John and Charles Wesley, op die Christelike geloof gelaat het.

Mossieboodskap: Nog net drie minute ...

Die breinspoeling was al weke lank aan die gang, soms tot 14 uur per dag - 48 uur aaneen by een geleentheid. Maar hy het sy man gestaan. Hy wou nie swig nie.

Die plek: 'n Kommunistiese gevangenis in China. 
Die tyd: in die vroeë vyftigerjare. 
En die man: 'n Stralende Chinese Christen.  

Uiteindelik, na herhaalde gekruisvra, bespotting en marteling, sê die Christen aan sy verdrukkers: "Julle mors julle tyd, Menere. My geloof is dieper gewortel as enige marteling waaraan julle my kan onderwerp. Dit is vir ewig gewortel in Jesus Christus, die Seun van God."

Woedend klap die indoktrineerder hom deur die gesig en skreeu: "Val op jou knieë en bid! Want oor drie minute gaan ons 'n koeël deur jou kop jaag."

Terwyl die indoktrineerder, 'n gewapende wag en vyftien van die man se medegevangenes staan en kyk, maak hy soos hy beveel is.

"Here," begin die man bid, "ek dank u vir die vrede wat daar in my hart is. Ek dank u vir die geloof wat dit vir my moontlik maak om te glo dat, ten spyte van my verdrukkers, my hemelse Vader op sy troon sit en in staat is om enige oomblik die monde van hulle wat Sy Naam laster, vir ewig te stop. Here, u is in staat om hierdie oomblik U mag aan hierdie twee manne te bewys. U is in staat om te toon dat U God is. U mag kan hierdie manne in een oomblik laat dood neerval, en ..."

Maar hy het nie aan die einde van sy gebed gekom nie, want, hygend van pyn, het die twee manne gelyktydig op die grond neergeval. Binne 'n paar uur was albei dood.

Die Christen is daarna vrygelaat, en na wat verneem word, is hy toegelaat om by sy vrou en kinders aan te sluit en ongehinderd in sy huis te woon. Geen nie-Christen het dit naby sy huis gewaag nie.

* Eerw. Leslie Millen, lank 'n CIM-sendeling in China, was 'n ooggetuie van bostaande gebeurtenis tydens sy eie gevangenskap deur die kommuniste.   

Lees HIER van David Lin se ervarings agter tralies.

[Oorgeneem uit: Die Kruisgesant - Die Spoorwegbode, Februarie 1986]

Afkondiging: Eerste Kwartaalprogram

Flitsgedagte: Jesus is ...

Saturday, 24 January 2026

Kerkgenotjies: The trail

During a trial in a Baltimore courthouse, the prosecutor calls his first witness - an elderly woman named Mrs. Rabinowitz. He approaches her with confidence and begins the questioning:

“Mrs. Rabinowitz, do you know me?”

She adjusts her glasses, looks him straight in the eye and says:

“Of course I know you. I’ve known you since you were a little boy, and to be honest, I’m deeply disappointed in you. You lie, you cheat on your wife, you manipulate people, and gossip behind everyone’s back. You walk around acting like some big shot, but the truth is ... you’re just a small-minded bureaucrat who never figured that out.”

The courtroom erupts in whispering.

The prosecutor freezes, completely stunned.

Desperate to shift attention, he points across the room.

“Mrs. Rabinowitz ... do you know the defense attorney?”

She nods.
“Oh, I know him too. He’s lazy, impatient, and he has a drinking problem. He can’t hold together a single healthy relationship. His law practice is one of the worst in the city. And let’s not even mention the fact that he cheated on his wife with three different women ... one of whom is your wife, by the way. So yes, I know him.”

The defense attorney turns pale.

The judge, barely holding himself together, bangs his gavel.

He calls both lawyers to the bench and whispers through clenched teeth:

“Listen carefully. If either one of you idiots asks her whether she knows me, I swear I’ll have you both out chopping wood by sunset.”

Friday, 23 January 2026

Verjaardagwense

  

Gedagte uit 'n koevert: Gewete wat rek ...

Wanneer 'n mens dink dat jou uitkyk op die lewe breër word,
is dit dalk maar net jou gewete wat jy laat rek.

[Anoniem] 

Thursday, 22 January 2026

Dink hieroor: Liefde ...

Ongeduld ... is nie liefde nie.
Verbittering ... is nie liefde nie.
Wantroue ... is nie liefde nie.
Selfsug ... is nie liefde nie.

