Wednesday 31 July 2024

Versekeringsportefeulje

Hier op aarde is ons baie besorg oor ons VERSEKERINGSPORTEFEULJE, want dit is belangrik dat ons voldoende voorsorg moet tref vir ons aftrede en die versorging van ons familie as ons tot sterwe mag kom.

Hoe lyk ons VERSEKERINGSPORTEFEULJE vir die EWIGHEID??

"Want ons het NIKS in die wêreld gebring nie; dit is duidelik dat ons ook NIKS daaruit kan wegdra nie!!
1 Tim. 6:7

Mossiestilte: Job. 42:10-15

Vers 10: En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen. 

Hoe sal ek weet? Vra 'n vriend meer in 'n stelling. 

Het Job geweet wat gaan in die hemele aan waar Satan met die Almagtige God oor hom redeneer? Het hy geweet hy gaan alles verloor? Het hy geweet dat God met hom sou praat? Het hy geweet dat God hom meer sou seën aan die einde as sy begin?

Jy hoef niks te weet behalwe dat God steeds lief is vir jou; so lief dat Hy sy Eniggebore Seun vir jou sondes tot die dood laat boet het. Abraham het geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. Wat geglo? Het hy God gesien en toe geglo? 

Ons glo in God Almagtig, omdat ons van Hom uit die skrifte en geskiedenis geleer het. Tog kom daar dae dat God se onverklaarbare krag by en in ons manifesteer en ons glo omdat ons net weet. Vandag het almal die Heilige Gees wat ons leer en herinner aan Jesus se woorde en dade en ons vertroos. Selfs 'n kind weet wat reg en verkeerd is. Bid vir jou naaste in geloof, nie omdat jy iets van God verwag nie, maar net omdat jy glo en die deernis van Christus in jou is en manifesteer. 

Here, dankie dat U alreeds weet hoe my toekoms gaan uitwerk. Dankie vir u genade en barmhartigheid elke dag. Maak nie saak wat my omstandighede is nie, ek glo in die bloedverbond van Jesus met my. Daarom bid ek ook vir ander dat u redding en genesing, hulle ook sal aanraak in Jesus Naam. Dankie Vader, in Jesus Naam. Amen.

Gedagtes uit die plakkerskamp ...

Ek stap vanoggend weg van die plek waar dit dié slag Sarie se beurt was om haar kindjie te begrawe, sommer hier in die kamp, op 10 Julie 2010. Sal iemand ooit weet of onthou klein Jana was ook vir ‘n rukkie, ‘n volle 16 maande, hier op aarde, of beteken dit as jy arm is en jy gaan sommer dood van koue, dat dit nie saak maak nie en dat die lewe maar net moet aangaan sonder jou, sonder om jou te mis of om ‘n gat te los? In Sarie se hart het haar kind se dood ‘n gat gelos - vir ewig. 

Die winter het ons gevang hierdie jaar. Ag, Here, hoekom is ek hier? Hoekom is my lewe en my kinders en my hele bestaan opgesom in ‘n vuil, gemufde tent vol uitgooigoed en vrot goed? Ek leef en oorleef met ander mense se weggooigoed op hierdie godverlate vlaktes waar nie eers ‘n boom of gras se wortels wil vat nie. Niks wil hier wees nie, niemand moet hier wees nie ...

Die kamp en sy mense en die moedeloosheid is besig om my siel lagie vir lagie af te skil tot daar niks van my gaan oorbly nie. Dit maak my dood, maar op ander maniere as wat honger of siekwees jou dood maak. Dit maak die rede dood en die rede vir opstaan en die rede vir weer probeer. Dit maak dit net dood.

Daar was vandag niks om te eet nie. My maag het al so gekrimp dat ek net een keer ‘n dag hoef te eet. Ja, om te dink daar was ‘n tyd wat ek maer wou wees. Ek wonder of dit my maag of my hart is wat pyn, want sien, Here, ék kan nog honger gaan lê, maar ek kan nie my kinders so sien nie! Dis ‘n pyn wat jou lyf nie kan vat nie! Ek het vanaand net water op die gel-stofie gekook tot Magrietjie en boetie, Jan, op die ou end aan die slaap geraak het. Hulle het bly wag en mamma vertrou en nie eers gevra of getwyfel nie. Ek kon nie sê hier’s niks om te eet nie.

