Sunday 24 December 2023

Kommersiële Kersfees

deur Jannes Erasmus

ek was vanoggend in ‘n winkelsentrum,
dit was chaos,
mens raak benoud, 
nie omdat daar te veel mense is nie, 
maar eerder hoe benoud hulle jaag deur die winkels en rakke.
niemand lyk gelukkig nie.
hulle vloek en frons.
hulle koop persente met geld wat hulle nie het nie en tyd wat hulle nie kon maak nie

hierdie gejaag na materialistiese geluk wat net ‘n paar sekondes hou tot daai geskenkpapier oop is ... dit gaan lankal nie meer oor die idee daarvan om vir iemand iets te gee met die bietjie wat jy het nie:
dit is ‘n kompetisie
‘n tradisie 
‘n resies
groter
beter
mooier
meer

in daai oomblik gaan staan ek doodstil in die middel van hierdie wemelende winkelsentrum,
ek kyk rond en besef dit lyk soos ‘n miernes.
al die werkers besig om te hardloop,
die enigste verskil is dat miere só hardloop vir hulle koningin ...
hulle bou almal sáám aan hulle kolonie,
GEEN mier vir homself, 
en tog is ons mense, meer vir onsself

in hierdie oomblik voel dit of tyd stilstaan 
sodat daar ‘n dieper besef moes plaasvind, 
dat die gejaag nie die probleem is nie,
maar eerder die doelloosheid sonder die koning/koningin vír wie ons dit doen ...

het ons só dringendheid vir Jesus soos die trollie vol kos en koek en persente?
is ons só gejaag na Hom soos na die volgende winkel wat uitverkoop is,
bereid om 40km te ry na ‘n ander sentrum wat nog voorraad het?
weet ons kinders dat kersvader nie die hoofkarakter van hierdie dag is nie,
en onthou ons waaroor dit werklik gaan ...?

een ding wat die hele wêreld moontlik in gemeen het, is kersfees ... almal vier dit vir verskillende redes maar die kern en ontstaan daarvan is hulle nie regtig oor seker nie.

‘kersfees’ is ‘n woord wat nie in die Bybel voorkom nie, tog neem ons deel aan hierdie kommersiële koopreligie onder die vaandel van feestelikheid en viering ...

mag ons besef ons eintlike geskenk is heeltemal te groot om in enige boks,
onder enige boom te lê,
vrede en voorspoed 
mag julle geseën word in hierdie feesseisoen
en as gesin en familie in Sy teenwoordigheid in beweeg tydens die samesyn want God is liefde.

“En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.”
‭‭LUKAS‬ ‭2‬:‭10-12.

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie waarheid met ons deel. Seënwense.]