Hoewel hy bewus was van die koning se bevelskrif wat hom verbied het om tot sy God te bid, het Daniël drie maal op 'n dag op sy knieë geval in sy bo-kamer, met vensters wat oop was in die rigting van Jerusalem, en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy vantevore gedoen het. (Dan 6:11)
Hy was 'n man van beginsel.
Nee, hy was nie hardkoppig nie, en hy wou hulle ook nie wys dat hy sal maak soos hy wil en die landswette ignoreer nie; nee, maar sy begeerte om God te behaag en Sy guns te soek, was so sterk dat niks hom sou verhinder om sy godsdiens onverskrokke te beoefen nie. Hy kon maklik gesê het: "O, wel, ek sal maar later bid," of "Ek sal wag tot dit donker is," of "Ek sal 'n plekkie soek waar niemand my kan sien of hoor nie. Die Here sal mos verstaan!" Maar nee, sy eerbied en ontsag vir die Here het hom nie toegelaat om soos 'n lafaard sy pos te verlaat nie. Hy het vasgestaan.
Op sy eerste aand in die weermagkamp, het 'n jong seun by sy bed gekniel voordat hy gaan slaap. 'n Lywige korporaal het dit gesien en uitgeroep: "Vuur, manne!" Dadelik het die stewels uit alle rigtings op hom gereën, en allerhande voorwerpe het hom getref en om hom geval. Maar sonder om op te kyk, het hy voortgegaan om te bid. Daarop het die korporaal weer 'n bevel uitgeroep: "Staak vuur!" Toe iemand hom vra hoekom, was sy antwoord: "Hy kan vuur staan."
In ons tyd is standvastigheid op godsdienstige gebied iets seldsaams. Daarom is dit verfrissend om hier en daar iemand raak te loop wat nie skaam of bang is om die Bybelse standaarde te handhaaf en by sy Godgegewe oortuigings te staan of te val nie.
Sommige van ons staan vas in ons eie vleeslike sekuriteit, of in ons tuisgemaakte opinies en sienswyses. Menigeen skroom selfs nie om die saligheid van sy siel te verruil vir selfsugtige en stoflike oorwegings nie.
Mag God gee dat daar meer manne en vroue met ruggraat na vore sal kom om hulle stand vasberade en vreesloos vir die Here en Sy Woord in te neem. Dis nie kinderspeletjies nie; dis 'n oorlogsverklaring. Die vyand is sterk en genadeloos, maar ons dank God wat ons die oorwinning gee deur Jesus Christus.
Staan dan vas, die oë gevestig op Hom, ons magtige Here en opperste God.