Die kerk se mense het oor die naweek die afvalkos gebring wat Checkers uitgooi, maar wat jy nog kan eet - en jy sal dit eet, selfs al stink dit soos iets wat die varke moet eet. Jy grawe die beste uit vir jou kinders en jy eet dit. Dit het gehou tot gister, maar vandag was daar niks.

Ek probeer, Here, regtig, ek probeer. Ek versamel “scrap metal” en ek pas die mense se karre op by die Spar en soms kry ek ‘n “tip” of ‘n brood, maar ek vra nie ander mense om agter my te kyk nie, regtig! Ek sál nie vra nie! Ek kán nie, Here, ek voel ek mág nie! Ek sal eerder iets by iemand vat en u my laat straf - al is armwees genoeg van ‘n straf. Ek sal eerder nóg straf vat, maar ek kán nie ‘n ander mens vir
iets vra nie. 

Asseblief, Here, moet my nooit so arm maak, dat ek moet vra nie. Ek vra net vir u, Here, want u weet. U móét weet, want u het dan alles gemaak.

Of het ék hierdie omstandighede gemaak? Is dit my skuld dat ek hier is? Is dit iets wat ek gedoen het en nou verdien ek om arm te wees? Miskien nog ek, Here, maar nie my kinders nie! Hulle het mos nie gevra om hier te wees nie. Hulle het mos nie gekies nie ...

Hoe maak u kinders en laat hulle doodgaan van koue ... doodgaan omdat hulle nie medisyne kan kry wat die siekte stop nie? Hoe laat u kinders vanaand honger gaan slaap omdat hulle ma net water het om te kook?

Hoekom laat u toe dat wrede, ryk kinders hulle spot uitspoeg na dit wat ons huis noem? Hulle weet nie wat hulle doen nie! Hulle weet nie hoe hulle woorde, wrokke en wrakke van ons harte maak nie. Vergewe hulle, Here, want hoe móét hulle weet? En hoe kán jy, as jy alles het, jou in mense se nood indink of inleef of invoel?

Maak my kinders sterk, Here, want hulle maak my sterk. Ek wil ook opstaan as ek sien hoe hulle elke dag sonder kla of moeg raak of inkrimp op hulle voete bly en selfs trots bly. Ja, hulle lag nog, hulle hoop nog. Ek wil selfs sê hulle vertrou nog op my as ma wat maar sal sorg en sal voorsien soos wat u vir my gee om te kan voorsien.

Hulle leef met ‘n verwagting. Hoe kan ek dan opgee? Ek kan mos nie. Nee, solank as wat u my genadig is en ek vandag oorleef, sal ek maar weer opstaan môre en sal ek veg vir die môre daarna vir my kinders. Ek sal more weer my kinders vertel daar kom iets goed hierna, al kan ons dit nog nie sien nie en al kan ons dit nie eers dink nie, want op ‘n manier glo hulle dit. Al leef ons hier eenkant waar die lewe ons weggegooi het. Al reën dit weer en muf dit verder en al koop niemand meer my “scrap metal” of “tip” my vir die karre wat ek oppas nie. Ek kies lewe! Ek kies dit, want dis in my bloed en dit loop deur my are en deur die eeue. En dit loop deur ons geskiedenis en deur elke uithoek van hierdie land. Dit loop deur my en dit loop ook deur Oom Bertus wat die kos bring, Sarie wat treur, Liena wat te veel drink, Pieta wat ‘n brandweerman wil word en selfs Magda wat wag om dood te gaan.

Lewe. En hoop. En geloof. Wees ons genadig, Heer, terwyl ons bewerig en bang die lewe kies.

[Skrywer onbekend - dankie vir die aanstuur]

Bankbesonderhede


Tuesday 30 July 2024

Ons waardeer ons 162 000 e-besoekers

CAUTION - FEAR FACTOR!!!


When: 21 September 2024
Where: NG Dutoitspan Church, 4 Rose Street, Beaconsfield, Kimberley 
Contact: 078 564 6623
SAVE THIS DATE!!! 

Een storie - twee perspektiewe

Vanoggend ontvang ek die storie van hoe 'n mens se gesindheid jou oordeel kan beïnvloed en ook jou houding teenoor storms en probleme in die lewe.

