Monday, 30 June 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: Here, U is die God van wonderwerke.

Here, ons bly voortdurend bekommerd en gestres. Die uitdagings aan elke gesinslid is nie maklik nie. Finansies, eksamens, groepsdruk, werksdruk, misdaad, te veel om op te noem. Maar, ons gee dit vir U en draai met alles wat ons het en alles wat ons is, in gebed, na U toe.
Ons bly vertrou!
Ons vertrou in U Almag.
Ons weet dat ons as u kinders hierdeur gaan kom.
Maar, meer as enige iets, vertrou ons U die pad met elke gesinslid sal stap.
Ons bly glo. Ons bly vertrou. Ons bly bid.
Amen

Sunday, 29 June 2025

Mossiestilte: Mar. 10:26+27

En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesé: Wie kan dan gered word?

Baie dinge kan op jou pad kom en jou laat wonder: Maar hoe kan enige iemand dan gered word?
Die antwoord gee Jesus net daarna in vers 27: Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik. 
Ja, Jesus is reg. Geen mens kan gered word in antwoord op hulle vraag, maar Jesus se bloed, het jou gereinig van alle sonde, sy dood het vir jou lewe gebring vir ewig.
Dit wat in jou pad gestaan het vir vandag, het God verwyder en plek gemaak vir sy redding en beskerming. 

Dankie Here Jesus, vir u krag wat my van die dood verlos het. U het my kom red toe ek moedeloos was. Steeds daagliks probeer Satan om my blydskap te steel. Ek bly egter geanker in God se Woord en in sy Gees. My geloof sal nie verflou nie, maar ek word versterk en verander na my verstand, daagliks in die Heilige Gees, wat my lei en my leer. Here, U het my uitverkies en kom red; ek kies U, as my enigste Redder. U, het my pad van oorwinning, reeds vir vandag vooruitgegaan. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Junie

Saturday, 28 June 2025

Statistiek van Dutoitspan se e-leesvriende: Vrydag en Saterdag


Totaal: 254 317  
Vrydag: 1 684
Saterdag: 1 275
Die afgelope maand: 15 834 
Verlede maand (Mei): 14 928

Statistiek: 254 000 beteken 3000 entoesiastiese e-lesers in drie dae

 

Kerkgenotjies: Soetheid ná die sterke

 ** Die dominee was so vreeslik bang vir vlieg dat hy net kans gesien het daarvoor as hy 'n stywe dop agter die blad het.
Toe hy weer moes vlieg, vra hy op 5 000 m 'n dubbele brandewyn. Op 6 000 m was dit 'n driedubbele en op 7 000 'n vierdubbele.
Toe hy agterkom die vlieënier klim nog hoër, roep hy die lugwaardin nader. "Juffrou," vra hy, "hoe hoog is ons nou?"
"Hemelhoog, Dominee," skerts sy.
"Nou bring dan asseblief dadelik vir my 'n pepermentjie!"

** 'n Dominee is pas terug van 'n sinodesitting. Hy vertel diep beswaard vir die hoofouderling dat daar tydens die sitting beweer is dat hul gemeente op drie na die meeste alkohol van alle gemeentes verbruik. "Iets sal daaraan gedoen moet word," sê die dominee.
"Dominee, u is volkome reg," sê die ouderling. "Op drie na die beste is eenvoudig nie goed genoeg nie."

"Koos," vra die voorman aan die messelaar, "het jy nie 'n broer wat 'n predikant is nie?"
"Ja, Meneer," antwoord hy.
"En jy lê stene. Dinge is darem nie gelykop verdeel nie," sê die voorman.
"Nee, dit is nie," antwoord Koos. "My arme broer kan nie twee stene op mekaar lê om sy lewe te red nie."

Friday, 27 June 2025

Afkondiging: Welkom by die erediens

Psalm 23

Die Here stel my pas - ek sal nie haas nie.
Hy laat my tot stilstand kom vir rustige oomblikke.
Hy voorsien my van beelde van stilte,
wat die vrede in my herstel.
Hy lei my in weë van bevoegdheid, 
deur kalmte van gees.
Hy rig my na vrede.
Al het ek baie dinge om elke dag te doen,
sal ek nie paniekerig word nie,
want Sy teenwoordigheid is by my.
Sy Ewigheid, Sy Almag hou my in balans.
U berei vir my verfrissing en vernuwing
te midde van my aktiwiteite.
U salf my gedagtes met olie van rustigheid,
my beker van vreugdevolle energie loop oor.
Net harmonie en doeltreffendheid 
sal die vrugte wees van al my ure,
want ek sal in pas wees met die Here
en in Sy huis vertoef vir ewig.

