Thursday, 26 November 2026

Dink hieroor: Ontevredenheid

Ontevredenheid is seker een van die algemeenste verskynsels in ons hedendaagse wêreld. 
* Nasies is ontevrede oor die optrede van ander nasies; 
* Onderdane is ontevrede met hul regerings en owerhede; 
* Werknemers is ontevrede met hul werksomstandighede en hul lone;
* Baie egpare is ontevrede oor hul huweliksmaats;
* en party mense is sommer net ontevrede oor dit in hul aard is.

Ontevredenheid maak die deur vir baie euwels oop.
* Dit verdring geloof, hoop en liefde.
* Dit laat ontmoediging, twyfel en bitterheid binne.
* Dit versteur die gemoedsrus.
* Dit word 'n siekte as dit vertroetel en toegelaat word.

As ons ontevredenheid in ons lewe toelaat, word ons suur en onplesierig. Ons vind fout met alles en almal behalwe onsself, en sien later beswaarlik die mooi en goeie dinge in die lewe raak.

Om te kla, raak maklik 'n aanwensel. Mense is geneig om 'n gesprek aan te knoop deur met die weer fout te vind. Op 'n vraag na iemand se welstand, kom die antwoord dikwels: "Dit help nie om te kla nie." Dit is natuurlik op sigself 'n klagte. Ander is lief om te sê: "Ek hou maar uit!" of iets dergeliks en al bedoel ons nie presies wat ons sê nie, verloën en verag ons daarmee al die goeie dinge wat ons so goedgunstiglik uit die hand van die Here ontvang en geniet.

Miskien is dit logies om van 'n ongeredde persoon te verwag dat hy ontevrede sal wees, omdat die vrede van God in sy binneste ontbreek. Maar so dikwels praat kinders van die Here die wêreldlinge goedsmoeds agterna, terwyl hulle geroep is om te midde van 'n krom en verdraaide geslag as ligte in die wêreld te skyn, deur alles sonder teëspraak en murmurering te doen. (Fil. 2:13-15)

In plaas van saam te sing in die koor wat gedurig met die voorsienigheid van die Here foutvind, behoort ons 'n gees van dankbare erkentlikheid te openbaar. Dit sal nie slegs ons laste verlig en ons beproewings draagliker maak nie, maar God sal ook daardeur verheerlik word.

[AJ Steyn]