Dankie aan 'n ene Hannes wat die verhaal ingestuur het - dit het op 17 Februarie 2022 op hierdie blog verskyn, maar ons plaas dit weer vir diegene wat nie bekend is met die verhaal nie.

TEKS: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.” Spr 23: 7.

‘n Bekende skrywer het by sy lessenaar gaan sit, sy pen opgetel en begin skrywe:

“Verlede jaar ... Ek het ‘n galblaasoperasie gehad om galstene te verwyder. Ek was lank in die bed ...
Dieselfde jaar het ek aftree-ouderdom bereik en ek moes die maatskappy waarvoor ek so lief was, en 35 jaar lank voor gewerk het, verlaat ...
Daardie selfde jaar is my moeder deur die dood van my af weggeskeur ...
En toe ... steeds dieselfde jaar, druip my seun sy finale mediese eksamen as gevolg van ‘n motor-ongeluk. Die herstelkkoste aan die motor was net die hoogtepunt van ‘n baie slegte jaar ...”
En toe aan die einde van sy klaagtoon, skryf hy: “Wat ‘n slegte jaar!”

Sy vrou stap die studeerkamer binne waar haar man bedroef en teneergedruk sit. Oor sy skouer lees sy stadig haar man se skrywe. Dan draai sy saggies om en verlaat die kamer. Vyftien minute later kom sy terug en plaas ‘n stukkie papier voor haar man neer met die volgende daarop geskrywe:

“Verlede jaar ... het my man uiteindelik dit reggekry om van sy galstene, wat hom vir jare soveel maagpyn veroorsaak het, ontslae te raak ...
Dieselfde jaar ... Ek is dankbaar dat my man in goeie gesondheid en gelukkig kon aftree. 
Ek dank die Here dat die Here hom die geleentheid gebied het om vir 35 jaar te kon werk en verdien om sy gesin te onderhou. Nou kan my man meer tyd aan sy skryfwerk, wat altyd sy stokperdjie was, spandeer.
In dieselfde jaar het my 95-jarige ou skoonmoeder sonder pyn stil heengegaan.
En steeds dieselfde jaar ... God het my seun gespaar na ‘n ernstige motorongeluk ... Ons kar was sleg deur die ongeluk beskadig, maar my seun het sonder enige nagevolge oorleef.”
In haar laaste sin skryf sy: “ Verlede jaar ... was ‘n jaar vol buitegewone seëninge van God ... en ons het dit vol verwondering en dankbaarheid beleef...”

Uit watter perspektief sien jy die lewe? Uit selfbejammering of uit dankbaarheid?

Abraham Lincoln het gesê: “ Ons kan kla omdat roosbosse dorings het, of ons verheug dat doringbosse rose het.”

‘n Gospel-liedjie lui: “Count your blessings, name them one by one ... and it will surprise you what the Lord has done.”

Dankbaarheid is ‘n ingesteldheid, ‘n lewenstyl. Sien die klein dingetjies raak en moenie dit as vanselfsprekend aanneem nie.

Amore Bekker, die bekende radio-omroepster skryf:
“Klein, alledaagse vreugdetjies soos die son op jou gesig, die wind deur jou hare, ’n teksvers wat direk met jou praat, ’n vinkie se borrelliedjie in die tuin, jou man se goeiemôre-soen, jou kleinkinders se arms om jou nek, die reuk van jasmyn, ’n louwarm brood, die eerste koppie koffie soggens ... Ek sal sommer op die oomblik my hele boek kan vol skryf!

Selfs wanneer dit vir jou voel asof jy nie ’n enkele rede kan opnoem waarom jy vandag dankbaar behoort te wees nie, kan jy dankbaar wees vir Jesus. Dit is immers die boodskap van God se liefde vir jou wat Hy op aarde kom aflewer het, wat inhoud gee aan ons dankies. Ons het so baie - en elkeen van daardie dinge wat ons het, het ons van God ontvang. Kom ons onthou elke oomblik om vir Hom dankie te sê, want dankbare mense vind dit baie moeilik om moedeloos te bly.”

Kom bid saam: Hemelse Vader, help ons om ons oë van onsself af weg te draai en in dankbaarheid te kyk na al die mooi en goeie dinge waarmee U ons elke dag seën. Amen.    

Monday 29 July 2024

Min woorde stuur ek aan jou ...