['n Japanse weergawe]  

Thursday, 26 June 2025

Statistiek: En só steek ons die KWARTMILJOEN-merk oor!

Dink hieroor: Moet nooit 'n dag in jou lewe gering skat nie ...

* Goeie dae gee jou blydskap!

* Moeilike dae gee jou ervaring!

*  Slegte dae leer jou lesse!

* Beste dae gee jou herinneringe!

Wednesday, 25 June 2025

Gebed: Dankie vir beskerming

Dankie, Hemelse Vader, dat U in my woon en my beker vol maak wanneer dit leeg is. Dankie dat ons vanoggend kan weet U is ons toevlug en ons sterkte, dat U ons hulp is in benoudhede en dat U in 'n hoë mate beproef is, juis sodat ons kan weet U is ons krag en sterkte. Ek het U nodig, Here Jesus, die Rots by Wie ek kan skuil. Dankie vir U Heilige Gees wat nou deur ons kan waai sodat ons U nabyheid kan ervaar dat ons, ons kleed van geregtigheid kan aantrek en weet dat met U ons in oorwinning staan. Dankie,Vader dat U ons nooit verlaat nie, maar met u hand ons sorgvuldig beskerm. Amen

Raak betrokke!

'n Aktiewe gemeente is 'n lewendige gemeente. 

Ons bekommer ons daagliks oor wat in die wêreld en in ons land aangaan, maar die verskil wat ek in my huis en in my gemeente kan doen, word ongesê gelaat.

Ek praat graag rondom die braaivleisvuur en 'n koppie koffie oor hoe ander die slegte situasie kan en moet verbeter, maar ek is 'n toeskouer as dit by my gesin en my gemeente kom. 

Kom ons begin by die haalbare, die klein kringetjie rondom my en doen dit wat vir my moontlik is. Die res los ek in God se hande - ek is nie by magte om dinge landswyd te verander nie, maar ek kan deel wees van die uitkringende verandering wat ek in my huis, by my werk en by my kerk kan doen. 

Aktiewe deelname is aansteeklik. Raak aktief betrokke!!    

Die werk van die Here word opgedeel tussen die diensgroepe. Jy is meer as welkom om jouself te kom aanmeld. Kies vir jou 'n diensgroep waar jy gemaklik voel. 

Die voorsitters van die verskillende diensgroepe dien ook in die kerkraad. Nader hulle gerus enige tyd met vrae of kontak die kerkkantoor vir vinnige diens: Elsa - 053 8421100

Die Bybel gee ons die opdrag om mekaar en die Here te dien met ons talente (1 Pet 4:10). Deur by 'n diensgroep aan te sluit, kan jy jou talente in diens van die Here en die gemeente plaas. 

* Barmhartigheid
Die versorging van die bejaardes, siekes en noodlydendes is deel van hierdie belangrike groep se aktiwiteite.
Voorsitter: Pieter Britz (082 290 2104)

* Getuienis
Die groep fokus op Christus se opdrag om die evangelie te verkondig.
Voorsitter: Coen Visser (082 821 0217)

* Erediens
Elke Sondag word Jesus se opstanding gevier. Na die erediens kuier ons om die koffiekan.
Voorsitter: Willem Grové (082 664 5115)

* Finansies
Baie van die gemeente se aktiwiteite kan nie sonder die nodige finansies aangepak word nie. Die nood is groot en word daagliks meer uitdagend. Hierdie groep het 'n kopkraptaak wat aktiewe planmakers kan help verlig.
Voorsitter: Jannie Stroebel (071 480 7158)

* Jeugbediening
Jongmense en kinders is vir die Here kosbaar  en daarom is dit só noodsaaklik dat ons nie moet bydra tot 'n generasie kerklose kinders en jongmense nie. 
Voorsitter: Marina Marais (078 564 6623)

* Eiendom
Die bestuur, onderhoud en benutting van die gemeente se geboue en terrein is die groep se verantwoordelikheid.
Voorsitter: Kontak op hierdie stadium die kerkkantoor (053 842 1100)

Afkondiging: Tabita se lepeltjie-aand

Afkondiging: Klerewinkel

Mossiestilte: Ex. 15:2

Die Here is my krag en my psalm, Hy het my tot heil geword. Hy is my God,  Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. 

