Tuesday, 8 July 2025

Mandjie Hoop: Maak skatte in die hemel bymekaar

Matteus 6:19-21 sê:

“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak nie ...
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar ...
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”

Hoe kan jy nou hierdie koninkrykbeginsel prakties uitleef?
Hoe kan jy perspektief behou, in terme van die materiële in jou lewe?

Kies die krag van eenvoud.
Leef binne jou inkomstegrens. Koop minder.
Jy het nie die grootste, beste en nuutste nodig nie.

Konsentreer op die dinge wat die kosbaarste is in die lewe,
en wat geen geld kan koop nie.
Verhoudings, liefde, tyd, gesondheid.
Die grootste gawes van God!

Ontwikkel jou waardering vir die klein dingetjies in die lewe.
Dit kom ook alles van God af!
Sien dit raak en koester dit.

Onderskei wat die advertensie nou eintlik aan jou wil verkoop.
Status, mag, gewildheid ...

Vrygewigheid help om op die koninkryk gerig te wees.
Gee eerder, as om te ontvang.
Gee eerder die einste goed wat jy wil hê, weg!
Vrygewigheid help jou om vry te kom van “goed”.
Eenvoud, uitreik, en omgee, maak jou vry van “goed”.

Leef hierdie koninkryks-avontuur!
Maak saam met die Here skatte in die hemel bymekaar.
“Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees,” sê die Here Jesus.

[Bron: Klik HIER]

Afkondiging: Selgroep

Monday, 7 July 2025

Statistiek: 2000+ e-besoeke Saterdag en Sondag

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: U het my skouers sterker gemaak ...

Here, dis vir my moeilik om te verstaan
dat U swaarkry in my lewe toelaat
met die doel om my nader aan U te bring
dat U soms my gebede onbeantwoord laat
omdat U groot krag ook tot my beskikking is
juis wanneer ek op my swakste is.
Here, dankie dat hierdie stuk swaarkry
wat U nie van my skouer wou afneem nie,
my net weer laat besef het
dat U die beste weet
dat U in die proses my skouers sterker gemaak het.
Dankie dat ek met u hulp
sterker en beter anderkant kon uitkom.
Amen.

Sunday, 6 July 2025

Boodskap: Badwatergeloof

Ek lê in die bad, terwyl die badwater intap en ek kom agter die bad word nie vol nie. Ek sien toe die prop is nie mooi in nie en ek plaas dit in posisie. En daar word die bad toe voller.

Ek dink toe: Hoe simpel van my ... 

Maar God tik my op die skouer en sê: Nee, nie simpel nie. Ek het 'n boodskap vir jou. Om in My te glo en te vertrou, is net soos badwater wat uittap, terwyl die kraan oopgedraai is en die badprop nie ingesit is nie. As jy nie die prop insit nie, sal al die boodskappe en woorde wat Ek vir jou stuur net uitloop en verlore gaan. Jesus, My Seun, is die prop wat jou geloof verseël en wanneer jy Hom in die regte plek plaas, in jou hart, sal My liefde jou meer en meer opvul. Sonder Jesus loop jy leeg.

Wat 'n boodskap! 

Dankie, Vader, dat U my vertrou het met hierdie boodskap.

[Dankie, Rosetta, vir die aanstuur.]

Afkondiging: 'n Dutoitspan-welkom aan die nuwe lidmate

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Mossiestilte: 2 Kon. 32:1-11 (Opgesom)

Vers 1: Jesaja kondig die dood van Koning Hiskia aan.
2 + 3: Hiskia soek opreg die aangesig van God en Jesaja word met nuwe boodskap na Hiskia gestuur.
4 - 7: Hiskia kry 15 jaar tot sy lewe toegevoeg; God sê op die derde dag sal jy opgaan na die huis van die Here.
8: Hiskia vra vir 'n teken. 
11: Die Here laat die skaduwee op die sonnewyser tien grade agteruit beweeg.

Die krag van God is bonatuurlik. God laat selfs die tyd wat Hy geskep het op aarde, terugbeweeg met tien grade, ter wille van die opregte gebed van Hiskia. 
God kan die gebed van die opregte sien en selfs die tyd van siekte terughou, en die tyd op aarde laat terug beweeg, ter wille van net een mens.