Ek lees vandag iets raak van @Susan Coetzer wat ek nie anders kan as om te deel nie, omdat ons in ons huwelike en verhoudings mekaar kan afbreek of opbou met ons woorde. Dít wat sy skryf is lewensveranderend as jy dit kan bemeester!!!!

Sy skryf: "Ek het besluit om 'n bietjie te vas. NEE nie van kos nie - veels te honger en dan nie genoeg energie vir draf of optredes nie. Ek vas van WOORDE. Ek hou hulle in my gedagtes en bekyk hulle - het hulle NUT of is dit sommer net geluide - soos die geblaf van honde en karre wat jaag.

Ons praat so maklik en so baie ... NONSENS. Tot 'n mens besef HOEVEEL krag daar in die gesproke woorde is. Die Hele Skepping is met WOORDE geskep.

God het gesê: Laat daar LIG wees, met WOORDE. En toe was daar was LIG.

Wat sê jy met JOU WOORDE? 

Oor die land: Die land is in sy maai. Die land is korrup. Bankrot. 'n Nare plek om in te woon met nare mense.

Oor mense: Jou vark? Jy is treurig. Jou dom onnosele &*%#. Jy maak my siek!

En oor jouself: Ek kan nie. Ek is moeg. Ek is siek. Ek is sat. Ek is af. Ek is depressief. Ek glo nie meer nie. Ek is vet. Ek is lelik. Ek is sonder talent. Ek is bang ... Ek is kragteloos. Hopeloos.

OPPAS wat jy sê. As die meeste woorde wat by jou mond uitkom, negatief en onopbouend is, het dit 'n negatiewe effek. Op jou en almal wat jou aanhoor.

Is dit tyd dat jy VAS saam met my.

Geen mens kan die tong self tem nie - jy moet saam met die Here klas loop om te leer SNOEI aan die onkruide in jou woordeskat - om meer en meer woorde van LEWE te spreek in plaas van dood. Oor die land, oor die mense wat jou irriteer, oor jouself - as jy papgeslaan voel.

LIG jouself en ander met jou woorde.

Woorde is nie net lettertjies nie. Dis gelaai met KRAG. Krag om op te bou en krag om te vernietig.

Daarom is 'n goeie vas baie gesond. Vas so 'n bietjie van onnodige woorde: Vra die Here om jou te wys waar jy woorde tot jouself en ander se leed inspan. 

Skinder jy maklik? Is jy lief om slegte nuus aan te dra. Onmin tussen mense te saai? Kla jy gereeld - sommer as 'n gewoonte. Vloek jy of seën jy?

Kom ons vas so 'n bietjie vanaand - deurdink ons baie woorde in God se Stilte. Rol hulle in jou kieste rond. Proe hulle in jou gedagtes. VOEL die uitwerking van die woorde wat jy wil sê - spreek dit van LIG of van donker.

Bekyk jou gedagtes. Dis die enjin wat jou woorde aanvuur. Die Woord sê duidelik, dit wat in jou gedagtes (jou hart) omgaan bepaal jou hele toekoms. En ander s'n ...

Sit vandag so 'n oomblik daai handrem op al die nonsens praat. Al die twak. Al die leuens. Die woede. Die geskinder. Die suur woorde. Die snydende woorde. Die wrede woorde. Die woorde wat jou (en ander) afbreek en beperk.

Kom ons krul die tonge terug soos biltong en sit 'n slot om die punt.

Druk die oer krokodilbrein TERUG in sy kas. DINK en besin voor ons praat. Vra jouself: Is dit opbouend om die woorde te gebruik? Is dit goed. Is dit nodig? Want woorde is almal vuurhoutjies - dit kan groot vure aansteek. 'n Vuur van lewe of  'n vuur van dood. En dis moeilik om daai vure dood te slaan. Veral die vuur wat skroei. Nie eers die brandweer se hose pipe is lank genoeg nie.

LIEFDE en min woorde stuur ek aan jou.

[Bron: Loka - dankie Rosetta vir die aanstuur.]

Maandag-gedagtesaad

Sunday 28 July 2024

Afkondigings: Algemeen

Afkondiging: Bid saam met ons vir ...

