Thursday 12 October 2023

Ons Huis en Sally Aucamp

'n Besoek aan Ons Huis en Sally Aucamp is altyd 'n hoogtepunt vir die inwoners. Albei hierdie huise val binne die grense van ons gemeente. Dis so belangrik dat hulle nie vergete eilande van eensaamheid word nie. 

Die lewe is gejaagd en daar is min tyd selfs vir jou huismense en mense naby aan jou. Maar in plaas daarvan dat jy vinnig tee by jou vriendin gaan drink, kan julle altwee by Ons Huis gaan tee drink en 'n inwoner of twee se dag ophelder. So baie van die inwoners se kinders kerf 'n lewe in ander lande uit en 'n verrassingsbesoekie kan dalk net die nodige emosionele hupstoot gee.

As jy iemand is wat hou van bak, kan 'n melktert, koek of kolwyntjies net die ding wees om saam te vat na Sally Aucamp toe. Daar is niks lekkerder as 'n soet bederfie saam met 'n koppie tee nie. 

Maak 'n plan, knyp 'n tydjie af en besoek gerus die inwoners. Ons Huis het 'n blog wat jy kan besoek om jouself op hoogte te bring. Onthou: ons huis skuif elke dag 'n bietjie nader aan Ons Huis - die huis vir afgetredenes en bejaardes.

Sally Aucamp se gebeure word op Dutoitspan se blog geplaas. Tik Sally Aucamp by die soekblokkie in en lees gerus van al hulle aktiwiteite. Vir enige navrae kan Rina Groenewald gekontak word by 082 447 3332.