Thursday 26 March 2020

Miskien sê die Here vir ons ...

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, jy is nie so in beheer van die wêreld soos wat jy dink nie, jou kassie kan binne dae geskud word.

Miskien sê die Here vir ons: Respekteer die natuur, pas dit op, versorg dit, maar luister ook daarna.

Miskien sê die Here vir ons: Ek gaan jou vir 'n rukkie uit hierdie rotresies haal waarin jy so magteloos vasgevang is, en Ek gaan jou dwing om rustig te wees. 

Miskien sê die Here vir ons: Gebruik hierdie tyd nuttig en leer weer jou mense ken, spandeer hierdie tyd wys en kom nader aan mekaar. 

Miskien sê die Here vir ons: Mens, jy gaan sien dat jou geld en weelde jou niks help in sulke tye nie, en jou geld (en Mammon) gaan vir 'n rukkie tweede viool moet speel. 

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Leer om vir 'n rukkie minimalisties te leef, en sien raak hoeveel vrede daar in jou gemoed kan wees as jy bietjie sonder jou weelde moet klaar kom. 

Miskien sê die Here vir ons: Besef dat jou waardes maklik deur die genietinge van die wêreld negatief kan verander, en dink bietjie na oor wat regtig belangrik is in die lewe. 

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, oppas dat jou selfsug nie ander tot nadeel strek nie, daar is genoeg vir almal, gun ander ook 'n stukkie brood. 

Miskien sê die Here vir ons: Mens, daar is mense wie Ek op jou pad gaan stuur, help hulle as hulle middele opgeraak het, Ek sal jou vergoed daarvoor. 

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Ek wil hê dat daar weer eensgesindheid onder My mense kom, reg oor die wêreld, veg saam teen hierdie onsigbare gemeenskaplike vyand, dit gaan julle sterker maak. 

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Dink weer kreatief, kom uit daardie gemaksone, jy is tot meer in staat as wat jy dink. 

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, as jy na My soek in hierdie tyd, kyk op en sien My raak, Ek het jou nie verlaat nie, Ek hou jou steeds in die holte van My hand en Ek beskerm jou. Ek is steeds op my troon. 

Miskien sê die Here vir ons: Al gaan jy ook deur 'n dal van doodskaduwee, moenie vrees nie, My hand is uitgesteek, vat dit net. 

Miskien vra die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, kan jy sien hoe jy nog altyd kla met die wit brood onder die arm? Hou op daarmee.

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Ek ontferm my gou weer, dis alles binnekort verby.

Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Jy gaan vir my dank vir die goeie goed wat hieruit gaan vloei, Ek is besig om jou te leer en jy gaan dalk op 'n nuwe pad begin as alles verby is.

Miskien sê die Here niks van hierdie goed nie, miskien is dit maar net my eie gedagtes, maar dis waaraan ek vashou in hierdie tyd... Aan Hom.
(Skrywer onbekend)

Baie dankie aan Meisie de Koker wat hierdie stukkie gestuur het sodat dit met almal in die gemeente gedeel kan word. Dit stem ons almal tot nadenke.