Opgeruimde woorde na die oorwinning, wat God vir die Israeliete gegee het; God se almag en uitkomste word besing deur Moses. 
Dis hoe God werk, Hy bewerkstellig die oorwinning in die geveg en gee aan jou die prys van die oorwinning. 
Die Here is 'n krygsman, Here is sy Naam. (vers 3)
 Almal het ontsag vir die Israeliete gehad en geweet dat hulle deur God beskerm word en voorgetrek word bo ander volke.
Dis wat God, vir jou vandag wil doen; jou voortrek, en met sy heerlikheid en guns belaai. 
Die geveg is God se deel en die oorwinning is jou deel; vat dit en verheerlik die grote Naam van God Almagtig met jubel en danksegging. 

O Here, ek wil sing tot u eer, want U is hoog en verhewe. U regterhand O Here, verpletter die vyand. In u grote hoogheid, werp U diegene neer wat teen U opstaan. Deur U guns het U my gelei en verlos. U het my deur U krag na u heilige woning gevoer. Here U sal regeer vir ewig en altoos. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 24 June 2025

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: God vergewe


* Niks wat ons doen of in die verlede gedoen het, kan verhoed dat Hy ons vergewe en aanvaar wanneer ons in volkome berou na Hom toe gaan nie.

* Ons lees in Numeri 14:18: “Ek, die Here, is geduldig en vol liefde, Ek vergewe mense wanneer hulle sonde doen en opstandig is ...” (Die Bybel vir Almal)

* God begeer ’n verhouding met elkeen van ons. Indien jy twyfel oor hierdie stelling, dink net daaraan dat  Hy sy enigste Seun daarvoor opgeoffer het om vir ons sondes te betaal. (Romeine 5:8)

* Aanvaar sy onvoorwaardelike liefde, en leef dit op 'n daaglikse basis uit - moeilike kollegas, uitdagende skoonouers, ongehoorsame kinders, rebelse tieners, swak padverbruikers is maar enkeles wat ons naasteliefde vandag gaan beproef.

Monday, 23 June 2025

1 Korinthiërs 13 in "Griekwa-Afrikaans"


Al sal ek die tale van mense en van ingele praat,
maar ek het die liefde geloop ruil vir die haat
dan het ek net 'n raaslike parrafienblik gekom raak.

Al was ek so slim lat ek nuwe goeterse kan maak,
maar ek het die Jirre se liefde buite in die son gelat le,
dan is ek niks, hoor wat hierdie vandag vir jou se.

Al gee ek my hele bokke weg, net om die eer te he,
dan sal al hierdie dinge my nou nog niks gepetaal het nie
as ek die liefde uit die jimmel geloop haal het nie.

Die regtige liefde die se bek is nooit dik nie;
jy sie hom nie skinder en jy hoor hom nie klik nie;
hy skrywe die kwaad ok nie in boekietjiese op nie.

Die liefde maak alles mooi toe met hom se sawwe karos;
tale die hou op, voorspellingse verdroe en woorde raak los;
maar liefde die sal nou tot by ewigheid toe net so bly staan.

Toe ek kind gewas het, toe't ek sos 'n kind gedink,
en vandag sien ek net troewelte in die gorrawaterse blink,
maar eendag sal ek die jirre se liefde waarlikheid kom weet.

En nou is dit die geloof en die hoop en die liefde wat nou bly staan,
maar net die liefde sal saam met my na die Jirre se hemel toe gaan

Hans du Plessis

[Bron: So Tussen Ons, 20 Februarie 1998 - ingestuur deur Liz de Koker]

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Sunday, 22 June 2025

'n Heerlike tee-/koffiekuier na kerk

Oesmaande: Junie

Kwartaalprogram: Junie, Julie & Augustus

Dagboek: 22 Junie 2025

Mossiestilte: John. 4:15

maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Lees gereeld jou Bybel en tree gereeld in gesprek met die Here, dis die lewende water.
'n Fontein hou nie sy eie water nie maar gee sonder om dink waarheen oral van sy water.
Drink van die water wat Jesus gee, sodat jy ook aan ander kan gee om te drink wat Jesus vir jou gegee het.
God wil jou vandag vul met sy lewende water; God het 'n plan van ewigheids waarde vir jou lewe.

