Sunday, 30 November 2025

Kerssangdiens 2025

Foto's: Elsa Minne

Kerslied: Somerkersfees

1. Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die verlede
Oor sterrevelde ruis.

2. Hoor jy hoe sag die klokke beierin eeue-oue taal.
Kyk, selfs die nagtelike swye
vertel die ou verhaal.

3. Voel jy ook nou Sy warm liefde
As ons die dag gedenk,
Toe Hy sy Seun aan ons gegee het –
Ons grootste Kersgeskenk.

KOOR
Kersfees kom, Kersfees kom -
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

* Die eerste twee verse is deur Koos du Plessis (1945-1984)) geskryf in 1971 en die derde deur Jannie du Toit in 2001.

[Klik HIER om na 'n video te kyk. Bron: HIER ]

Uitnodiging: Kom woon vanaand se Kerssangdiens by!

KOM DEEL IN DIE VREUGDE
VAN DIE KERSSANGDIENS!
WANNEER: 30 November 2025
TYD: 17:30 vir 18:00
WAAR: By NG Kerk Dutoitspan
Kom vroeg en bring die bure, vriende en familie saam!!
Heerlike vrugteslaai en roomys na die diens!

Mossieboodskap: Hy sorg vir julle ...

Terwyl 'n werker besig was om die sierbome langs die straat van 'n sekere stad te snoei, het hy 'n mossienes gesien in een van die takke wat verwyder moes word. By nadere ondersoek het dit geblyk dat die nessie vol kleintjies was. Dit sou noodlottig vir die kleintjies wees as hy die tak moes verwyder. Hy het dus toestemming gekry om die boom later te snoei.

'n Paar weke later was die nessie leeg; en toe hy dit bekyk, sien hy tot sy groot verbasing 'n Sondagskool-tekskaartjie tussen die grassies en stokkies ingevleg, met die woorde daarop: "Hy sorg vir julle." (1 Pet.5:7)

Sal die God wat getrou is aan Sy Woord selfs teenoor die mossies, dan nie ook vir sy kinders sorg nie?

[Die Spoorwegbode: Februarie 1986]

Mossiestilte: Kol. 2:9&10

Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; 
en julle het die volheid in Hom wat die hoof is van alle owerheid en mag;

God het jou saam met Hom opgewek uit die dood deur die geloof in die werking van God, sien (vers 12b).
Jy is dus saam met Christus opgewek; soek dan nou dinge wat daarbo is waar Christus aan die regterhand van God sit. (Kol. 3:1)
Wanneer Christus, wat jou lewe is, geopenbaar word, dan sal jy ook saam met Hom in heerlikheid openbaar word. (Kol. 3:4)
Beklee jou nou met die nuwe mens wat  vernuwe word tot die kennis na die beeld van jou Skepper. (Kol. 3:10)

Dankie, Here, vir u genade, wat my vernuwe het en 'n nuwe kleed gegee het in Christus na die beeld van my Skepper; dit is die Woord van God. Ek het nou saam met U opgewek uit die dood in die nuwe lewe. U het het my met u volheid gevul tot eer van u Naam. Aan U al die eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: November

Saturday, 29 November 2025

Kerkgenotjies: Spoed

* Wat doen 'n skilpad op die N1?
So 300 meter per uur. 

* Wat is die definisie van 'n Tiger Moth?
'n Versameling onderdele in 'n formasievlug.

* Dit is Koos se eerste vlug as kaptein en hy wil graag die passasiers en bemanning imponeer. Toe hy taamlik na aan die lughawe vir die landing is, besluit hy om die Boeing reg aan die kant van die aanloopbaan neer te sit sodat hy die eerste afrit na die terminaalgebou kan neem.

Hy bring die reuse vliegtuig stadig en sekuur in, land presies waar hy beplan  het, gooi die motors in trurat, die vlerkklappe lig blitsvinnig op en hy lê op die remme.

Maar ten spyte van alles trek die Boeing reg oor die teerstrook en kom 'n hele ent aan die anderkant in 'n geweldige wolk stof en gras tot stilstand.

