1 Thes. 4:18 - Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
Bemoedig en bou ander op terwyl jy sterk is. Ander mense probeer ook hard om kop bo water te hou, en word ook, soos jy, voor versoekinge geplaas. Lees en spreek God se woord oor ander mense uit. Bid veral vir jou gesin en familie; ons het mekaar nodig. Al gaan dit ook swaar met jou, onthou: God is steeds in beheer. Hy is jou Voorsiener, jou Geneesheer, altyd met jou, jou Bewaarder en Hy sluimer of slaap nie. Hy is jou krag en jou sterkte, jou rykdom en jou skild en pantser teen die vurige pyle van die bose. Sy engele dra jou op die hande en hulle slaan 'n laer om jou op. Hy wat by jou is, is meer as hulle wat teen jou is.
Here, God en Vader dankie vir u teenwoordigheid heeldag om my. U versadig my elke dag met u goedertierenheid. Jesus U het vir my gesterf sodat of ek waak en of ek slaap, ek leef saam met U (verg. hfst. 5:10). Ek is in alles dankbaar deur Jesus Christus (5:18). Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]