Soos 'n hert smag na water, verlang my siel na U o Heer. U alleen is my hartsverlange; U alleen is my krag en sterkte. U water versterk en verkwik my. U les my dors in die droë tye van my lewe tot in ewigheid. U laat my fontein oorloop. Amen.

[Ingestuur deur Pieter Swanepoel]

Saturday, 21 June 2025

Kerkgenotjies: Sport

** Die predikant is erg gekant teen sport op 'n Sondag, maar hy was ook hartstogtelik lief vir gholf.
Een lieflike Sondagoggend kon hy die versoeking net eenvoudig nie weerstaan om gou 'n potjie gholf te gaan speel nie.
Soos die duiwel dit wou hê, was hy dié dag op sy stukke en hy kry toe reg waaroor elke gholfspeler net kan droom .. 'n volmaakte gelukhou: die bal trek sierlik deur die lug en val direk binne-in die gaatjie ná 'n enkele hou.
Terug by die "werk" kon hy bars van die trots, maar durf vir niemand vertel nie.

** 'n Predikant, 'n eerwaarde en 'n rabbi gaan gholf speel, maar hulle het 'n oneindige gesukkel met die drie spelers voor hulle. Hulle moes by elke putjie tot vervelens toe wag voordat die voorste spelers kon klaarmaak.
Ná die agtiende putjie het hulle by die klubbestuurder gaan kla, wat toe verduidelik het dis drie blinde spelers en hulle kom speel net een keer per jaar.
Die predikant en die eerwaarde het albei dadelik verskoning gaan vra. Maar die rabbi, 'n man met 'n baie praktiese benadering, vra toe: "En hoekom kan hulle nie maar in die nag speel nie?"

Friday, 20 June 2025

Statistiek: 247 000 e-besoeke = BAIE DANKIE!

'n Lied wat die grootheid en heerlikheid van God besing

When We All Get to Heaven” is ’n Christelike lied. Eliza E. Hewitt het dit in 1898 geskryf. Emily D. Wilson was verantwoordelik vir die musiek. Eliza loof die Here Jesus vir Sy wonderlike liefde. Sy sien uit na die wonderlike dag wanneer almal in die hemelse Koninkryk herenig met Hom sal wees. Met die lees van hierdie lied, word 'n mens net meer bewus van die grootheid van God, en die heerlikheid wat voorlê wanneer ons by Hom sal wees in die ewigheid.

One day You’ll make everything new, Jesus
One day You will bind every wound
The former things shall all pass away
No more tears

One day You’ll make sense of it all, Jesus
One day every question resolved
Every anxious thought left behind
No more fear

When we all get to heaven
What a day of rejoicing that will be
When we all see Jesus
We’ll sing and shout the victory

One day we will see face to face, Jesus
Is there a greater vision of grace?
And in a moment we shall be changed
On that day

And one day we’ll be free, free indeed, Jesus
One day all this struggle will cease
And we will see Your glory revealed
On that day

Die lied is gebaseer op Openbaring 21 en 22 waar ons geleer word van Jesus se wederkoms, en van die ewige lewe by die Vader.

Thursday, 19 June 2025

Troosdiens: Rinus Slabbert

PLEK:
NG Gemeente Dutoitspan

DATUM:
20 Junie 2025

TYD:
11:30

PREDIKER:
Ds. Ensie Enslin 

Dink hieroor: Legio moontlikhede ...

* As Jonas uit die vis kon kom ...

* As Daniël uit die leeukuil kon kom ...

* As Lasarus uit die graf kon opstaan ...

DAN KAN DIE HERE OOK IN JOU BEHOEFTES VOORSIEN

Wednesday, 18 June 2025

Mossiestilte: Joh. 14:16

En Ek sal die Vader bid en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid. 

Nou stuur God sy waarheid om in jou te bly. 
Niemand kan dit sien nie en ken Hom nie, daarom kan die wêreld Hom nie ontvang nie (vers 17). Mense glo net wat hulle kan sien.
Maar jy ken Hom omdat Hy by jou sal bly en by jou sal wees (vers 17).
God sal jou nie vandag as wese agterlaat nie; Hy kom weer na jou toe.