Jy sal slegs liefde in vriendelikheid, vertroue, onselfsugtigheid en verdraagsaamheid vind. Al sou ek die tale van mense en engele spreek, al sou ek al die gawes besit, al sou ek al my goed uitdeel ... ek moet die liefde hê ... anders sou ek niks wees nie. Waar liefde is, daar is Jesus.

Wednesday, 21 January 2026

2026-kalenders beskikbaar

Mossiestilte: Hand. 17:24-25

24 God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.
25 Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.

God het niks van ons nodig nie, tog het Hy ons geskape na sy beeld en sy gelykenis. Ons kan Hom nie dien met ons werke, asof Hy iets van ons sou nodig kry, of behoefte daaraan het nie. Ons bly in geboue wat ons maak en konstrueer, maar ons kan nie vir die Almagtige God, 'n woning skep nie, want U is alomteenwoordig. 

Almagtige God en Vader van die groot heelal, ek kom U net verheerlik vir U grootheid en almag. U, het soveel deernis met ons, dat U, mens geword het om by ons te kom bly en ons sondes weg te neem. U, het u geskenk, die Heilige Gees, gestuur om in elke mens te kom bly. U, is alomteenwoordig en niemand, of niks kan vir U, weggesteek word nie. U, weet van elke ding wat ons selfs aan dink, ja U, ken elke gedagte van die mens. Grote God, aan U, kom die eer en al die rykdom en eer, tot in ewigheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 20 January 2026

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Hier is 'n pleister vir jou hart

Mag jy altyd  ...
... genoeg GEDULD hê om jou dierbaar te maak.
... genoeg VERDRIET hê om jou menslik te maak.
... genoeg HOOP hê om jou gelukkig te maak.
... genoeg TERUGSLAE hê om jou nederig te maak.
... genoeg VRIENDE hê om jou te troos.
... genoeg VERDIENSTE hê om jou gemaklik te laat lewe.
... genoeg GEESDRIF hê om jou na die dag van more te laat uitsien.
... genoeg GELOOF om jou swartgalligheid af te weer.
... genoeg WILSKRAG om elke dag ′n beter dag as gister te maak.

Monday, 19 January 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

* met die salwing van liefde en vrede wat bedoel is vir jou en dat jy daagliks gekoester en geleer sal word deur God self.
* met die vreugde van guns in God se oë en ook in die oë van ander.
* met mense wat om jou inskuif en jou hande oplig en 'n pad saam met jou begin stap.
* jou vormingsfase, soos Hy klaarmaak wat Hy in jou begin het.

Geseënd is jy, geliefde van God!

[Aangestuur deur Rosetta]

Sunday, 18 January 2026

Afkondiging: Eerste Kwartaalprogram

Flitsgedagte: Goedheid

Mossiestilte: Klaag. 3:22

Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie;

Dit wat jou toekom (die ewige verdoemenis vanweë die sonde), juis dit is wat jy nie kry nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; en is elke môre nuut; (vers 23)
Dit is God se goedertierenhede wat jou beskerm, nie net van mense, maar ook die woede van God teenoor sonde. Sy Seun se barmhartigheid het jou gered.

Dankie, Here, dat u genade en barmhartigheid my kom haal het en my uit die sonde kom red het. Hoe sou ek kon staan sonder u daaglikse goedertierenhede? U liefde verteer my. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe (vers 58). Dankie, Here, dat U my bekeer en my dae vernuwe het soos in die voortyd (Klaag. 5:21). Ek leef nou in Christus en Christus in my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 17 January 2026

Kerkgenotjies: Hoe die seekoei Popeye-wange gekry het

Dit is Maandag 9:15. Tandpyn tref my soos 'n "nine mil-koeël." Ek het van disprins tot brandewyn probeer, maar tevergeefs.

Die tandpyn het kláár nesgeskop in my linkerkantste kies.

En die tandarts kon my eers die volgende dag spreek. Dán sou hulle my moes indruk, moes ek goed verstaan.

Ek was voorbereid op minstens drie stopsels en 'n tand wat getrek moet word.

"Nee, wat. Daar is nie fout met jou tande nie. Die fout lê by jou verstandtande. Hulle moet so gou as moontlik uit ..."

Ek het nie 'n woord verder gehoor nie, nie van waarom óf daarom nie. Niks! Selfs die tandpyn het koers gekies. Al wat oorgebly het, was ek en die toenemende vrees wat 'n volle 24 uur diens gedoen het. Elke dag. Tot die Saterdagoggend om 7:00.

