Wednesday, 1 July 2026

Mossiestilte: Ps. 27:4

Een ding het ek van die Here begeer en dit sal ek soek: Dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikhede van die Here te aanskou en te deursoek in sy tempel.

Hierdie is 'n geweldige stelling.
Daar is geen mens wat die volheid van die stelling kan verstaan of probeer uitwerk nie.
In die hemel:
Daar is 'n plek met boeke en geskrifte, wat die engele daagliks aanteken van elke deel van die skepping en daad van elke mens en wese.
Daar is engele getaak, om elke mens te bewaar en te versorg.
Daar is engele wat die volle skepping, sterre, sonne en stelsels onderhou en bewaar om God te verheerlik.
Daar is 'n verruklike paradys waarheen die kinders van God gaan.
Daar is engele wat in opdrag van die Vader oorlog maak.
Daar is wesens wat vir die mens te wonderlik van gedaante is om te verstaan.
Daar is gerubs en serafs, wat God dag en nag verheerlik en om God en sy troon vlieg en beweeg.
Daar is prag en praal wat so asemrowend is, wat geen mens homself kan indink kan bestaan nie.
Die grote van elke vlak in die hemel sal jou 'n ewigheid vat om te deurkruis.
Daar is gelowiges wat God se heerlikheid dag en nag besing saam met engele.
Daar is 'n plek waar al die gebede van gelowiges en trane getel word en gehoor word en aandag aan gegee word en opgeteken word.
Daar is 'n plek waar mense herstel, versterk, genesing en barmhartigheid ontvang.
God se skatkamer is so oneindig groot en elke skat het eienskappe van die goedheid, geweldige krag en genade en barmhartigheid van God. 
Daar is skatte wat die sondige mens sal laat sterf, as dit nie vir Jesus se genade was nie.
Daar is engele wat saam met Jesus, dag en nag intree by die Vader vir die mens.

Ek het nog net die menslike idee gegee, maar God en sy koninkryk is ver bo alles wat ons ooit kan dink of oor droom.
Daar is ook 'n plek waar die gevalle wagters vir hulle lot wag ... daar is ook 'n hel.

Jy sal nie in een leeftyd deur God se koninkryk kan kom nie. Daar is 'n deur waar die ergste marteldood van Jesus se Seun gesien kan word en die ervaring is sieldodend, en die begrip daarvan kan jou in 'n skoktoestand vir dae en weke lank verlam en net die genade van Jesus kan jou teen die tragiese gebeurtenis beskerm.

Ek glo Dawid het 'n idee gehad waarna hy gehunker het, en hy wou dit sien.

Hoe voel jy daaroor? 
Wil jy dit beleef? 
Bid God dat Hy jou oë sal oopmaak dat jy sy seëninge en guns vir jou kan beleef. 

Stap saam met Jesus deur die Heilige Gees en laat Hy jou die skatte wys wat God aan jou wil gee, ja reeds hier op aarde. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]