Monday, 6 July 2026

Die Meesterplan: SIMBOLIEK van komende week se tema - Die lewe van die nuwe mens: Liefde, Gebed en Luister

Die lig wat van bo af neerdaal, herinner dat die nuwe lewe nie by ons begin nie, maar by God wat Homself deur Christus en sy Gees aan ons gee.

Die mens en die boom vorm saam één beeld. Dit simboliseer die nuwe mens wat in Christus gewortel is en deur Hom gevoed word. Soos 'n gesonde boom natuurlik vrug dra, is die nuwe lewe ook ‘n groeiproses van binne na buite.

Die diep wortels herinner dat ons lewe in God geanker is. Die stam beeld die nuwe identiteit uit wat Hy aan ons gee. 

Die takke en blare wys hoe hierdie nuwe lewe sigbaar word in ons alledaagse leefwyse.

Hierdie week vestig die aandag op drie vrugte van daardie nuwe lewe: liefde wat na ander uitreik, gebed wat in afhanklikheid na God leef, en luister wat ontvanklik is vir sy Woord. Dit is nie drie los geestelike aktiwiteite nie, maar drie uitdrukkings van dieselfde nuwe lewe wat God in ons werk.

Die opwaartse groei herinner dat God sy mense voortdurend vorm om al hoe meer na die beeld van Christus te leef, sodat sy liefde in die wêreld sigbaar kan word.