Sunday 4 June 2023

Gebed: Vir kinders en jongmense ...

Ons Vader, wat in die hemel is en ook nou hier by ons is - ek kom bid vanoggend vir kinders en jongmense.
Here, ons word groot in ‘n wêreld vol uitdagings en verwarring.
Here, daar gebeur so baie slegte en wrede goed met ander mense en met ons - dikwels maak dit ons bang.
Here, dis in hierdie wêreld waar ons daagliks keuses moet maak tussen reg en verkeerd.
Daarom kom bid ons vanoggend vir die leiers wat oor ons aangestel is.
Here, ons bid vir ons ouers - dat hulle vir ons van U sal leer.
Ons bid vir ons kerkleiers - dat hulle vir ons altyd die waarheid sal vertel.
Ons bid vir ons onderwysers - dat hulle vir ons sal inspireer om altyd ons beste te kan gee.
Ons kom sê vanoggend ook dankie dat U so goed vir ons is.
Dankie vir ouers, familie en vriende.
Dankie dat daar mense is wat ons onvoorwaardelik liefhet en ons ondersteun.
Here, ons kom bid ook vir kinders wat in moeilike omstandighede grootword, waar geweld, drankmisbruik en hartseer deel van hulle daaglikse lewe is.
Dankie dat U ook oor hulle U hand hou.
Jesus Christus, U het gesê: “Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle verhinder nie.”
Dankie Here, dat ons altyd by U welkom is en dat U ons liefhet, net soos ons is.
Dankie dat ons ook deel van hierdie gemeente kan wees en dat ons hier welkom is.
Ons vra nou, Heilige Gees, dat U ons sal help om so te leef dat die wêreld sal kan sien dat ons U kinders is.
Amen