Koos is onthuts, want hy kan nie verstaan waarom hy nie die vliegtuig betyds kon stop nie. "Sjoe," sê hy, "dit is die kortste aanloopbaan waarop ek ooit geland het. Maar ek sê jou, dit is wragtie die breedste!"  

[Bron: Finansies & Tegniek, 5 April 1996]

Friday, 28 November 2025

Gedig

"U wat lang afstande te voet afgelê het
in die bloedige somerson
oor stowwerige en gevaarlike paaie
van 'n dor en arm land;

U wat heeldag geskaaf en gesaag het
aan jukke vir osse
en planke vir tafels vir klante
wat soms ook vitterige was, dorpstimmerman;

U wat die houtkruis van skande gedra het
nadat hulle U met stokke geslaan het
en met die vuis en die gesel,
en U die ganse nag nooit kon rus nie;

kyk, Here, ek kom na U met my las
omdat ek moeg is van mense en
die vrees dat ek mag misluk,
en moeg is van wonder oor wat die moeite werd is,
en moeg is om alleen te dra - Help my! "

Uit: Die goeie sal lewe - I.L. de Villiers

Thursday, 27 November 2025

Dink hieroor: Waar begin my Kersfeesvoorbereidings?

Almal is besig met voorbereiding vir Kersfees. Die winkels se rakke is swaar gelaai met al die Kersfeesartikels. Jingle Bells gaan nog 'n paar 100 keer die publiek oor die winkelluidsprekers aanmoedig om te koop, want Kersfees is oor 4 weke en verlede jaar se verkope moet verbeter word.

Hoe lyk my voorbereidings vir Kersfees?? Begin ek by die ...
* Kersboom?
* koop van geskenke vir vriende en familie?
* bak van kleinkoekies of 'n groot vrugtekoek?
* regmaak vir die groot uittog see toe of om die kamptoerusting reg te kry?
* skoonmaak en regpak van kaste voordat die kuiermense kom?
* hartsake wat agterweë gebly het gedurende 2025?

Kersfees verkondig juis die boodskap van liefde - en om eerlik en met my hele hart uit te reik en die boodskap van liefde aan ander te verkondig, moet ek my hart skoonmaak en regpak van al die slegte dinge wat in 2025 in my hart opgehoop het. Die woede, teleurstellings, vermakerigheid, ongeduld, jaloesie, onvergewensgesindheid, belangrikheid, al die dinge wat tussen my en 'n geseënde Kersfees staan. God het ons in sy groot genade al ons skuld deur Christus vergewe. Gaan ek nie dieselfde vir my medemens doen nie?

Laat ons hierdie Kersfees voor die Krip staan met 'n voorbereide hart, een wat reggepak en skoongemaak is. 

Wednesday, 26 November 2025

Mossiestilte: Kol. 3:3

Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.

Paulus sê ook ek leef nie meer nie, maar Christus in my.
Ons is saam met Christus begrawe in die doop. (Kol 2:12)
Ons vlees is begrawe en die Gees van God bly nou in ons, want ons is die tempel van die Here.
Maak dood dan julle lede wat op die aarde is ... vers 5

Dankie, Here, dat U met U dood, vir die wêreld lewe gebring het. Saam met Christus het ek gesterwe en die begeertes van die liggaam afgesterf. Ek het die liggaam van die sondige vlees afgelê in die besnydenis van Christus wat nie met hande verrig is nie. (Kol 2:11). Dankie, Here, vir die genade van vryheid in u Heilige Naam. Nou is my lewe saam met Christus verberg in God. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday, 25 November 2025

Mandjie Hoop: Tydelik vs Ewig

Skryf al jou drome en 
omstandighede in potlood ...
want dit is tydelik ...
Skryf die HERE se genade
en liefde in ink
Want dit is vir Ewig!