Vader, nog net 'n klein tydjie wat ons vir Jesus nie met ons aardse oë sal sien nie, maar ons sien Hom, omdat U, die Christus, in ons lewe want U lewe en het uit die dood uit opgestaan. Halleluja! Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 17 June 2025

Mandjie Hoop: Geluk ...

As jy vir 'n uur gelukkig wil wees,
knip 'n uiltjie.
As jy vir 'n dag gelukkig wil wees,
gaan vang vis.
As jy vir altyd gelukkig wil wees,
help iemand anders. 

Plant glimlagte.
Kweek vreugde.
Oes liefde.

Ps. 89:2
Ek wil altyd sing van die goedheid van die Here.

Afkondiging: Selgroep

Monday, 16 June 2025

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: ’n Ou Fransiskaanse seën

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.

Sunday, 15 June 2025

Mossiestilte: Gen. 4:26

En ook vir Set is 'n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep.
 

Adam en Eva het met God gewandel. Die Here het Abel se offer genadig aangesien.
maar Kain se offer nie aangesien nie.
Kain bet Abel doodgeslaan en Kain was vervloek. 
Toe word Set gebore en toe hy honderd-en-vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword...... en toe het hulle die Naam van die Here aangeroep. 
Elkeen van ons kry 'n kans om die Naam van die Here aan te roep en om tot bekering te kom.
Begin die dag om die Naam van die Here aan te roep; ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelyk maak.

Here, ek roep U aan vanoggend, voor ek my dag begin. Here ek beplan, maar U rig my voete op die regte pad. Ek weet U beplan vir my 'n toekoms, en 'n weg van voorspoed. Van U is my verwagting en op U vertrou ek. Dankie dat ek u Naam kan aanroep, die Naam van Jesus Christus.  Amen

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Gebed vir Vadersdag

Ons bid vir die pa’s wat daarna streef om die eise van hulle werke, huwelike en kinders te balanseer met ‘n eerlike bewustheid van beide die vreugde en opoffering daarvan.

Ons bid vir die pa’s, wat ten spyte van hulle eie tekort aan ‘n rolmodel, gedurig daaraan werk om ‘n waardige pa te wees vir hul kinders.

Ons bid vir die pa’s wat nie altyd daar kon wees vir hulle kinders nie, maar wat nou ekstra moeite doen om hulle kinders lief te hê en te ondersteun, selfs as volwassenes. Hiermee saam bid ons spesiaal vir pa’s wat deur die woorde en dade van hulle kinders gewond is en dit dikwels diep in hulle binneste wegsteek.

Ons bid vir elke pa wat ten spyte van onenigheid in sy huwelik, in sy kinders se lewens betrokke bly.

Ons bid vir die pa’s van kinders wat aangeneem is, wie se liefde en ondersteuning lei na ‘n vol lewe wat getuig van aanvaarding en behoort.

Ons bid vir dié wat as stiefpa’s die rol van pa moet vervul, en hierdie verantwoordelikheid vrylik kies. Ons is dankbaar vir die wat die titel van “vader” verdien het in hulle stiefkinders se lewens deur liefde en respek. Ons bid ook vir die stiefpa’s wat nog daaraan werk en soms daarmee sukkel.

Ons huil saam met elke pa wat ‘n kind aan die dood afgestaan het en aanhou om oor die kind te rou en die kind in hulle harte saam te dra.

Ons bid ook vir elke man wat geen kinders het nie, maar die volgende generasie koester as hulle eie.

Ons dra elke man in die gemeenskap aan God op wat ons as vader-figuur gelei het as mentor, onderwyser of reisgenoot.

Ons bid vir die mans wat op die drumpel van ouerskap staan, mag hulle vry en met vrymoedigheid hulleself oor hulle kinders verheug.

Ons bid vir die pa’s wat reeds gesterf het, wat in ons herinnering en verlange voortleef, wat aanhou om ‘n invloed op ons lewens te hê.

Ons is diep dankbaar dat U vir ons kom wys het hoe lyk ‘n perfekte Vader wat omhels, troos en liefhet sonder voorwaardes.

Seën elke pa en pa-figuur in ons gemeenskap Heer, waar vaders dikwels afwesig is.

