Wednesday 25 December 2019

Klaas Verlaat se krismis

Hier het ons nie sneeu nie. Nee, hier is net bossies en 'n paar brandmaer skapies. As jy jou verbeelding gebruik, kan 'n skaap seker 'n Karoo-sneeuman wees. Hier het ons darem sterre ... miljoene van hulle. En dis bitter mooi. Ek sit juis op die stoep en teug aan my twakpyp. Die kinders slaap al. Vrougoed is ook in droomland. Nou sit ek hier ... op my geroeste parafienblik. Ek het al drie draadkarre uit bloudraad gebuig. Santjie kon help met 'n paar Cobra polish-blikke vir wiele. Hierdie is Jamie se 4x4-bakkie. Veertien kleiosse staan op die kraal se muur. Die son moes hulle nog so bietjie bak. Ek sug. Op die sideboard het ons 'n vetplant staan gemaak. Miena het propperse Krismisballe op die punte van die stekelblare vasgemaak. Oor 'n paar ure is dit Kersdag. Hier het ons nie fancy Krismisbome nie. Ook nie tinsel nie. Liggies gaan nie werk nie. Ons kook op die primus. Die naaste krag is op die dorp. Nee, hier moet ons kerse brand op Kersfees.

Die kinders sal vroeg op wees. Dis 'n Kerfeesding. My hande is seer. Draadbuig is nie maklik nie. Die maan hang groot aan die hemel. Die sterre dans al om die ou grote se ligkring. Dis darem mooi. Onse Jirre is groot. Onse Jirre ken van decorate. Niks is mooier as die sterrenag nie. Soos in Betlem ... die sterre moes daardie aand nog mooier wees. Die Jirre moes seker af-show, want om Sy Kind aarde toe te stuur, is 'n groot affêre. Selfs die wyse manne kon sien dat die grootste ster van almal, special was. Volg hom ... al die pad en stop toe voor 'n krip. Goud, wierook, mirre ... jislaaik, daai was fancy geskenke.

Ek kyk na die draadkarre. Ek sug weer. Jamie soek mos een. Klein Fielies se kleiosse gaan haar span volmaak. Die ossewa is ook al gepaint. Die dag breek oor my huis se dak. 'n Hoender kraai. Jamie was eerste op. Fielies het gevolg. Ons het voor die kaktus Krismisboom gaan staan. Ons het gebid. Ons het Stille Nag gesing. Vrougoed het al gister 'n hoender gebraai. Die maat van die een wat netnou-net gekraai het. Dis darem Krismis mos.

In die stofstraat speel die kinders. Jamie jaag sy 4x4 tot bo teen die bult uit. Fielies se osse kreun vooraan die olieblik-ossewa. Daai klippe moet bult uit ... vandag nog. Hulle lag. Hulle speel en die belofte van gebraaide hoender en tuisgemaakte Custard vir poediing, maak hulle opgewonde.

Krismis hier, is anders. Jy sien, die vreugde van Kersfees lê in die eenvoudige dinge. Soos 'n krip in 'n stal. 'n Kaktus Krismisboom op die sideboard. Draadkarre en kleiosse bring vreugde. My hart is skoon.

Ek kyk by die deur uit ... 'n Paar skaap-sneeumanne hardloop verby. Ek glimlag.

Ons hou Krismis in die Klein-Karoo
Dis die hemelkind van Betlem, waarin ek bly glo
Niks meer kan ek gee, as my handewerk
Ons hou in die voorhuis ons eie kerk
En gee uit my hart die biejie wat ek het
Die groot ding van Krismis is ...
Die Jirre het ons vrot siele kom red.
Elke een van ons ... sommer net so ...
Ons het nie eers gevra nie ... Hy het sommer net kom gee.

Kyk op na die sterre
Kyk af tot in jou eie hart
Dis Klaas Verlaat se arm Krismis dié ...
maar die Jirre se Goud, Wierook en Mirre lê vol in my hart.

[Pieter Bonthuysen]