Wednesday 2 September 2020

Gebed: Hemelse Vader ...

Gees van God,
U ken my hart so goed.
U weet hoe eiesinnig en selfgesentreerd ek is
en hoe ek sukkel om ander
onvoorwaardelik lief te hê.

Hier aan die begin van die lente
vra ek U om die dooie hout
van my verhoudingslewe weg te sny en
in die plek daarvan helderkleurige
liefdesbloeisels te plant:
lekkerruik-mensweesblomme omdat
my hart met
U Gees gevul is
en ek elke dag
met u water van waarheid verfris word.
Voed my met u Woord
sodat elke nuwe verhoudingsbot
die heerlike Geesvrug sal voortbring.

Meester van my hart,
laat groei in my
liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid,
goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing
sodat ander U in my sal sien,
hoor en voel.

Amen

[Baie dankie, Marguerite Pienaar, dat jy hierdie gebed met ons deel.]