[Gebed deur Kirk Loadman, vertaal deur Tilana Meyer-Morkell]

Oesmaande: Junie

Saturday, 14 June 2025

Kerkgenotjies: Ekonomiese keuse

** Drie kerkgangers staan en gesels oor hoe hulle meer geld vir hul onderskeie kerke kan insamel. Die skoen druk en die normale fondsinsamelingspogings is nie meer voldoende nie.
Die NG-man sê hy wil voorstel dat 'n streep voor die kerk se deur geverf word. Kerkgangers moet dan die geld wat hulle in hul sakke het, in die lug opgooi wanneer hulle by die streep kom. Dié wat aan die kerk se kant van die streep val, is die kerk s'n; dié wat aan die duskant val, bly die kerkganger s'n.
Nee, sê die Jood. Hy hou van die idee om geld in die lug in te gooi, maar dit is die afkom wat hom pla. Hy dink die Here moet maar sy deel vat terwyl die geld in die lug is. Hy sal tevrede wees met dié wat afkom. 

** 'n Prediant kondig een môre af hy het slegte nuus, goeie nuus en slegte nuus.
Die slegte nuus is die kerk se dak is besig om inmekaar te val en dit gaan duisende kos om dit te herstel.
Die goeie nuus is, ons het die geld.
Die slegte nuus is, die geld is nog in julle sakke.    

** "My droom," kondig klein Karel aan, "is om 'n miljoen rand per jaar te verdien. Nes my pa."
"Haai," sê die maatjie. "Verdien jou pa R1 miljoen per jaar?"
"Nee," antwoord klein Karel, "maar hy droom daarvan."

Friday, 13 June 2025

Gedig van die beroemde dramaturg - Kalidasa

Groet aan die dagbreek

Kyk na hierdie dag!
Want dit is die lewe, die lewe van die lewe self.
In sy kort verloop
Lê al die waarhede en realiteite van jou bestaan:
Die vreugde van groei,
Die glorie van dade,
Die prag van prestasie
Is maar ervarings van tyd.

Want gister is maar 'n droom
En môre is maar 'n visioen;
Maar vandag, na waarde geleef, 
maak elke gister 'n droom van geluk
En elke môre 'n vergesig van hoop.
Kyk dus goed na hierdie dag;
So word die dagbreek gegroet.

[Die bekende professor, sir William Osler, asook Dale Carnegie, het hierdie gedig op hul lessenaar gehad, waar hulle dit elke oggend kon sien. Hierdie gedig het hulle aangespoor om in dag-vaste kompartemente te leef.]

Dutoitspan-nuus op FB


Klik HIER vir Dutoitspan se FB-adres!

Thursday, 12 June 2025

'n Kers vir Rinus Slabbert

Ewigheid

Iewers is dit als verby
en staan jy wat agterbly
vir lank verslae, verstom, verpletter …
Verblind!

Want sien jy my dan nie dwaal
deur die melkweg nie?
En voel jy nie hoe waai
my asem in die winde nie?
Hoor jy nie my fluisterstem
oor veld en vleiland nie?

Jy bly soek my
tussen klip en steen
en jy mis my -
jy mis my

waar ek oor jou reën …

[Digter: Braam Oberholzer]

Die troosdiens van Rinus Slabbert vind 20 Junie 2025 om 11:30 plaas. Die diens sal deur ds. Ensie Enslin gehou word. 'n Groot boom het in Dutoitspan-gemeente geval. Ons sal Rinus onthou as die omgeemens met die groot hart vir wie geen taak te groot of te onmoontlik was nie. Uitreik was 'n natuurlike reaksie, terwyl sy linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie. 

Ons bid vir Selma, die kinders en kleinkinders troos toe in hierdie hartseertyd.

Maniere om jou daaglikse bagasie minder te maak

* Gooi die griewe in jou lewe weg.

* Sit daardie gevoel (die bagasie!) neer - dinge soos vrees of irritasie, of jaloesie of moedeloosheid.

* Herbesin jou doelwitte - pas dit aan.

* Sê basta vir besittings – dit kan ook bagasie wees - materiële begeertes!

* Haal die masker van 'n beter jy af.

* Verpes perfeksionisme.

* Roep halt met die media, ook sosiale media - die moderne tyddief.

