Sunday 17 December 2023

Grypers of gewers?


Maak ons ons kinders groot as grypers of gewers?

'n Gewer is iemand wat geleentheid soek om aan ander te gee en goed te doen. 'n Gryper is iemand wat op die uitkyk is vir geleenthede om vir homself iets in te palm. Soos watter een maak jy jou kind groot?

Vrygewigheid is nie iets wat suinige mense hul kinders kan leer nie. Kinders doen wat hulle hul ouers sien doen. Ouers wat graag gee vir mense in nood kan dit nie wegsteek nie. Dit is ook aansteeklik! Jou kinders sal ook 'n oop hart en hand - soos jy - vir ander hê.

Leer jou kind ook hierdie kerstyd dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Wat daarvan om saam met jou kinders iemand te identifiseer vir wie julle as gesin hierdie kerstyd kan gee?

Maak seker dat jou kind nie net 'n spaarbussie en 'n spandeerbussie het nie, maar ook 'n liefdesbussie. Hierin kom gelde vir ander in nood. Jou kind se twee vissies en vyf brode kan 'n verskil maak en fees bring in die lewe van ten minste een ander mens!

Geniet die feestyd deur vir ander te gee!
Ds. Leon van Heerden   

[Dankie, Anoniem wat hierdie kragtige boodskap gestuur het.]