Afkondiging: Selgroep

Monday, 24 November 2025

Belydenisaflegging 2025 - die taal van blomme

Statistiek: Dankie vir 289 000 e-besoeke

Kantoorafsluitingsfunksie by Rooifontein


Foto's: Elsa Minne

Nuwe administratiewe aanstelling vir 2026


Dutoitspan het hulle kantoorafsluitingsfunksie Saterdag by Rooifontein gehou. 'n Ongenooide gas het homself tuisgemaak en die personeel so beïndruk met sy vriendelikheid, energieke en lewenslustige manier om homself in te werk by die funksie, dat hulle nie 'n ander keuse gehad het as om hom 'n pos aan te bied nie. Hulle hoop dat hy volgende jaar die Rooifontein-erediens sal bywoon en nie net die afsluitingsfunksies nie. Jy kan maar sê dat die man homself in 'n administratiewe pos ingeëekoring het. 

Foto's: Elsa Minne

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

Gebed: Psalm 72:11-14

Al die konings sal diep
voor hom buig,
al die nasies sal hom dien;
want hy sal behoeftiges
wat om hulp roep, uitred,
ook magteloses en mense
wat nie helpers het nie.
Hy sal deernis hê met hulpeloses
en behoeftiges;
die lewens van behoeftiges sal hy bevry.
Van onderdrukking en geweld
sal hy hulle lewe vrykoop.
Hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.

Sunday, 23 November 2025

Belydenisaflegging 2025 (Deel 1)

Aangesien julle die kerkraad oortuig het van julle genoegsame kennis van die Bybel en van die leer van die kerk en van julle persoonlike geloofsvertroue, het die kerkraad met blydskap toestemming verleen dat julle in die openbaar julle geloofsbelydenis mag aflê en so toegang kry tot die nagmaal. Daarom versoek ek julle om voor God en sy gemeente op die volgende vrae opreg te antwoord:
Ten eerste: Glo jy dat die leer soos in die Ou en Nuwe Testament en in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?
Ten tweede: Beloof jy om as lidmaat van die gemeente van Christus deur sy genade in die beiydenis van die leer tot die einde van jou lewe te volhard, en alle Ieringe wat daarvan afwyk, te verwerp?
Ten derde: Bely jy dat die Here Jesus Christus jou persoonlike Verlosser is en dat jy Hom liefhet? Beloof jy om Hom te dien, sy Naam getrou te bely voor die mense en om aktief aan die werksaamhede van die kerk deel te neem?
Ten slotte: Beloof jy dat jy jou onderwerp aan die kerklike opsig en tug? 
Foto's: Ds. Ensie Enslin

Belydenisaflegging 2025 (Deel 2)


Foto's: Elsa Minne

Verjaardagwense

Thuso, goeie wense vir jou spesiale dag. 
Mag dié verjaardag gelukkig en vol vreugde wees. 
Jy is die enigste een wat gister se geselligheid met nog 'n dag kan verleng! 
Geniet dit!

Kersvader besoek Sally Aucamp

2025 se Kerspartytjie was 'n onthou-hoogtepunt vir die inwoners van Sally Aucamp. Kersvader het 'n heerlike kuier in sy baie besige program ingeruim. Hy het daar opgedaag met 'n sak vol geskenke vir almal wat gedurende die jaar soet was. Dit was egter nie al presente wat hulle gekry het nie. Die inwoners het letterlik hul hande vol gehad met die verrassingspakkies. Die oggend is ingekleur met sang, baie lag, verrassings, vrolike geselsies en 'n tafel wat gekreun het onder al die eetgoed. Daar was besoekers en vrywilligers wat die oggend saam met die inwoners geniet het. Daar het 'n gees van welwillendheid en samehorigheid geheers.

Dankie aan elkeen wat Saterdag só spesiaal gemaak het. Dankie vir die vrywilligers wat dwarsdeur die jaar Sally Aucamp-besoekies en -kuiers op hul te doenlysie gehad het. Dankie matrone Elize Cilliers en haar personeel vir die ekstra myle wat julle gedurende hierdie jaar geloop het.


Foto's: Rina Groenewald