God en ewige Vader, U alleen is die Almagtige God, wie kan met U vergelyk? Daar is geen God soos U nie. Here ek bid: skep vir my 'n rein hart in my binneste, wat net op U sal vertrou en vernuwe 'n vaste gees in my. Verwerp my nie van u aangesig en laat u Heilige Gees van my nie wyk nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur 'n gewillige gees. Alleenwyse God aan U alleen bring ek die eer en aanbidding. Amen. (verg. Ps. 51:12-14) 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 5 July 2025

Statistiek: Van 259 000 - 260 000 e-besoeke in een dag

Kerkgenotjies: Honderd Psalms te min

'n Predikant in 'n besondere vrugbare gemeente het glo een Sondag gesê daar is deesdae soveel babas wat in sy kerk gedoop moet word, dat hy dit oorweeg om sprinkelbesproeiing te laat installeer.

'n Ander jong predikant het nie dieselfde probleem gehad nie. In sy gemeente was daar maar selde babas om te doop. Toe dit uiteindelik vir die eerste keer gebeur, was hy skoon op sy senuwees. Hy bel toe die ouer ervare predikant in die buurdorp en vra hom wat om te doen. 

Die predikant verduidelik alles aan hom en sê ook dat hy die gemeente ná die tyd Psalm 128:4 moet laat sing. Dit lui:

"Mag ryke seëninge
uit Sion jou bedou;
mag jy dié goeie dinge
van Sionstad aanskou!
mag jy nog, op jou bede,
'n nakroosseën verkry!
En, God van alle vrede,
mag Isr'els vrede bly!"

Alles het goed gegaan. Maar ongelukkig maak hy toe 'n foutjie met die Psalm en laat die gemeente  Psalm 28 vers 4 sing:

"Vergeld hul nou hul bose daad,
die vrug van selfgebroude kwaad;
beloon hul na hul werk en sin,
en skink hul eie drank hul in."  

Friday, 4 July 2025

Ontmoet ons personeel: Joe Frederics


Joe Frederics, die man met die groen vingers, is soveel jare deel van Dutoitspan se personeel, dat hy al op die kerk se inventaris is.

'n Staatmaker wat altyd bereid is om die ekstra myl te loop. 

Joe is 'n Kimberliet in murg en been - gebore en getoë in 'n deel van die land wat bekend is vir sy hitte, sy droogte, maar ook vir sy vriendelike mense wat oor uithouvermoë beskik. Joe-hulle was twee seuns en twee dogters. Werk was selfs in daardie jare nie volop nie en dit het meet en pas gekos om die vier Fredericse groot te kry.

Joe is 'n entoesiastiese sokkerman, nie net is dit sy gunstelingsport om na te kyk nie, maar vir baie jare het hy dit beoefen. Sokker is Joe se passie. Gevolglik is hy in goeie geselskap, want sokker word as die gewildste sportsoort ter wêreld beskou.

Hier is n paar algemene vrae om die mens wat die kerk se tuine so mooi in stand hou, beter te leer ken:

Vraag: Watter eienskap of woorde van jou ma onthou jy tot vandag toe?
Joe: "Joe, jy moet na my kyk tot die dag van my dood."

Vraag: Hoe lank werk jy al by die kerk? 
Joe: 32 dankbare jare.

Vraag: Hoe het jy van die werk gehoor? 
Joe: Dit klink te goed om waar te wees, maar ek het gedroom van hierdie werk. Ds Coreejes het my langs die pad opgetel en ek het by hom begin skrop tot die tuinman van die kerk geloop het.

Vraag: Jy het dus saam met baie predikante gewerk en hulle leer ken?
Joe: Ja, dominees Coreejes, Lötter, Van der Walt, Holloway, O'Callaghan, Kloppers, Enslin en Broodryk. 

Vraag: Wat is die lekkerste deel van jou werk?
Joe: Ek geniet al my werk by die kerk, van tuinwerk tot by die funksies en basare as die saal reggeskuif moet word.

Vraag: Wat is jou gunstelingkos? En hoekom staan dit boaan jou koslys?
Joe: Hoenderstew en pap. Die lewe is duur en dit is die goedkoopste vleis om te eet. Hoenderbredie is mos trooskos en met 'n lekker sous daarby grens dit aan koningskos. 