1. Ons Huis - die tehuis vir bejaardes - vir die inwoners, vir hulle in die siekeboeg en die personeel.
2. Sally Aucamp - die tehuis vir volwasse gestremdes -  inwoners, siekes, en personeel.
3. alle gemeentelede wat siek is, swaarkry en tans sonder werk is.
4. alle huwelike en gesinne!
5. ons land, regering en vir elke landsburger. (1 Tim 2:1-7)
6. vrede, verdraagsaamheid en wedersydse respek.
7. ons gemeente dat ons God 1ste sal stel!
8. elke gelowige dat hulle die vrug van die Gees sal uitstraal. 
9. ons gemeenskap dat ons Jesus se liefde teenoor mekaar sal leef. 
Die krag van gebed kan nooit onderskat word nie! Elkeen van ons het 'n verantwoordelikheid om vir mekaar te bid.

Dagboek: 28 Julie 2024

Mossiestilte: Matt. 14:36

en hulle het Hom gesmeek dat hulle net maar die soom van sy kleed mag aanraak; en almal wat dit aangeraak het, het gesond geword.

Almal wat ongesteld was, is na Hom gebring in die omgewing van Gennésaret.
Het jy dalk vanoggend 'n siekte of kwaal of probleem? Kom na die Geneesheer; al raak jy net die soom van sy kleed aan, sal jy genees word. Het jy die geloof? Jou geloof sal jou red, want hoekom raak jy Hom aan; omdat jy glo Hy kan jou genees, red, of jou oplossing vir jou probleem wees.

Here, ek erken dat U die Geneesheer is en elkeen wil genees. Soms is ek ook 'n kleingelowige soos Petrus, maar ek weet u barmhartigheid tel my op en U raak my aan met u goedheid. Ek wil net u soom van u kleed aanraak, want ek glo U is my oplossing vir my probleme deur U groot genade. Aan U al die aanbidding en dank vir U Almag in my lewe. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Julie

Saturday 27 July 2024

Kerkgenotjies: Ouma se Broccoli

Die 4-jarige Johan het by sy ouma op die platteland gaan kuier. Ouma besluit dis nou die tyd om die swak eetgewoontes van die stad reg te stel en om Johan ‘n bietjie meer te leer van groentes. Spesifiek die groentes wat sy ma nooit voorberei nie. Johan leer sommer ook dat die gesondste groente die groente is wat sy ouma self plant.

Die spesifieke dag is BROCCOLI aan die beurt en ouma versin die oulikste stories oor die boompie wat hy gaan proe.

Hy kan nie wag nie en begin ewe entoesiasties aan die eerste een proe, maar ouma sien hy kou al stadiger met ‘n veraf uitdrukking in sy oë. Ouma het net gou in die spens verdwyn en hoor hom roep: “Ouma, kom kyk gou hier!”

Hy wys toe na sy bord waarop hy die boompie in ‘n hoop rys staangemaak het, mooi vasgedruk in die middel van die rys. “Kyk, Ouma, hierdie is die paradys en daardie is die boom waarvan God gesê het ons mag nie eet nie!”

Jagter se gebooie

Dit het toe sò gebeur dat die jagter se tien gebooie op ‘n gelooide leervel geëts is:

Een: Daar is net een reël in die veld: een patroon, een dier. Jagters mors nie patrone nie, speel nie rond nie en besef dat die beste manier om in jou biltongbehoeftes te voorsien, is om self die skoot te trek. Geen droëwors is lekkerder as die waarvoor jy self gesorg het nie.

Twee: Jy mag voor geen afgod buig nie. Drank en gewere meng nie. As die karkas hang en die gewere is in die kluis, dàn mag verversings geniet word.

Drie: Jy mag nie die naam van jag ydellik gebruik nie. As jy niks weet van jag nie, as jy nog nooit self ‘n skoot afgetrek het nie, as jy nog nooit deel was van die wonderwêreld nie ... moenie kritiseer nie. Jag is nie net ‘n sport nie. Dit is nie net vir plesier en die trofeë nie. Jag is vir bewaring, syferbeheer, respek en voedsel.

Vier: Rus op die sewende dag. Jagters is nie skietmal Rambo’s wat alles dood wat beweeg nie. Daar is ‘n seisoen vir jag en ‘n seisoen van versamel. Jagters waardeer ook die rustigheid van die bosveld, kan vir ure sit ek kyk hoe koedoes sout lek en varke in die modder rol. Dit gaan oor soveel meer as net die skoot.

