Thursday 18 April 2019

7 klippies ...

  Daar's sewe klippies in jou sak
  Deur die Here vir jou ingepak
  Sodat jy ene weg kan gooi
  Vir elke tiende jaar voltooi.

  Eerste klippie, geen probleem
  Die spel sal donkiejare neem,
  Dink ons in ydel kinderwaan
  Die lewe gaan vir ewig aan.

  Op twintig waai die tweede klip,
  Pragtig en rooi van lip,
  Windmakerder kan jy nie kry,
  Wat ek wil, skuld die wêreld my.

  Klippie drie die laat jou dink,
  Vir dertig jaar het jy rinkink,
  Vier sewendes is daar nou oor,
  Om op te maak vir tyd verloor.

  As uit jou hand die vierde val,
  Dan vlek die grys jou slape al,
  En dit wat in die sak oorbly,
  Te min om als gedoen te kry.

  Dan kom jy by vyftig,
  Nou galop die tyd te vlytig,
  En na die bult-op lewenspad,
  Beginne jy die afdraand vat.

  Voorlaaste klippie nommer ses
  Glip uit die sak voor jy sê mes
  Die wat gewerk het vir n baas
  Kry sy persent en groet vir laas.

  O wee, o wee, nou klippie sewe,
  Skriftuurlik  het jy klaar gelewe,
  Daar kom nou veel genade kort
  Vir die wat dalk wil tagtig word.

  Daar is natuurlik taai kalante,
  Jy sien hul soms in die koerante,
  Wat net nie wil die emmer skop
  En eers na honderd om sal dop.

  Of jy nou tot vervelens lewe,
  Of tata sê hier rondom sewe,
  By watter klip jy ookal stop,
  Gaan sal ons, die tyd raak op.

  Ek wens jou dus n sakvol klip,
  Genoeg vir daardie honderd trip
  En vreugde tot jou knië daar op oudag knak.

  Nou ja, ou maat, daar het jy dit,
  Al wat ons nou kan doen is bid
  Vir gesondheid, liefde en geluk,
  Met voorspoed vir die oorblystuk!