Thursday, 15 October 2026

Tiendemaand: Gee en ontvang

Dit is deur te gee dat 'n mens ontvang.

So leer Jesus ons in Lukas 6:38: "Gee en aan julle sal gegee word." 
* Gee vriendelikheid en jy sal vriendelikheid ontvang.
* Bied hulp aan iemand wat dit nodig het, en op 'n dag sal jy weer hulp ontvang.
* Glimlag vir iemand op straat en jy sal 'n glimlag ontvang.

GALÁSIËRS 6:7 AFR53
"Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai."

Dit geld veral met betrekking tot wat ons aan God gee. God het geen behoefte aan ons geld of ons besittings nie, maar Hy eer ons gewilligheid om vir Sy saak by te dra; en Hy gee ver meer aan ons terug as wat ons bereid is om aan hom te gee.

Hy sal nooit toelaat dat ons meer gee as wat Hy gee nie, want God is niemand se skuldenaar nie. In Maleági 3:10 daag Hy ons selfs uit om Hom op die proef te stel en te kyk of Hy 'n waarmaker is van Sy Woord.

In die Nuwe Testament is daar geen duidelike bevel wat die gee van tiendes betref nie. Christus het die "moet" van die Wet tot niet gemaak en ons vrygestel om uit liefde te gee, elkeen soos sy hart hom aan drywe om te doen. Dit staan ons vry om veel meer as 'n blote tiende van ons inkomste aan Hom te wy.

Daar is baie mense wat reeds die Here se uitdaging aanvaar en Hom "beproef" het; en Hy het sonder uitsondering bewys dat Hy 'n waarmaker is van Sy Woord. En hoe meer hulle in die geloof gewaag het, hoe magtiger het God sy belofte nagekom. Ons dink byvoorbeeld aan 'n man soos Robert Gilmour Le Tourneau van die Verenigde State wat, in 'n toestand van bankrotskap, hom op hierdie teks in Maleági beroep het. Hy het besluit om nege tiendes van sy inkomste aan die Here af te staan, en EEN-tiende vir homself te hou. God het sy geloof ryklik beloon, en binne afsienbare tyd was hy 'n multimiljoenêr. Mense en kollegas het van hom gepraat as “God’s businessman.”

Dit is moontlik dat die skades wat mense somtyds ly, toegeskrywe kan word aan hul versuim om aan God die deel te gee wat Hom toekom. Hierdie pligsversuim stel hulle nie alleen bloot aan aan materiële verlies nie, maar beroof hulle ook van die seën en die glimlag van God oor hulle lewe.

[AJ Steyn]