Vyf: Eer die Vader en die Moeder. ‘n Ou bul word verlos uit eensaamheid omdat hy uit die trop geskop is, terwyl die jong koei met haar kalf oorgesien word. Geen dier word “sommer net” platgetrek nie. Oordeel en keuse en logika word voor elke teiken ingespan.

Ses: Moenie moor nie. Stropers is nie jagters nie. Stropers moor vir ‘n sinnelose bestaan en om in Chinese se impotente leuens te voorsien. Jagters benut die natuur om kos te voorsien, te spog met die majestieuse diereryk en ook te help met die bewaring van sekere spesies.

Sewe: Moenie egbreek pleeg nie. Moenie ‘n leeu met ‘n knipmes probeer jag nie. Ook nie ‘n olifant met ‘n .22 nie. Laat jou wapenkeuse geskik wees vir jou doelwit, sodat die troue sonder enige egskeiding of struweling sal kan geskied.

Agt: Moenie steel nie. Nie by die buurplaas nie. Nie by jou mede-jagter nie. Jagters steel nie diere, gewere, patrone of selfs ‘n bier nie. Jagters vra. Jagters deel. Want jagters respekteer die grense.

Nege: Moenie vals getuienis lewer nie. Anders as sommige hengelaars, bly die bok se horings gewoonlik dieselfde grootte. Die afstand mag dalk met ‘n persepsiële meter of twee verander, maar jagters vertel met trane in hul oë hoe hulle een keer ‘n koedoebul gekwes het. Waarheid is waardevol. Die draai van elke horing word ‘n wetenskap, dikwels ‘n weddenskap, maar altyd ‘n kwessie van kameraderie.

Tien: Moenie begeer nie. Nie jou mede-jagter se vrou, geweer of perfekte skoot nie. Jy jag vir jouself. Jou eie vlekkelose rekord. Nie vir die ander se bewondering nie. Al wat bly is die deurlopende waardering vir die kuns van die knal.

[Met apologie geleen van HIERDIE interessante blog - besoek gerus die blog en verkneukel jou aan al die skryfsels.]

The 10 commandments for hunters - click HERE!

Lees sommer ook Cassie Nienaber se herlaaier se tien gebooie HIER wat eksklusief vir dié web geskryf is.

Slaairesep: Herfskleurige tropiese vrugteslaai

Bestanddele:
1 patat
1 papaja
2 piesangs
Sap van 1 suurlemoen
5 mℓ fyngemaalde kaneel

Metode:
1. Kook patat gaar en sny in blokkies.
2. Sny papaja in blokkies.
3. Sny piesangs in blokkies
4. Meng al die bestanddele saam en bedien.

Friday 26 July 2024

Terugblik: 'n Jagdag in die veld - 2019

'n Wildsplaas op die Boshof-pad
Fanie en Jannie
Malan
Ds. Ensie
Neil en Malan
Fanie en ds. Ensie

Thursday 25 July 2024

Omdat genade ons OORMAAK

Genade is 'n reusewoord. Amper te groot om te verstaan.

Genade is iets wat eenvoudig gegee word. Genade neem die onbruikbare stukkies van ons laslappielewe en werk dit, nog voor ons vra, aanmekaar in pragtige heelwees-prentjies. 

Genade neem die hart wat deur die modder gesleep is, hemelse wassery toe en hang dit weer - silwerskoon en netjies gestryk - op die hanger van die lewe. 

Genade maak moedeloses weer mense van HOOP, verander bitterheid in VERGIFNIS en herskep verlorenes in EWIGHEIDSKINDERS.

Deur genade word 'n troostelose toekoms omskep in 'n lewe wat uitsien na môre.

Goddelike genade stel nie voorwaardes nie.

(Aangestuur deur Rosetta Venter) 

Jesaja 40 se trooswoorde:

Die gras verdor, die blom verwelk,
maar die WOORD van onse GOD hou stand in ewigeid!
Weet jy dit nie?
Of het jy dit nie gehoor nie?
'n EWIGE GOD is die HERE!
SKEPPER van die eindes van die aarde;
HY word nie moeg of mat nie;
daar is geen deurgronding van SY verstand nie.
HY gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte
vir die wat geen kragte het nie.
Die jonges word moeg en mat 
en die jongemanne struikel selfs;
maar die wat op die HERE WAG,
kry nuwe krag; 
hulle vaar op met vleuels soos die arende;
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle wandel en word nie mat -
dis van Jesaja 40 se trooswoorde,
en die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word.

