Sunday 13 November 2022

Vanaand hierdie stukkie geleen:

Min se stories lê regdeur die Bybel, want lank voor ons nog hier was, het mense al geleer van min.

Die Here praat met my en sê dat iets wat aanhou klop aan my voordeur moet ingenooi word.

Ek was nie lus om met min te praat nie, maar hoe langer ek vat, hoe harder klop hy.

Min is 'n klein woordjie, maar hy het waaragtig seker die mooiste stories om te deel.

Die weduwee het te min gehad om haar skuld te betaal. God het vir haar gesê om leë bottels by al die bure te gaan leen. Sy het min verstaan en was seker só skaam. Wat agter haar huis se toe deure met al die leë bottels gebeur het was tussen haar en God.

Toe sy luister, eers toe raak haar min baie.

Onthou jy die storie van die vyf brode en die twee vissies? Jesus het voor vyfduisend mense gestaan. Ek sou bloed gesweet het van senuwees. Jesus het geglo en toe hy glo toe raak sy min daai dag hopeloos te veel.

Ek lees ook sommer raak oor Jesus wat te min tyd gehad het om by Laserus uit te kom.

En ek lees toe sommer weer die storie waar die wyn hopeloos te min op die troue was.

Oor en oor moes ek leer dat sonder luister glo en hoop, jou min net altyd te min gaan wees.

Wat ek wel weet, is dat 'n gehoorsame kind met twee vissies in sy ‘glo-hande’ genoeg gaan hê ...

Dis wanneer jou min genoeg raak, dat oorvloed in jou handpalm pas.

GEBED

Here van genade en oorvloed, ons eer U, in tye van min en in tye van oorvloed.
Vader, ons bid vir ‘glo-hande’ sodat ons sal genoeg hê om altyd te kan deel. Maak ons oë oop om u hand van oorvloed te kan raaksien. Amen