Sommer vroeg dié snerpende oggend moes ek toe in 'n fyn "kebaaitjie" inspring. Dit het ook maar net hier en daar behoorlik toegemaak. Die klem het geval op my fyn heupbeenstruktuur.

Nou ja, as ek eerlik wil wees, het ek gelyk soos 'n mollige seekoeitjie in 'n ballet-tutu.

Die suster het met 'n blink bakkie "en so aan" die kamer binnegekom.

"Waarvoor is daai inspuitings?"

"Om jou spoeg te laat opdroog."

"Sowaar. Maar ek het nie spoeg nie."

"Jy hét! Alle normale mense het, en jy lyk ver van abnormaal af."

Skielik was die spuitnaald gereed in haar hand. Sy't gewag vir my boud. Ek het op my sy gedraai, my oë toegeknyp en hard op my tande gekners.

Selfs ek kon nie glo 'n matriekleerling kan só absurd bang wees vir 'n ou dun naaldjie nie.

Toe die tandarts en narkotiseur die kamer binnekom, was ek net vaagweg bewus van hulle. My kop was toe al besig om koers te kies, weg van hospitale en dokters.

My ma moes my vrae beantwoord. Ek kon nie.

Ek onthou net my 1,85 m lange lyf moes op 'n bedjies van 1,75 pas. Dit was vir my snaaks en ek is in 'n ligte luim die teater in.

Iemand het nog gesê: "Lekker slaap," toe is ek al weg.

[Hierdie koerantartikelfotostaat is gemaak in 1992 - dit het verskyn onder die opskrif: "Jong skrywers - jy kan ook R140 wen."]

Friday, 16 January 2026

Gedagte uit 'n koevert: Saligmaker

Niemand kan homself in die hemel redeneer nie. 
Die koninkryk van die hemel is slegs tot beskikking
vir diegene wat hulle tot God bekeer en die Here Jesus
Christus as hulle eie Saligmaker en Verlosser aanneem. 

Wednesday, 14 January 2026

Mossiestilte: 2 Kron. 20: 22c & 23

Loof die Here, want sy goedertierenheid  is tot in ewigheid!
En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die Here 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr, wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.

Hierdie menigte was ver te veel om teen oorlog te maak; raak jy ook bevrees as 'n groot menigte om jou is en jou aanval en jy weet, eintlik kan jy dit nie maak teen hierdie menigte nie.
God maak 'n plan vir jou, want jy soek na Hom. 
Jou vyand val mekaar aan, sodat geeneen daarna lewendig bly staan nie.
Daarna tel jy die rykdomme drie dae lank van die vyand op en die Here verander jou vrese in vrede en ongekende vreugde.

Dankie, Here, dat U na my stem luister toe ek benoud was en tot U gebid het. U roei die vyand totaal uit. U stuur u engele uit en bemoedig my met u Heilige Gees. U verryk my vanuit my benoudheid en gee my vrede in my gemoed. Niks kan my skei van die liefde van God nie. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 13 January 2026

Mandjie Hoop: Hoop is 'n genadegawe

Johan Cilliers: "Die Christelike hoop is op geen manier vrug van óns genialiteit of óns godsdienstigheid nie. Ons kan dit nie sélf skep nie. Dis nie bloot die gevolg van die krag van óns sogenaamde positiewe denke nie. Nee, dis ‘n gawe van God wat Hy telkens weer aan ons moet skenk, elke keer weer vars en nuut in elke nuwe situasie van krisis en wanhoop. En die wonder is, Hy doen dit keer op keer!" 

Hoop is dus ‘n genadegawe van God, wat al Sy beloftes getrou in stand hou.

Monday, 12 January 2026

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Mag God se blywende seën 
met jou wees.
Mag God se guns jou omring.
Mag jy God se genade vandag
in oorvloed ontvang. 


Projekte: Diensprojekte en toerustingsprojekte

Voorstelle van die vrouelidmate uit die NK - aktiwiteite buite gemeenteverband:
* Sopkombuise
* Broodjies by bloedskenkaksies
* Hulp by huise vir bejaardes of gestremdes
* Hulp by dienssentrums
* Breiprojekte vir mense in nood in jou onmiddellike omgewing of vir seemanne of vir vigswesies
* Bydraes vir of betrokkenheid by kinderhuise
* Huisvesting en/of onthaal van fietstoere (Trap vir Bybelverspreiding)
* Vervoer vir senior burgers na dokter/hospitaal/fisioterapeut/winkel toe
* Bybelstudie by instansies buite gemeentegrense

Temas vir byeenkomste (gereël vir vroue deur omgeevroue)
* Kommunikasie en konflikhantering
* Koffie saam met die Koning
* Goddelike verhoudings
* Jy is spesiaal
* Vyf tale van die Liefde
* Soveel om voor dankbaar te wees

[Die Pienk boekie, Nuusbriefnr. 93 - Maart 2011]

Sunday, 11 January 2026

Flitsgedagte: Hoop

Mossiestilte: Kol. 3:16

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.

