Monday, 29 September 2025

Gebed: kom ons bid saam

Here, ek bid dat ek sal aanhou bid nadat ek amen gesê het.
Ek bid dat ek U sal sien
wanneer my oë oop is.
Ek bid dat ek U sal proe
in my oggendkoffie en laataandtee.
Ek bid dat ek U sal hoor
in die wekkers en sirenes en die mense wat lag.
Ek bid dat ek U in die draai van my maag sal voel
wanneer so baie kinders huil.
Ek bid dat ek U sal beleef
in elke heilige sekonde
van hierdie gewone dag.
Ek bid dat ek u blyplek sal bly
as ek uitloop in die straat waar ek woon.
In die Naam van Jesus Christus.

Riaan van der Merwe
(Uit: Die groot gebedeboek, Piet Naudé, 2014)