[Dankie, Rosetta]

Conference: Closer to God


Klik op individuele blokke vir duideliker leesbaarheid.

Wednesday 24 July 2024

In die aand ...

As vrees ons keel toedruk ...
Vrees oor ons kinders,
ons dierbares,
onsself,
oor die dag van môre ...
Laat ons dan in die stilte van ons eie hart
onsself opnuut van ons God vertel,
en omdraai, en tot rus kom,
want Hy sal nie slaap nie.

[Dankie, Nerine, vir die aanstuur hiervan.]

Mossiestilte: Daniël 12:10

Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandige sal verstaan.

1 Kor. 2:14 - Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. + 16b Maar ons het die sin van Christus. Daniël het dus lankal geprofeteer oor hierdie woord. Neem die woord van God ernstig op en maak seker jy is verstandig in Christus. (sien 1 Kor. 4:10) God sal jou toerus vandag om verstandig te wees deur die Heilige Gees in jou.

Dankie Here, dat ek kan sien dat ek U nodig het. Sonder u Heilige Gees is ek onverstandig, want niemand weet wat in God is nie, behalwe die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. (1 Kor. 2:10). Maar met die Gees beoordeel ek wel alle dinge, maar word self deur niemand beoordeel nie (1 Kor. 2:15). Ek is duur gekoop en sal God deur my liggaam verheerlik en in my gees wat aan God behoort (1Kor. 6:20). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Tuesday 23 July 2024

Wat maak gebed so anders?

Jy hoef nooit 'n afspraak te maak nie, die lyn is nooit beset nie.
Daar is nooit te veel ander besoekers nie.
Die Hoorder is nooit te besig nie.
Hy is nooit uithuisig nie.
Hy stuur nooit vir jou weg nie.
Hy val jou nooit in die rede nie.
Hy luister nooit met 'n halwe oor nie.
Hy vergeet nooit 'n versoek nie.
Hy is nooit raadop nie.
Hy word nooit moeg nie.
Hy is nooit in 'n slegte bui nie.
Hy ag niks onbelangrik nie.
Hy vra nooit vergoeding nie.
Hy wag op ons.

[Dankie, Nerine, vir die aanstuur hiervan.]  

Bou jou selfbeeld


* Onthou
... alles wat jy goed en reg doen, en wees trots daarop. Moenie by die negatiewe vashaak nie of by die mislukte pogings nie.
* Doen ... iets waarin jy goed is en geniet dit. Dis altyd lekker om iets te doen waarmee jy sukses behaal.
* Dink ... aan ander. Jy voel baie beter as jy iemand anders kan help.
* Ontspan ... as jy heeltyd werk sonder om te rus, gaan jy vinnig uitbrand en negatief raak en nie meer jou beste kan lewer nie.
* Wees ... dankbaar vir alles wat reg en goed is in jou lewe. Daar is altyd iemand wat swaarder as jy kry, wat met groter probleme as jy worstel.
* Belangrikste ...VERTROU ALTYD OP GOD!

Monday 22 July 2024

161 000 keer dankie vir elke e-besoeker! Ons waardeer julle!

Wie is Jesus?

° Vir die juwelier is Hy die Kosbare Pêrel ...
° Vir die bakker is Hy die Brood van die Lewe ...
° Vir die oogarts is Hy die Stralende Oë ...
° Vir die dokter is Hy die Groot Geneesheer ...
° Vir die bankier is Hy die Kosbare Skat ...
° Vir die tuinier is Hy die Herfsroos van Saron en die Lelie van die Dale ...
° Vir die koerantman is Hy die Tyding van Groot Blydskap ...
° Vir die geoloog is Hy die Ewige Rots ...
° Vir die regter is Hy die Waaragtige Getuie ...
° Vir die advokaat is Hy die Voorspraak ...
° Vir die prisonier is Hy die Verlosser ...
° Vir die dorstige is Hy die Fontein van Lewende Water ...
° Vir die landbouer is Hy die Ware Wynstok ...
° Vir die skaapwagter is Hy die Goeie Herder ...
° Vir die sterrekundige is Hy die Blink Môrester ...
° Vir die musikant is Hy die Soetste Melodie ..
° Vir die kunstenaar is Hy die Lieflikheid self ..
° Vir die treurende is Hy die Trooster ...
° Vir die sagmoedige is Hy die Prins van Vrede ...
° Vir die vermoeide is Hy die Een wat Rus gee ...
° Vir die sondaar is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem ...