Die Here wil jou sy wysheid gee. Stel jouself oop vir sy woord om ryklik in jou te woon.
Lees gereeld God se woord en eet so die brood van die ewige lewe en word vervul met die goedheid van God, terwyl jy dit deel met ander.
Besing die lof van God en vereer en dank Hom, met geestelike liedere en met sy Psalms en leer ander in die wysheid van God.

Christus, U gee my u wysheid sonder vooroordeel. Laat ek dié verdra wat nie in Christus belangstel nie en vir hulle bid. Laat ek ander vergewe soos Christus my vergewe het. Laat die vrede van God my lewe ryklik verlig; en ek onthou waartoe ek geroep is, om in een liggaam te groei waarvan Christus die hoof is. Ek is elke dag dankbaar, en is 'n ligdraer vir my broeders in Christus en die wat buite is. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 10 January 2026

Kerkgenotjies: Liefde

* Waarom is vroue so mooi?
Sodat die man haar kan liefhê.
Waarom is vroue so dom?
Sodat sy die man kan liefhê.

* 'n Jong vroulike student kry toe 'n huweliksaanbod van 'n medestudent, maar sy het nie sin vir die vriend nie. 
Sy antwoord: "Ek is jammer ek kan nie jou aanbod aanvaar nie, maar jou goeie smaak sal my tot in lengte van dae bybly."

* Dit is Mike se vrou se verjaardag. Hy weet regtig nie wat om vir haar te koop nie en besluit om haar sommer direk te vra. Op hierdie manier spaar hy sommer baie tyd en gee hy vir haar iets waarvan sy hou.
"'n Egskeiding," sê sy.
"Nee, vergeet dit," is sy antwoord. "Ek het nie beplan om soveel geld te spandeer nie." 

Friday, 9 January 2026

Gedagte uit 'n koevert: Probleme

Diegene wat geduldig op God vertrou 
wanneer hulle deur moeilike tye gaan, kan seker wees dat Hy op die regte tyd ’n einde sal maak aan al hulle probleme. 

Thursday, 8 January 2026

Dink hieroor: "Hoe" maak tog 'n verskil!

Dit maak nie saak hoe lank jy lewe nie, 
maar hoe!
Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, 
maar hoe jy oud is!
[Anoniem]

Wednesday, 7 January 2026

Mossiestilte: Hand. 27:10

"Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.”

Alles loop nie altyd vlot in ons lewens nie. Dalk is jou werk in groot moeilikheid of 'n verhouding, siekte, finansies, ens.
God sal egter altyd by jou wees.
Die skip waarin jy sit, jou veiligheid, word dalk bedreig; nie net vergaan jou skip nie, maar die Satan probeer nog ekstra vrees by jou inboesem en slaan sy tande in jou.
Bly net in die heerlike teenwoordigheid van die Vader; Hy is jou hoop en jou sterkte. Christus is jou Redder en die Satan kan jou nie skade aandoen nie.

Dankie, Here, dat U my Redder is. Ek loof U en staan by U. U sal my nie verlaat nie, al ly ek met geweld skipbreuk en vergaan my aardse goed, U sal my veilig bewaar. Ek hou moed al maak ek soms foute, of verkeerde besluite, nogtans sal U my red. Ek weet ek sal behoue op U strand uitspoel. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 6 January 2026

Mandjie Hoop: Kaalvoetkind-gedig

Mag jy altyd ’n kaalvoetkind
van Afrika bly
wat haar antwoorde by
die sonsondergang kry
en mag jou seëninge oor
jou neersak soos
’n laatmiddag-reën.
Mag die nagapies
jou drome veilig hou
en mag jy altyd
met jou voete plat
op die grond loop.
Mag die sonbesies
met die lied in
jou hart harmoniseer
en die bosveld altyd
jou toevlug wees.

-Kaalwoorde-

[Bron: Klik HIER]

Monday, 5 January 2026

Wat is op my beplanningslysie vir 2026

Ja, die rustyd, die saamkuier met jou dierbares, familie, vriende, ooreet, ure langs die strand stap of sommer in 'n skaduhoekie in jou tuin sit en boeklees, ens. is verby en die nuwe jaar het met spoed begin.

