Wednesday 30 December 2015

Kersfees verby, maar gedagtes bly voortleef

(Deur Madré van Tonder 30 Desember 2014 verkry van internet)

“ MY EN MY SUSSIES SE KERSFEES-ROKKIES IS IN MA SE KAS WEGGEBÊRE, WANT ONS WOU DIT NET PERMANENT AANPAS. AL DIE BLINK MET BAIE STRIKKIES WAS TE AANLOKLIK.”

Ons het vanoggend ons Kersboom weggepak. Die liggies in my kantoor en in die lapa afgehaal, opgerol en weer in die kas gebêre. Soveel verwagtinge en opwinding saam met al die versierings weggepak.

Die Kersvader wat Fishkin, die Rus, vir my man in Angola gegee het, rus ook nou in die kas. En ek het ’n knop in die keel.

Ons geslag het met ’n groot gewag van Kersfees-versierings opgegroei. Van begin Desember het Kerskaarte van familie wat ver is in die posbus opgedaag. ’n Toutjie is bokant die kaggel gespan en die kaartjies daar ingeryg sodat hulle liggies in die wind gewapper het. Van ons sitkamerplafon het papier-versierings gehang wat soos ’n konsertina kon oopvou.

In die tuin is die kaboutertjies met goue foeilie gedrapeer. Bo-op ons dak het Kersvader met ’n groot sak geskenke aan die skoorsteen vasgeklou. Die Opel se paneelbord en stuurwiel is met silwer lint oorgetrek. Dit is egter gestaak nadat Pa op ’n dag verblind is en amper onder ’n vragmotor ingery het.

Dan Die Boom! Pa was nie met ’n kunsboompie tevrede nie. Vroeg in Desember is ’n denneboompie by die kwekery gekoop en het die getooiery in alle erns begin. Teen Kersdag het Die Boom se takkies swaar aan goue balletjies, gemmerbrood-mannetjies en blink sjokolade-kelkies gedra.

Om Ma se Kerskoek is ’n geruite Skotse lint gespan. Aan ons voordeur het ’n groot Kersfees-lourierkrans gepryk. Ons deurklokkie het met Jingle Bells laat waai as gaste opdaag. Die draadstel onder die moerbeiboom was vol goue akkers, rooi linte en silwer balletjies.

Ons honde het weke voor Kersfees al met rooi strikkies om die nek rondgehardloop. My en my sussies se Kersfees-rokkies is in Ma se kas weggebêre, want ons wou dit net permanent aanpas. Al die blink met baie strikkies was te aanloklik.

Ons Kersversierings het tot ná Nuwejaar gebly hang . . .

In die tuin van my ouerhuis in Sasolburg staan vandag nog baie dennebome wat Pa ná Kersfees dáár oorgeplant het. Dit het agtergebly toe ons later moes oppak . . .

Eersdaags keer my man na Angola en my kind na Kaapstad terug. Kersfees is verby.

En die Kersvadertjie van Fishkin, die Rus, sal eers oor ’n paar jaar weer op sy toutjie in die Kersboom kan rondklouter.

Totdat ons weer een Kersfees kan saam wees.

En in ’n spanpoging die huis feestelik tooi.