Wednesday 26 August 2015

Kookwater-effek

'n Baie talentvolle tiener, met heeltemal te veel hooi op sy vurk, sit eendag moedeloos by sy ma in die kombuis. Hy is sommer lus om handdoek in te gooi, want hy is so besig dat hy nie by alles uitkom nie. Hy is gedurig moeg en gevolglik is hy baie liggeraak, as sy maats 'n simpel ou grappie met hom maak.

Sonder om vir hom te preek, neem sy ma drie kastrolle en vul elk met water. in die eerste een plaas sy 'n paar wortels, in die tweede 'n paar eiers en in die derde gemaalde koffiebone. Toe sit sy dit op die stoof en laat dit kook.

Twintig minute later skakel sy die plate af. Sy haal die wortels uit in 'n bakkie, toe die eiers en laaste die heerlike geurige koffie en vra aan haar seun: "Wat sien jy?"

"Wortels, eiers en koffie," antwoord die seun. 

Die ma laat hom aan die wortels voel. Dit was saggekook. Sy dop die eier af en laat hom aan die kliphard gekookte eier voel. Daarna skink sy vir hom van die heerlike geurige koffie.

"Elk van die drie het dieselfde krisis deurstaan - KOKENDE WATER," verduidelik sy ma. "Maar elkeen het verskillend gereageer. Die wortel is hard en onverbiddelik in die water in, maar dit het sag en swak daaruit gekom. Die eier was broos en sag. Die dun dop het die vloeibare inhoud beskerm. Maar die kookwater het die binnekant verhard. Die gemaalde koffiebone het uniek gereageer. In plaas daarvan dat dit verander het, het dit die kookwater waarin dit was, verander!"

"Watter een is jy?" vra sy vir haar seun. "As krisis en pyn aan jou deur klop, hoe reageer jy? Is jy 'n wortel, 'n eier of 'n koffieboon?"

Baie kinders en grootmense swig onder die druk van krisisse en word kragteloos. Ander lyk oënskynlik maar nog net dieselfde van buite, maar binnekant is hulle kliphard. Sal dit nie wonderlik wees as ons almal soos die koffiebone kon reageer nie?

Mag jy 'n permanente koffiebone-effek in 'n kookwaterwêreld hê!!

(Internet bron onbekend. Oorgeneem en aangepas.)