Wat gaan ek en jy in die nuwe jaar doen? 
Gaan ons betrokke raak in ons gemeente of gemeenskap? (Leer, leef en dien). 
Gaan ons 'n verskil maak in ons gemeenskap? (Leer, leef en dien). 
Die belangrikste is egter of ek genoeg tyd aan my geliefdes gaan afstaan, sodat ek 'n verskil aan hulle lewens kan maak. 

Hierdie is vrae - wat net ek en jy vir onsself kan antwoord.

Ons uitgangspunt vir hierdie jaar behoort te wees: leer, leef en dien met liefde.

'n Mooi 2026 vir elkeen.

Seënbede: Mag jy vandag geseën word ...

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie

(’n Ou Fransiskaanse seën)

Sunday, 4 January 2026

Flitsgedagte: Kommer

Mossiestilte: Joh. 11:25 & 26

Jesus antwoord vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;
en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Jesus het vir jou sondes gesterwe en vir jou die ewige lewe gegee.
Jy sal nooit sterwe as jy in Christus Jesus glo nie.
As jy glo, is Christus jou opstanding en lewe, al het jy ook gesterwe.
Hierdie lewe op aarde is waarvoor God jou geskape het, om sy wil te volbring en Hom te verheerlik.

Dankie, Here, ek is verseker van die ewige lewe omdat U vir my met u bloed betaal het. Ek luister na U stem en volg U, want ek is deel van u kudde deur u genade (vergelyk Joh. 10:27). Ek en die Vader is een, (Joh. 10:30). Dit getuig van U, my Vader, se liefde vir my. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 3 January 2026

Kerkgenotjies: Koos aan die woord

Koos is op besoek aan Engeland. Teen die laaste dag is hy heeltemal platsak, misreken hom met die tyd en verpas sy vliegtuig.

Moedeloos gebruik hy sy laaste geld om met die moltrein terug te ry Londen toe. Terwyl hy na slaapplek soek, reën hy boonop heeltemal nat. Niemand wil hom gratis verblyf gee nie. Hy besluit dat as hy nie slaapplek kry nie, moet hy darem probeer om 'n stukkie kos in sy maag te kry.

Hy klop aan die agterdeur van 'n kroeg met die naam The George and Dragon. 'n Vrou maak die deur oop en vra wat hy wil hê. 
"Net 'n stukkie om te eet, mevrou."
"Nee," gil sy en slaan die deur in sy gesig toe.
Hy klop weer en hierdie keer verskree sy hom dat sy ore tuit.
Hy waag dit om 'n derde keer te klop. Die vrou kan haar oë nie glo dat hy dit waag nie en voor sy kan lostrek, vra hy bedees: "Kan ek dalk 'n paar woorde met George praat?"

oooOOooo

Koos is baie lief vir sy vrou, maar sy raak so dominerend dat hy dit nie meer kan uithou nie.
Uiteindelik kry hy haar so ver om 'n sielkundige te gaan spreek.
Hy wag buitekant en 'n uur later kom sy uit.
"Hoekom het jy so lank gevat?" vra hy.
"Dis daardie man," antwoord sy vies.
"Dit het my byna 'n uur gekos om hom te oortuig dat sy lessenaar op die verkeerde plek staan."

Friday, 2 January 2026

Gedagte uit 'n koevert: Kommer

Die begin van kommer, 
is die einde van geloof; 
en die begin van geloof, 
is die einde van kommer.

[George Müller]

Thursday, 1 January 2026

'n Geseënde 2026 vir elkeen van ons getroue lesers

Dink hieroor: Wat kies jy?

Daar is twee maniere om jou lewe te leef:

* asof daar geen wonderwerke is nie!

* asof alles 'n wonderwerk is!

Januarie-verjaardae

Seën vir 2026 met al die gepaardgaande uitdagings

Die begin van elke nuwe jaar is dit tyd om te reflekteer oor die afgelope jaar en planne te maak vir die nuwe jaar en die onbekende toekoms. 2026 beskik oor die magiese onbekende, maar ook oor die belofte van nuwe geleenthede en die moontlikheid om ons lewens te verbeter, om dit waarvoor ons op aarde geplaas us, voluit aan te pak en geen steen onaangeroer laat nie. 

Mag jy oor die vermoë beskik om die 2026-uitdagings in 2026-hoogtepunte te omskep. Voorspoed en baie seën vir die pad vorentoe.