Tuesday 16 January 2024

Kom kuier saam met die Veterane Bystandfonds: 18 Januarie 2024


Landswye uitreik na veterane in nood

Die Veterane Bystandfonds (VBF) is tans besig met 'n landswye uitreik, met besoeke aan alle provinsies in Suid-Afrika, en bied gratis etes, musiek deur Philip Moolman en geskenkpakkies uitsluitlik aan Nasionale Diensplig Veterane in nood. Veterane wat kan bewys lewer dat hulle SASSA-pensioenarisse is, ontvang ook `n gratis inkopie-geskenkbewys, ter waarde van R500! Kimberley is volgende aan die beurt, op Donderdag 18 Januarie 2024.

Die VBF is 'n onafhanklike nie-winsgewende maatskappy. Hulle is nie 'n militêre organisasie, klub of vereniging nie, het geen lede nie, hef geen lidmaatskapfooie en bied geen lidmaatskapvoordele aan nie. Hulle is nie geaffilieer aan enige militêre organisasie of die regering nie en is totaal afhanklik van publieke donateurs wat (eenmalig of maandeliks) bydra, om noodverligting uitsluitlik aan Nasionale Diensplig Veterane te kan bied: voedsel, klere, huisvesting en mediese sorg.

'n Landswye uitreik het op 26 Junie 2023 begin, waartydens die VBF veterane uitnooi om funksies gratis by te woon in verskeie dorpe en stede regoor Suid Afrika. Veterane word vermaak met middagetes, musiek, inspirerende sprekers, pryse, geskenke, sowel as 'n broodnodige inkopie-geskenkbewys om hul onvoldoende pensioenfondse aan te vul. Die uitreik verwelkom alle Nasionale Diensplig Veterane, maar veral dié wat finansieel uitgedaag is en van SASSA-pensioen afhanklik is.

Veterane word via sosiale media en gemeenskapsradiostasies genooi om hierdie verskeie funksies by te woon. Om hul gratis bywoning te bespreek, hoef hulle slegs die naam van die dorp (waar hulle graag die funksie wil bywoon) na 31429 te sms. Die funksies word goed bygewoon en is waardevol op verskeie maniere: afgesien van die aanbieding van broodnodige fisiese en finansiële hulp, kan die waarde van kameraadskap wat by hierdie funksies ervaar word, nie gemeet word nie. Baie veterane oorleef in tragiese isolasie: hul eggenote het hulle verlaat, of hul kinders het geëmmigreer. Sommige veterane ervaar nie slegs isolasie van familie en vriende nie, maar voel ook afgesny van hul mede-veterane.

Hierdie uitreike gee veterane 'n kans om weer kontak te maak met mense wat 'n soortgelyke geskiedenis as hulself deel, en moedig hulle aan met 'n hernude besef dat hulle nie alleen is nie. Vrymoedige veterane word uitgenooi om die mikrofoon te neem en hul weermagstories en -staaltjies te deel. 'n Video-aanbieding uit die Nasionale Diensplig-era (met al die bekende liedjies van daardie tyd) voer hulle terug na al die gedeelde herinneringe wat hulle steeds vandag saambind, en herinner hulle ook aan hul eie unieke Nasionale Diensplig-stories wat hulle met hul nuwe vriende om die tafel kan deel.

Alhoewel die Veterane Bystandfonds voortdurend posdienste gebruik om voorsiening en hulp aan veterane in nood te verskaf, bied hierdie unieke metode om fisies met veterane landwyd in kontak te kom, waardevolle voordele: afgesien van die kameraadskap, fisiese aanraking en emosionele ondersteuning wat veterane by sulke geleenthede kan ervaar, kan verteenwoordigers van VBF met elke deelnemer individueel in wisselwerking tree en kommunikasie vestig om toekomstige hulp met betrekking tot hul unieke probleme en behoeftes te kan bespreek.

Die Veterane Bystandfonds nooi alle Nasionale Diensplig Veterane in Kimberley uit om hierdie gratis funksie in Kimberley by te woon, op Donderdag 18 Januarie. SMS eenvoudig die woord “Kimberley” na 31429 en 'n dame sal u skakel om u bespreking te bevestig, aanwysings te verskaf en al u vrae te beantwoord.

Hier volg 'n kort opsomming van VBF se aktiwiteite oor die afgelope drie jaar:

Die V.B.F. is in Oktober 2019 gestig. Danksy publieke skenkings was hulle binne die eerste 10 maande van hul bestaan in staat om op 'n maandelikse basis by te dra tot die verblyf en maaltye van 69 veterane in nood.

Gedurende 2020 (veral gedurende die inperking) het hulle kruideniersware aan 126 veterane voorsien, mediese sorg aan 7, klere aan 19, sowel as 24 909 maaltye. Danksy groeiende maandelikse skenkers was hulle binnekort in staat om 61 320 maaltye (gedurende 2021) te kon voorsien, byna 3 keer meer as die vorige jaar. Die totale bedrag vir noodverligting aan veterane in nood regoor die land (voedsel, klere, huisvesting en mediese sorg) het teen Februarie 2022 meer as R1,3 miljoen beloop - die einde van hul finansiële jaar vir 2021. Die syfers vir 2023 (wat in Feb. 2024 bekend sal wees) beloof om die noodverligting-syfers van vorige jare te oorskry.

Die Veterane Bystandfonds bied hul opregte dank aan elke donateur wat die maatskappy in staat stel om `n groot verskil in vele veterane se lewens landwyd te kan maak.

Vir meer inligting, besoek gerus: www.veteranebystandfonds.co.za / 0647052262 (kantoor) / 31429 (SMS)

Bron: Philip Moolman