[Dankie, Anoniem!]

Maandag-gedagtesaad

Sunday 21 July 2024

Dagboek: 21 Julie 2024

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

LAASTE KANS 
Kom kry 'n naam by die kantoor!
Nog net 10 name oor!
Dis weer tyd om ‘n paar kinders se harte
rondom Kersfees bly te maak.
Ons het weer hierdie jaar 50 name gekry
en nog net 10 name is oor.
Hierdie is die laaste hekkie - kom kry 'n naam.
Inligting is by die kantoor beskikbaar.
Bokse moet nie later as 30 Oktober in wees nie!!!
'n YSLIKE dankie aan elkeen wat reeds 'n 
kersboks gaan opmaak!

Mossiestilte: Wat is jou lewe werd?

Dink 'n bietjie hieroor  - daar sterf 166,859 mense elke dag! EN VANDAG WAS JY NIE EEN VAN HULLE NIE! Jy het nog 'n kans. Gebruik dit ten goede.

MATTEUS 10:29-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Die lewe gaan daaroor om in Christus te lewe. Paulus sê in Filippense 1:20-21: “... Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”

Elke dag is 'n nuwe kans wat voor jou deur gelê word. Gebruik dit - As ‘n mens nie gereed is om te sterf nie, is jy eintlik ook nie gereed om te leef nie! Dink weer mooi daaroor ...

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Oesmaande: Julie

Saturday 20 July 2024

Slaairesep: Vrugteslaai met 'n soet verskil

Bestanddele:

2 x 150 g klein malvalekkers of gewone malvalekkers in stukkies gesnipper.
1 blik mandarynstukke (indien beskikbaar)
1 blikkie fyn pynappel ("crushed pineapple")
175 ml grenadellajogurt (aarbeijogurt indien soeter verkies)

Metode:
1. Sny malvalekkers kleiner. 
2. Meng al die bestanddele saam.
3. Laat staan oornag en geniet dit die volgende dag.

Wenk:
Hierdie slaai kan ook vir poeding gebruik word.

Kerkgenotjies: Ouderlinge

Die sondagskoolonderwyseres het eendag vir die kindertjies gevra waarom hulle in die kerk moet stilsit. 
'n Baie skerp dogtertjie antwoord toe vinnig: "Omdat die ouderlinge slaap."

Friday 19 July 2024

Tabita se sop- en storieaand

Gisteraand het Tabita-dames op 'n ander manier hul 67-uitreikminute gebruik. Daar word só baie op materiële vlak uitgereik, maar diegene wat uitreik se emosionele tenks bly dikwels leeg, want in vandag se gejaagde lewe is daar nie tyd om dit op te vul en aan te vul nie. Gisteraand is daar emosionele brandstof, geloofsbrandstof en hoop uitgedeel. 

Die twee dames wat hul lewenservaring, die opdraandes en die afdraandes, die twyfel en die glo, met die ander teenwoordig gedeel het, wou vir hulle die versekering gee dat 'n mens nooit hoop moet verloor nie - al lyk die pad oneindig lank en donker - glo en beweeg net een tree op 'n slag en as jy terugkyk, sien jy dat die Here se vingerafdrukke sigbaar is. 
   
Marina Marais het haar kankerpad met die vrouens gedeel en Liesl Brown het haar pad tot heling na haar seun se motorfietsongeluk gedeel. Hierdie was hart-oopmaak-getuies. 

Marina se getuienis kan in die boekie, God maak stukkende mense heel, gelees word en Liesl se seun se berig het HIER verskyn.

As Tabita weer 'n byeenkoms het, kom kuier gerus saam en kom maak jou geloofstenk vol.

Koop gerus hierdie boekie, God maak stukkende mense heel, 2018/2019, met stories van hoop by Dutoitspan Kerkkantoor - 053 842 1100 @ 'n baie bekostigbare R50,00.