Jou gedagtes kan soms met jou weghardloop. Jy fokus soms op verkeerde dinge en dink die wêreld en omstandighede wil jou net nooit 'n kans gun om jouself te bewys nie. God wil jou verkwik, maar dan moet jy God toelaat om jou gedagtes gevange te neem. Jy moet daagliks jou gedagtes tot inkeer bring, tot bekering bring voor die genade van Jesus. God se Trooster is in jou werksaam en wil jou net troos, as jy Hom toelaat.
Heilige Gees, ek kom vanoggend weer en vertrou dat U my gedagtes sal rustig maak en in lyn met u plan sal rig. U verkwik my siel en lei my in die spore van u geregtigheid, om u Naam ontwil. My siel loop oor van blydskap omdat U my troos en bemoedig, en toerus vir u werk elke dag. U woord is 'n lamp vir my voet en is die lig vir my pad. Ek is vertroos en my siel is verkwik in Jesus Naam. Amen.
[Aangestuur deur Pieter Swanepoel.]