* Word bevry van werkverslawing.

* Laat staan jou agterdog oor God.

[Lees gerus verder HIER.] 

Dink hieroor: Waarom boer sommige Afrikaanse kerke agteruit?

Hierdie vraag word dikwels gevra as mense om die koffiekan na 'n erediens staan en koffie drink en die kerk was weereens ontstellend leeg. 

'n Wyse bejaarde lidmaat se antwoord som dalk die probleem op: "Dominee, ons mense het die vrees vir die Here verloor. Daarom is al die Afrikaanse kerke besig om agteruit te boer."

Hoe sal 'n mens hierdie antwoord kan meet as dit moontlik sou wees? Een moontlike manier om dit waar te neem is om te kyk na die gebrek aan eerbied en fatsoenlikheid wat onder die kerkgangers toegeneem het. So ook die algemene sedelike norme wat so kenmerkend van ons voorgeslagte was.

Respek en integriteit is deesdae skaars kommoditeite, selfs onder Christene. Dit is só jammer en strek die Here nie tot eer nie.

Psalm 95 

Hy is ons God en ons is sy volk
1 Kom, laat ons jubel tot eer van die Here,
laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind,
2 laat ons na Hom toe gaan met lof,

laat ons Hom toejuig met lofsange,

3 want die Here is die magtige God,
die groot koning oor al die gode.
4 Die dieptes van die aarde behoort aan Hom,
die kruine van die berge is Syne.
5 Die see is Syne, Hy het dit gemaak;
sy hande het die land gevorm.
6 Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer,
kom ons buig,
kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
7 Hy is ons God en ons is sy volk,
sy kudde, sy skape, deur sy hand versorg.
As julle vandag maar na Hom wou luister:
8 “Moenie hardkoppig wees soos destyds by Meriba,
soos die dag by Massa in die woestyn nie,
9 waar julle voorvaders My uitgetart
en my geduld beproef het,
hoewel hulle gesien het wat Ek gedoen het.
10 Veertig jaar lank het Ek 'n weersin in daardie geslag gehad,
Ek het gesê: ‘Hulle is 'n moedswillige volk,
hulle wil my paaie nie ken nie.’
11 Daarom het Ek in my toorn 'n eed afgelê
dat hulle nooit sou uitkom
by die rusplek wat Ek hulle wou gee nie.”

[© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1983, 1992. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.]

Wednesday, 11 June 2025

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Daar is 43 spesiale name by die kerkkantoor.
Kontak die kantoor om jou naam te kry!!

Mossiestilte: Heb. 9:24-28

Want Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak, 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;
ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie,
want dan sou Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy eenmaal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.

Christus het nadat Hy een slagoffer vir die sonde gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God. (Heb. 10:12)
Deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat heilig geword het.(Heb.10:14)
Christus het die volmaakte offer, eenmaal vir jou gebring, om jou volmaak te herstel en die Heilige Gees aan jou te gee.

Dankie Here, u Heilige Gees getuig nou aan my, dat U, u wette in my hart gegee het en in my verstand te skrywe. U sal aan my ongeregtigheid nooit meer dink nie. Omdat nou vergifnis vir hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie. Heb. 10:15-18. Amen. 

Tuesday, 10 June 2025

Vertrou op Hom

Wat is die eerste beeld wat by jou opkom as jy aan gebraaide hoender dink? Vir die meeste mense is dit 'n foto van 'n bejaarde, bebrilde heer, in 'n wit pak en swart strikdas.

Kolonel Harland Sanders, is 'n man wie se lewe so kleurryk is soos sy bekende resep van 11 kruie en speserye. Hoe het Kolonel Sanders 'n ryk gebou wat vandag nog die wêreld van kitskos regeer?

Die geboorte van KFC het sy wortels in 'n Shell-vulstasie in Corbin, Kentucky, wat Kolonel Sanders in die vroeë 1930's geopen het. Depressie en WO11 was maar van die terugslae waarmee hierdie man moes rekening hou. Sanders was vyf jaar oud toe sy pa oorlede is en hy noodgedwonge moes leer kook om vir sy broers en susters te sorg. 'n Vaardigheid wat 'n passie geword het. As 12-jarige verlaat hy die skool om voltyds as plaasarbeider te werk. 

Hierdie moeilike begin in die lewe, het Sanders se karakter gevorm en hom voorberei om die stigter van KFC te word.