Vraag: Joe, as 'n mens al so lank op 'n plek bly en werk, dan is daar 'n groot verskil tussen toe en nou ... toe jy 'n kind was en nou. Wat is die belangrikste les wat jy in die lewe geleer het?
Joe: Bly weg van moeilikheidmakers en drank. Dit is so maklik om toe te gee aan druk, maar dit maak 'n mens se lewe net moeilik en meer gekompliseerd.

Vraag:
 Wat is die mooiste vers in die Bybel vir jou?
Joe: Die Here is my Herder.

Vraag: Na watter musiek luister jy graag? 
Joe: Rasta en Gospel

Vraag: Wat pla jou die heel meeste as jy vandag na die wêreld om jou kyk?
Joe: Geweld, drugs en jongmense wat hulle lewe op hierdie manier weggooi. Hulle gebruik nie die kanse wat vir hulle gegee word nie.

Vraag: Jy het nie geskroom om baie van jou familie se kinders te help nie? Jy moes opofferinge doen om hulle te help. Hoekom het jy dit gedoen en kyk hulle vandag na jou?
Joe: Ek was die enigste een wat gewerk het en geld verdien het. So ek en Dina het maar altyd die kinders ingevat en na hulle gekyk. Nee, hulle kyk nie vandag na my nie. Hulle is besig met verkeerde dinge. Dis só hartseer.

Vraag: Jy is 'n handyman. Wat kan jy alles met jou hande doen?
Joe: Van bou tot die herstel van enige iets wat by die kerk breek en reggemaak moet word. 

Vraag: Joe, wat sal jou boodskap vir die kinders en jongmense van vandag wees?
Joe: Bly weg van drugs, drank en die rowwe lewe van die wêreld. Dis nie die moeite werd om jou lewe op hierdie manier weg te gooi nie.

Wyse woorde van 'n man wat die lewe fyn waarneem.

Afkondiging: Erediens

Dutoitspan-nuus op FB

 Klik HIER vir Dutoitspan se FB-adres!

Thursday, 3 July 2025

Dink hieroor: Gebed is 'n ruiltransaksie.

Jy ruil jou TWYFEL vir
SEKERHEID.
Jy ruil jou VRAE vir
ANTWOORDE. 
Jy ruil jou PROBLEME vir
OPLOSSINGS.
Jy ruil jou LASTE vir
VRYHEID.
Jy ruil die ONMOONTLIKE vir
MOONTLIKE.
Daar is KRAG in
GEBED.

Wednesday, 2 July 2025

Moderne weergawe van Psalm 23

Die Here is my blaaskans. 
Die Here is my pasaangeëer, ek sal nie jaag nie.
Hy laat my rus met tussenposes van stilte;
Hy wys my prentjies van rustigheid wat my siel verfris.
Hy lei my op die pad van doeltreffendheid deur kalmte van gees.
En sy leiding bring vrede.
Al het ek ʼn magdom take om elke te dag af te handel,
sal ek nie paniekerig raak nie, want Hy is by my.
Hy verkwik en vernuwe my te midde van al my verpligtinge 
deur my gedagtes met die olie van rustigheid te salf. 
My beker van energie loop oor. 
Harmonie en doeltreffendhied sal waarlik die vrug van my ure wees,
want ek sal teen die pas van my Meester werk 
en in sy huis woon tot in ewigheid.

[Dankie, Christa]

* Lees Psalm 23 HIER

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek


Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Daar is 43 spesiale name by die kerkkantoor.
Kontak die kantoor om jou naam te kry!!

Tuesday, 1 July 2025

Statistiek: Dankie vir 257 000 e-besoeke

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Koop die regte aandele

Daar is nie fout om baie besittings te hê nie. Die probleem lê daarin dat jou rykdom jou identiteit vorm. Jy is wat jy besit. (Luk. 18)

Mense van aansien en rykdom, word dikwels in koerante en in die media deur die wêreld aangeprys. Gewone mense verdwyn eenvoudig in die massa. Hulle lewe lyk vir die man op straat onbelangrik. Jakobus help ons egter met hierdie siening. Gaan lees dit gerus as jy die dag plat op die grond sit, omdat jou besittings nie die wêreld se standaarde ewenaar nie. Rykdom wat ewigheidswaarde het, is jou kennis van God, jou verhouding met God en jou betekenisvolle verhouding met ander mense. Belê jou rykdom in die Ewigheidsbank. (Matt 6: 19-21)