Die KFC-pad het baie hobbels en slaggate gehad en op die ouderdom van 66 het 'n byna bankrot Sanders deur die land gereis op soek na restaurante wat bereid was om sy resep te franchise. Hy het nie moed opgegee nie. Nee! Hy het van dorpie na dorpie en later van land tot land gereis om sy resep vir Kentucky fried chicken te verkoop. ʼn Paar jaar later was KFC die grootste kitskoswinkel in die wêreld. Hy het God vertrou en opgestaan en sy resepte gaan verkoop! 

Sanders verskyn in talle advertensies vir KFC, wat die gesig van die handelsmerk word. Hy het tyd en hulpbronne aan liefdadigheidsorganisasies wat kerke, hospitale, Boy Scouts en die Heilsleër ondersteun, gewy. In 'n merkwaardige gebaar van vrygewigheid het hy 78 buitelandse weeskinders aangeneem.

[Gaan lees gerus van sy moeilike kinderlewe, gebrek aan skoolopvoeding, verskillende soorte werke wat hy moes doen om den brode, maar ook hoe hy geglo het aan sy resep en nie geskroom het om klein treetjies te gee om sy droom te verwesenlik nie.] 

God verkies om dinge saam met ons te doen. As ons so saam met God die pad stap, gebeur daar dinge wat ons nie gedink het moontlik is nie. Omdat Hy dáár is, kán ons. Hy gee ons die moed om op te staan en te doen wat ons nie gedink het ons kan nie. Die feit dat ons op Hom kan vertrou, inspireer ons om ons vleuels wyer te sprei as wat ons alleen sou waag om te doen.

Onthou, omdat God dáár is, kán jy! Maak net seker dat waar jy wil gaan, God sal wil saamgaan.

[Verwerk]

Afkondiging: Selgroep

Mandjie Hoop: Wees 'n seën

Mag God se guns op jou wees,
Mag God se guns op jou oorloop van generasie tot generasie.
Mag God jou behoed en jou seën.
Mag Hy tot julle redding veskyn en vir julle bonatuurlike vrede gee.
Mag Hy jou en jou familie bewaar waar julle ookal gaan.
Mag Hy julle genadig wees.
God die Almagtige sál jou seën en
jy sál ‘n seën wees vir almal op jou pad.
Hy is by jou, Hy is met jou,
elke sekonde van die dag.
In die kosbaarste Naam van Jesus Christus!

Monday, 9 June 2025

Handevatprojek: Terugvoering

Coen Visser het vanoggend saam met dr. Herman Steyn van Fichardtpark-gemeente (Bloemfontein) die !Xun Alfa Kerk-gemeente besoek sodat hy kan terugvoer gee oor die werk wat Dutoitspan twee jaar gelede onderneem het om vir hulle te doen.

Natuurlik sou die oefening nutteloos wees sonder om erkenning aan Rinus Slabbert te gee wat grotendeels die werk georganiseer, uitgevoer en befonds het. 'n Foto van Rinus is tydens die besoek voor in die kerk geplaas, omdat hy Donderdagnag onverwags oorlede is.

Hierdie slegte nuus het die gemeentelede van die !Xun-kerk diep geskok, aangesien hulle vir weke skouer aan skouer met Rinus gewerk het tydens die herstel van die vloer. Hulle het onmiddellik gevra dat hulle ook by die roudiens teenwoordig wil wees. Hulle wil ook die foto van Rinus raam en in hulle kerk ophang as 'n blyk van respek en waardering. 


Klik HIER en HIER vir foto's tydens die werkery.

Foto's & inligting: Coen Visser

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed vir hulle wat siek is

Terwyl ons siek is
Here, wanneer ons siek is en vrae vra
is dit U wat ons hand neem en ons dra.
Wanneer ons swak is en soms só moeg voel
weet ons met alles het U 'n perfekte plan en doel.
Net U ken die begin en einde van ons lewe
en in geen situasie sal U ons ooit, ooit begewe.
Daarom sal ons in gesondheid en siekte u Naam prys.
U is ons Geneesheer en U sal die pad vir ons aanwys!
Amen

Gegrond op Heb. 13:5 (Amplified); Lukas 21:34 (Ou Vert); Ps 57:33 (Lewende Bybel)